Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Vrystaat Kunstefees help om geld te kry vir projekte
Marion Holm en Margit Meyer-Rödenbeck in “Die voordele van eierwit”, ’n komedie wat danksy befondsing aanlyn aangebied kon word. Foto: Verskaf

Die Vrystaat Kunstefees het vanjaar meer as R2 miljoen vir Suid-Afrikaanse kunstenaars en tegnici verkry sodat hulle kon voortgaan om kreatiewe projekte te skep.

“Dié inspuiting vir die kunste is nie ondanks Covid-19 nie, maar danksy die virus. Ons is gedwing om vernuwend te dink en het verskeie platforms geskep wat tot voordeel van die Vrystaat-fees is, maar belangriker nog, wat talle kunstenaars nasionaal en internasionaal kreatief aan die gang gehou het,” sê Ricardo Peach, direkteur van die Vrystaat Kunstefees.

“Verskeie organisasies het in die kunste bly glo toe die ganse wêreld in onsekerheid gedompel is. Op grond van vorige suksesse het dié organisasies genoeg vertroue in die Vrystaat Kunstefees se keuse van projekte en kunstenaars dat hulle bereid was om geld te gee.”

Van die kunstenaars, wat uit hoofde van dié saaikapitaal self ook geld ingesamel het en goeie produksies op die planke kon bring, is die danser Louise Coetzer, teater- en filmmaker Deirdre Jantjies, die klankkunstenaars Sonya Rademeyer en Franco Prinsloo, en die dramaturge/akteurs Walter Strydom, Jefferson Dirks-Korkee, Marion Holm en Margit Meyer-Rödenbeck, om maar enkeles te noem.

Die sanger Magdalene Minnaar kon danksy befondsing van die Rupert-stigting aan Vrystaat Klank en Klassik deelneem Foto: Verskaf

n Belangrike aspek in die nuwe manier van doen, was die skep van platforms waar die kunstenaars hul werk kon wys, want wat is ’n kunstenaar as hy nie kan optree of uitstal nie?

“Ons het eers ’n toetsplatform geskep wat ons Snelstroomsluipkyk genoem het. Toe ons dit tot ’n professionele standaard geskaaf het, kon kunstenaars hul werk vir die literatuurfees, genaamd Vryspraak digitaal, aanbied. Klassieke musici het tuisgekom in Vrystaat Klank en Klassik en alle ander uitvoerende kunstenaars het die Snelstroom-platform tot hul beskikking gehad. Dié platform is in Hoofstroom en Vrystroom verdeel om die sowat 200 aanbiedings te akkommodeer.

Nog ’n nuwe aanlyn inisiatief was Pace (Pan-Afrika Kreatiewe Uitruiling), ’n platform waarop talle gesprekke kon plaasvind, onder meer oor leierskap in die kunste in tye van verandering. Toonaangewende kunstepraktisyns oor die wêreld heen het hier aan gesprekke deelgeneem.

Dié virtuele geleentheid het deelname vir ’n yslike 280 kunstenaars moontlik gemaak. In vorige jare kon talle belangstellendes weens die koste van reise na Bloemfontein nie deelneem nie.

Die regisseur Walter Strydom het ‘Die Besoek’, ’n vertaling van Friedrich Dürrenmatt se tragi-komedie ‘Der Besuch der alten Dame’, op die Vrystaat Kunstefees op die planke gebring. Foto: Netwerk24

Gemeet aan kaartjieverkope is aanlyn vertonings nie besonder gewild by die kykerpubliek nie, maar die internasionale reikwydte van die vertonings het tot kosbare positiewe uitkomste gelei, sê Peach.

“Kunstenaars in Korea het deur die Vrystaat Kunstefees se betrokkenheid by PAMS (Performing Arts Market Korea) kennis geneem van Suid-Afrikaanse produksies en stel belang om met ons kunstenaars saam te werk.

In Barbados is die Caribbean Collective na aanleiding van Pace met Unesco-befondsing gestig, terwyl ’n laboratorium vir die opleiding van jong vervaardigers ook aan Pace te danke is. Bekende kunstevervaardigers in Brittanje sal die klasse aanbied.

Nog ’n positiewe uitkoms is samewerking tussen die Brooklyn College se Performance and Interactive Media Arts (PIMA), die Movement Lab by Barnard College Exchange en die dramadepartement van die Universiteit van die Vrystaat. Hul projek is die kreatiewe uitdrukking van ’n radikale vermenging van mediums.

Aanlyn gebruik het vanjaar ook deelname aan internasionale feeste moontlik gemaak, soos die eksperimentele teaterfees in Kaïro, waar die Bloemfonteinse danser-akteur, regisseur en choreograaf Mark Dobson die eerste prys met die produksie Liv Die x Vukallective losgeslaan het.

Naòmi Morgan se woordkuns-bydrae tot Vrystaat Klank en Klassik is deur befondsing moontlik gemaak. Foto: Verskaf

Drie Suid-Afrikaanse projekte was ook deel van die internasionale Ars Electronica-fees in Linz, Oostenryk. ’n Kunsprojek uit Platfontein, Louise Coetzer se dansproduksie deus::ex::machina – human geography in a virtual world en ’n hibriede eksperimentele werk deur mmmcollective is aanvaar.

Peach meen die terugkeer na tradisionele teateraanbiedings is onvermydelik, maar aanlyn aanbiedings het gekom om te bly, hoewel aanvullend.

“Dit bied internasionale blootstelling aan ons kunstenaars, terwyl samewerking met kunste-organisasies elders in die wêreld ’n uitvloeisel is wat tot groot voordeel van die kunste strek,” sê hy.

Kassie

Organisasies wat die afgelope jaar deur die Vrystaat Kunstefees tot die voortbestaan van die kunste bygedra het, is Naspers, Netwerk24, die Universiteit van die Vrystaat, die Nederlandse ambassade in Pretoria, die Nederlandse Letternfonds, die Von Ewijkstigting, die Vlaamse regering, NATi, Pro Helvetia (Switserse kunsministerie), die Rupertstigting, die Kunstetrust, Dagbreektrust, LW Hiemstratrust, die Nasionale kunsteraad (NAC), die nasionale departement van sport, kuns en kultuur, Business Arts South Africa (BASA), die Nasionale Erfenisraad, die Andrew Mellon Foundation, kykNET, die Institute Francais, die Australiese hoë kommissariaat (Pretoria) en die Italiaanse Instituut vir Kultuur in Pretoria.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.