Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
VS vier vanjaar vindingryk fees

As kunstenaars een ding geleer het uit Covid-19, is dit om planne te maak.

Die organiseerders van die Vrystaat Kunstefees (VK) het soveel planne gemaak dat hulle vanjaar hul grootste fees tot nog toe aanbied.

By die aankondiging van die nasionale staat van inperking in Maart was die VK reg om na vyfde rat oor te skakel met ’n volledige program wat al na die drukkers op pad was.

Dr. Ricardo Peach, direkteur van die Vrystaat Kunstefees, en Atie Kamper, organiseerder van die aanlyn kunsmark Wolkewinkel juig oor die kunstefees se sukses te midde van vanjaar se uitdagings.Foto: Priscilla Kruger

Dr. Ricardo Peach, direkteur van die VK, sê hulle het besef dat hulle ’n nuwe struktuur sal moet skep sodat geld vir projekte verkry kan word en kunstenaars sodoende geld kon maak.

“Ons het net besluit ons moet dit doen. Ons moet ’n manier vind om veral projekgeld te kry waar ons ook al kan om kunstenaars die kans te gee om nuwe werk te skep. En ons moes platforms skep waarop die nuwe werk gesien kan word.”

Hy meen dit is baie meer volhoubaar en beter vir kunstenaars se gemoed as werk geskep word as wat hulle byvoorbeeld om geld uit ’n bystandsfonds moet aansoek doen. “Dit is so moeilik om ’n bestaan te maak as jy nie voor ’n gehoor kan staan nie. Ons moes ’n ander manier kry om hulle te ondersteun, want wie weet wanneer ons werklik uit hierdie inperking sal kom. Ons het die vermoë, ons het die kennis, ons het die platform en ons moet dit doen.”

Peach sê hulle het sowat ’n week ná die aankondiging van die staat van inperking aanlyn met gesprekke begin en begin eksperimenteer om te hoor hoe ander organiseerders en kuns­tenaars die tydperk ervaar en wat die behoefte is. Daarop het maandelikse gesprekke gevolg wat mettertyd gewilder geword het.

Die fees het sy eerste aanlyn proeflopie, Snelstroomsluipkyk, met ’n hele paar produksies in Junie aangebied. Talle plaaslike kunstenaars was betrokke en feesorganiseerders kon verskillende uitsaaiplatforms beproef en bepaal hoe kaartjieverkope bestuur sou word.

Peach sê die reaksie op die oefenlopie het verstom en hulle het geweet hulle is op die regte pad.

Pan-Afrika Kreatiewe Uitruil (Pace), waar nuwe produksies in verskillende stadiums van ontwikkeling voorgelê en idees tussen vervaardigers uitgeruil word, het daarop gevolg. Benewens deelnemers van Suid-Afrika, was daar ook verteenwoordigers van Namibië, Zambië, Nigerië, Rwanda, Senegal, Egipte, Ethiopië, Amerika, Brittanje, Australië en België.

Volgende aan die beurt was VrySpraak-digitaal, Suid-Afrika se eerste digitale boekefees. Sowat 60 skrywers het aan 45 aanbiedings deelgeneem waarvan sommige vooraf opgeneem en ander direk uitgesaai is.

In September is daar onder meer elke dag twee regstreekse gesprekke op die platform aangebied.

Van 1 tot 6 Oktober is die fees se eerste Vrystaat Klank en Klassik met groot sukses aangebied.

Musici soos Magda­lene Minnaar, Anneke Lamont, die Odeion-strykkwartet en die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) het uitvoerings gelewer, asook dosente en topstudente van die Odeion Skool vir Musiek van die Universiteit van die Vrystaat (UV).

Vandeesweek is Snelstroom aan die beurt. Dit bestaan uit Hoofstroom en Vrystroom, wat gegrond is op die VK se hooffeesprogram en Vrynge.

Die uiteenlopende aanbod bring wêreldverhoë tot in jou voorkamer, sê Peach. Daar is onder meer aanbiedings uit Iran, Hongkong, Londen, New York en Singapoer.

Peach sê daar is ook spesiale opdragwerke vir die fees geskep waarna feesgangers kan uitsien, asook talle gratis vertonings. Daar is selfs ’n aanlyn kunsmark, Wolkewinkel, waar feesgangers digitaal kan rondsnuffel.

Snelstroom het reeds begin en duur tot 13 November.

  • Besoek vrystaatkunstefees.co.za vir die volledige program.
Meer oor:  Vrystaat Kunstefees  |  Ricardo Peach  |  Kunstenaars  |  Inperking  |  Fees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.