Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Vrystaat Literatuurfees bied talle keuses aanlyn

Die sowat 40 aanbiedings van die Vrystaat Literatuurfees wat oorgebly het nadat Covid-19 toegeslaan het, is “ ’n bron van kosbare kennis op verskeie gebiede”. Dit is juis die uiteenlopende verskeidenheid waaroor Corneli van den Berg, die koördineerder van Vryspraak Digitaal, opgewonde is. Die fees word van 1 tot 22 September virtueel aangebied.

Die Poolse skrywer Jerzy Koch, wat in Afrikaans gepubliseer het.

Van den Berg sê die program vir die fees wat in Julie op die Kovsiekampus in Bloemfontein gehou sou word, was feitlik voltooi toe die ramptoestand afgekondig is en teaters, lokale, deure en grense gesluit word. “Ons moes alles herbedink vir die virtuele fees, maar al wat op die ou end in die slag gebly het, is werksessies en besoeke aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Naln). Die beplande boekbesprekings en diskoerse kon volledig behou word.”

Een van die opwindendste hoogtepunte op die fees is volgens Van den Berg die Poolse skrywer Jerzy Koch wat oor sy onlangs verskene Afrikaanse digbundel Pleks van plaas sal gesels. Koch is die hoof van die departement Nederlandse en Suid-Afrikaanse studies aan die Poznan-Universiteit in Pole. Daniel Hugo lei die gesprek.

Soos al die boekgesprekke en diskoerse is dit vooraf opgeneem en word dit om 11:00 op ’n bepaalde dag uitgesaai. ’n Kaartjie vir die “bywoon” van die gesprek gee ook toegang tot ’n regstreekse Zoom-uitsending wat op dieselfde dag om 15:00 na Facebook gestroom word. Dié platform gee die publiek die geleentheid om met die skrywers en ander deelnemers in gesprek te tree.

Die formaat geld al die skrywersgeleenthede en diskoerse op vanjaar se fees.

Ander aanbiedings wat Van den Berg uitsonder, is dié van Kobus Geldenhuys wat oor Die heerser van die ringe gesels, sy vertaling van JRR Tolkien se Lord of the Rings, Christine Barkhuizen-Le Roux en Anchien Troskie wat oor die verbeeldinghorisonne van skrywers van romantiese verhale gesels, Irna van Zyl en Anel Heydenrych wat spanningsverhale onder die loep neem en Madré Marais, Jolyn Phillips en Tildie Smit se gesprek oor kortverhale. Marais, ’n taalredigeerder by Sentraal24 in Bloemfontein, het onlangs met die bundel Luistervink gedebuteer.

Jolyn Philips wissel menings oor kortverhale met Madré Marais en Tildie Smit. Foto’s: Netwerk24
Francois Smith praat oor sy nuutste roman, ‘Die kleinste ramp denkbaar’.
Antoinette Louw lees voor uit haar kinderweergawe van ‘Racheltjie de Beer’.
Petrovna Metelerkamp gesels oor Jeanne Goosen wat onlangs oorlede is.

Francois Smith, skrywer van Kamphoer, word aan die woord gestel oor sy nuutste roman, Die kleinste ramp denkbaar, en Charles Smith, Netwerk24-nuusredakteur in Bloemfontein, sal Petrovna Metelerkamp uitvra oor haar biografie Jeanne Goosen – ’n lewe vol sinne. Goosen was ’n hoogs begaafde skrywer en eksentrieke karakter.

Minder aangename onderwerpe, maar werklikhede in ons samelewing, is Huis van gruwels deur Susan Cilliers wat handel oor die kinders van ’n gesin wat in Springs deur hul ouers aangehou en verniel is, terwyl Jana Marx, skrywer van Afspraak met moord, oor die kultusmoorde in Krugersdorp gesels en Charné met André le Roux oor Kinders wat moor: wie se skuld is dit?

’n Gesprek waarop alle wit mense volgens Van den Berg behoort in te skakel is dié oor Black Tax: Burden or Ubuntu. Rea Mokone, Sue Nyathi en Lindani Gobingca sal meer vertel oor dié kardinale aspek van ons landgenote se lewe.

Ruda Landman lei diskoerse oor verskeie gewigtige kwessies: “ANC-politiek en ons almal se toekoms” met Jan-Jan Joubert en Oscar van Heerden; “Om te boer in 2020”; “#Imstaying” wat Suid-Afrikaners sal bemoedig.

In Kinderstorie-uur kan geluister word na Die storie van Racheltjie de Beer, wat die aktrise Antoinette Louw geskryf het en self voorlees.

In die voorwoord van Vryspraak Digitaal sê Van den Berg sy dra die fees op aan haar pa, Dirk van den Berg, emeritusprofessor in die departement kunsgeskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat, wat by haar ’n liefde vir boeke gekweek het.

Dirk van den Berg kry die geleentheid om met die Roemeens-Nederlandse skrywer Mira Feticu oor Picasso’s keerzijde te gesels, die ontvouing van bedrog waarby Feticu onwetend betrek is ná die diefstal van Picasso-skilderye.

  • Die volledige program sal spoedig op die webwerf www.vrystaatkunstefees.co.za te vinde wees.
  • Alle kaartjies kos R15 en gee toegang tot die opgeneemde gesprekke wat vir 48 uur beskikbaar is, asook die interaktiewe uitsending. Dié uitsending volg enkele ure ná die opname. Bespreek by Webtickets.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.