Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Vrystaat Kunstefees snel voort met sy stroomplatform
‘Spanish Fire’ deur die Montoya-dansgeselskap en die kitaarduo CH2 is een van die dansproduksies in Snelstroom.

As die pandemie ons een ding geleer het, is dit om kunstefees te hou, al is die teaters ontoeganklik. Die Vrystaat Kunstefees span vanjaar weer sy aanlyn platform Snelstroom in wat verlede jaar ontwikkel is en talle belangstellendes in ander dele van die wêreld ook die geleentheid bied om die produksies te geniet.

Dié wat dalk gedink het virtuele aanbiedings is net ’n tweederangse plaasvervanger vir werklike optredes, sal hul hande saamslaan as hulle die Snelstroomprogram onder oë kry. Dit word op 29 September bekend gestel waarna kaartjies vir die fees gekoop kan word wat van 13 Oktober tot einde November duur.

Jy gaan nie noodwendig die name van bekende akteurs hier sien nie, maar stel jou oop vir ’n aanbod van verrassende, inspirerende en stimulerende produksies wat ’n hele nuwe wêreld vir jou gaan open.

Michael Garbett, artistieke direkteur van die Vrystaat Kunstefees, sê die program is nie tradisionele teater op ’n aanlyn platform nie, dit is nuwe skeppings vir dié alternatiewe aanbieding van die kunste.

’n Verbeeldingryke Suid-Afrikaanse produksie is ‘Blomme vir Jupiter’, wat oor eensaamheid handel.

Gehore sal regstreekse optredes kan “bywoon, aan kursusse kan deelneem en met mense gesels wat hulle nooit gedink het moontlik sal wees nie”.

“Hulle sal ook kan bydra tot die skep van nuwe werke, soos ’n kortfliek.”

Soos in die verlede bestaan Snelstroom uit uitvoerende kuns, dans, kinderteater, kunsuitstallings, boekbesprekings, diskoerse, lewende en interdissiplinêre kuns en telematiese projekte.

Uitvoerende produksies – hoogtepunte

Noise in the Water is ’n multidissiplinêre dokumentêr oor vlugtelinge wat meestal in die Middellandse See omgekom het nie. Die oorlewendes is ’n

Die bekroonde komediedrama ‘The Intervention’ is veral vir diegene met familie en kennisse wat oorsee werk.

handjievol, soos die skaam Tunisiese immigrant wat nie oogkontak kan maak wanneer sy die drama rondom haar en ander se oorlewingstryd in die stormagtige see weergee nie. Die skrywer bly getrou aan dit wat hy in die Italiaanse dorpie Mazara del Vallo gehoor en sien het.

The Intervention, ’n komediedrama, gaan oor Charlotte wat na Hongkong verhuis het om ? nuwe begin te maak. Ná ’n jaar by ’n skool en met die druk van Covid-19 begin haar leefstyl as partytjiedier sy tol eis. Haar kollegas beplan met die hulp van ghoeroe Josh Zhen ’n ingryping in haar lewe – via ’n Zoom-oproep.

Hoe klink ONS is ’n poëtiese, beeldryke en simfoniese gesprek tussen vier kunstenaars en twee stede – Kaapstad en Zwolle in Nederland. Die kunstenaarsduo BotherTill en rolprentmaker Jonathan Sipkema werk saam met die Suid-Afrikaanse woordkunstenaar Jitsvinger en rolprentmaker Lindsey Appolis aan ’n unieke rolprentprojek. Hulle leer mekaar deur digitale kanale ken op grond van “Luister is kyk en kyk is luister”.

“Hoe klink stromende water vir jou? Watter lied sing die voëls in die aand? Watter geluid kruip onder jou vel in?”

Eensaamheid speel ’n rol in die roerende Blomme vir Jupiter waarin Valie, die nors nar, ’n bus na die einde van die aarde neem. Die noodlot het egter ’n ander plan om hom van sy eensaamheid te genees. Hy ontmoet die joviale Mollie en saam ontdek die twee narre die onmoontlike. Die skrywers en akteurs is Liese Kuhn en Andrico Goosen.

’n Plaaslike tradisionele teaterproduksie en ’n móét vir feesgangers is Aku vang ’n ster. Jefferson J. Dirks-Korkee lewer ’n kragtoer as Aku, wat die maan as sy ma beskou en ’n diamant as ’n geskenk van die maan. Die stuk speel op ’n afgelee¨ plekkie in die Noord-Kaap af waar huweliksontrouheid, moord en selfsug aan die orde van die dag is. Die ander akteurs is Peter Taljaard, Marijda Kamper, Dion van Niekerk en Hille´tje Mo¨ller Bashew.

Betewu is ’n solovertoning wat die geestelike gevare en sielkundige stres verken van mans wat geleer word om nie te huil wanneer hulle verwond word nie.

Jane Mpholo in ‘Sehlabelo’, oor ? koningin wat desperaat is om haar huwelik te red en in die proses deur die duiwel verlei word om met hom te dans.

’n Unieke projek is Gabbing with Gays, wat spruit uit ’n muurtekening wat as ’n vertrekpunt vir ’n gespreksforum dien. Gehoorlede sal die kans kry om met QR-kodes na die gesprekke van die LGBTQIA-gemeenskap te luister. Die projek is nie net gemik op dié gemeenskap nie, enigeen wat in emosionele intimiteit belang stel en dit wil bespreek, sal dit stimulerend vind.

Literatuurfees

Intussen is die Literatuurfees deurlopend aan die gang. Corneli van den Berg, wat die leisels as uitvoerende direkteur van die Vrystaat Kunstefees by Ricardo Peach oorgeneem het, is steeds die koördineerder van die Literatuurfees.

Sy sê aanbiedings wat reeds plaasgevind het, soos ’n gesprek met Nataniël, Ruda Landman se boeiende onderhoude met onder meer fluitjieblasers en die Vlaamse Week is op die nuwe Vrystaat Literatuurfeesgroep op Facebook te vind.

Dit sluit ook gesprekke met Antjie Krog, Rudie van Rensburg, Christelle van Rooyen-Wessels en Irna van Zyl in wat oor spanningsverhale gesels; Anoeschka von Meck en Pieter P. Fourie oor hul jongste romans; en meer onlangs, Naòmi Morgan wat Irma Joubert oor Na ’n plaas in Afrika, haar laaste boek in die oorlogstrilogie, uitvra.

Ander skrywers na wie geluister kan word, is SP Benjamin, Zandra Bezuidenhout, Zelda Bezuidenhout, Susan Coetzer, Chris Karsten, Tembeka Ngcukaitobi, Freek Robinson, Rolene Strauss, Francois Smith, Ronel van der Watt, Rudie van Rensburg, Irma Venter en Fanie Viljoen, om maar enkeles te noem.

Twee tot drie gesprekke word elke maand regstreeks gestroom en sal nog tot Mei 2022 duur.

* Belangstellendes kan by die literatuurfeesgroep op Facebook by https://bit.ly/litfees_facebook aansluit om op hoogte van komende gesprekke te bly.

* Kaartjies vir die Snelstroom-program sal van 30 September op Webtickets te koop wees. Op Webtickets is ’n skakel wat na die Vrystaat Kunstefees se Snelstroom-program lei, waar jy ’n kaartjie vir die produksie van jou keuse koop. Daarna sal jy ’n skakel ontvang wat toegang tot die aanbieding verleen.

Dit is dan vir 48 uur tot jou beskikking en jy kan soveel keer as jy wil daarna kyk, hetsy op jou slimfoon, televisie of rekenaar.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.