Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
VS-fees se fliekprogram ’n wêreldoes
Twee jeugvriende wat hul seksualiteit ontdek in die Yslandse fliek Heartstone.

Rolprente op vanjaar se Vrystaat Kunstefees gaan weer die wêreld voor jou oopvou met ’n verskeidenheid wat die meeste smake sal tevrede stel.

Twee rolprente het sterk bande met onlangse gebeure op die rolprentfront.

Met die dood van die gevierde Franse regisseur Agnès Varda (op 90) neem die wêreld opnuut kennis van haar sonderlinge styl. Sy en die fotograaf JR het saamgespan en mense op die Franse platteland afgeneem en dan reuse-afdrukke gemaak wat op geboue geplak is. Iets vir die kunssinniges, ja, maar as jy ook in mense en plekke belang stel, moet jy dit nie misloop nie. Faces Places was haar voorlaaste fliek en is by tye ontroerend.

Matteo Garrone se Dogman, wat verlede jaar op die Cape Town International Market and Film Festival gewen het, het onlangs nege David di Donatello-pryse verower (die Italiaanse Oscar).

Faces Places, ’n sonderlinge fliek wat die Franse regisseurAgnès Vardaop 90-jarige ouderdom gemaak het.

Die held van dié Italiaanse treffer is ’n nederige mannetjie wat na honde omsien. Hy het ’n vreemde vriendskap met ’n yslike bokser – hy moet net altyd gee, anders treiter die groot man hom. Tot die dag wat hy besluit genoeg is genoeg. Die prent het sy kwota geweld, maar die honde bly darem gespaar.

Ná die gewildheid van verlede jaar se operafliek word Donizetti se Don Pasquale vanjaar vertoon. Dit het egter iets spesiaals – twee kunstenaars wat verlede jaar in die Odeion opgetree het, is deel daarvan. Eva Mei sing die hoofrol en haar man, Gérard Korsten, dirigeer. Dis ’n komedie, verwag dus musikale pret.

Drie rolprente het vanjaar gay en transgender karakters. Heartstone handel oor twee tienervriende wat hul uiteenlopende seksualiteit ontdek wat hul vriendskap kan ruïneer. Dit is ’n ontroerende fliek wat terselfdertyd goeie insig in die lewe in Ysland bied.

The Wound handel oor ’n gay-verhouding tydens ’n Xhosa-inisiasieskool in die berge wat tragies eindig. Dit het verlede jaar ’n storm ontketen, onder meer weens betogings, tradisionele leiers se besware en ’n ouderdomsperk soortgelyk aan dié van harde pornografie wat opgelê is, wat ná ’n hofbevel verander is.

Sweet Bean is ’n hartroerende Japanse prent oor drie eensame mense.

A Fantastic Woman is ’n Chileense fliek oor ’n transgender vrou wat ná haar geliefde se dood deur sy familie verwerp word en van vooraf moet veg om haar regte as mens.

Vanjaar se dokkie, Even When I Fall, handel oor Nepalese kinders wat na Indië weggevoer word om in sirkusse op te tree. Twee van hulle, vroue, keer jare later terug na Nepal, maar kan net dit doen wat hulle geleer is – dus begin hulle die land se eie sirkus.

Ander flieks is kortliks: Loveless (Rusland) oor ’n egpaar wat skei wie se seun vermis raak – ’n onlangse werk van Andrey Zvyagintsef van wie Elena ’n paar jaar gelede op die fees vertoon is; Cold War, ’n pragtig verfilmde romantiese Poolse fliek oor twee musikante wat verlief raak (die regisseur se vorige treffer, Ida, was voorheen op die fees te sien); Lean on Pete oor ’n alleenloperseun wat ’n grootmensbesluit neem om ’n perd te red; Sweet Bean kom uit Japan, ’n hartroerende fliek oor drie eensame mense; The Lesson (Roemenië) is ’n verrassend spannende verhaal oor ’n onderwyseres wat alles sal doen om haar gesin se huis te behou; Sweet Country (Australië) kyk na rassisme in sy setlaarsjare as ’n inboorling ná ’n boer se dood gejag word (die landskappe is asemrowend verfilm); en Danie Bosman (Suid-Afrika) is ’n musiekprent oor die lewe van dié eertydse komponis, met Franx Marx en Min Shaw.

Uit die Midde-Ooste kom twee flieks – die ontstellende Insyriated wat die lewe van ’n vasgekeerde familie in gebombardeerde Sirië spannend skets; en Inversion (Iran) waarin ’n jong sakevrou deur haar familie gevra word om alles te los om haar ouma op te pas; net omdat sy die ongetroude een is.

Meer oor:  Innibos  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.