Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Wroeging by fees oor God en bonatuurlike

Wat gebeur as die mat onder ’n predikant uitgeruk word en hy nie meer kan glo wat hy preek nie?

Abel Pienaar (regs) Maandag in gesprek met ds. Jan Lubbe van die NG kerk Berg-en-Dal oor sy jongste boek, Die oorkantste oewer: spiritualiteit anderkant godsdiens. Foto: Mlungisi Louw

Die skrywer Abel Pienaar het met dié vraag en ’n reeks ander geworstel toe hy as leraar by ’n NG makro-gemeente ’n tante op haar sterfbed besoek het.

Haar vrees vir die hel het hom nie net laat wonder oor die hiernamaals nie, maar ook oor alles wat hy van kindsbeen geleer is.

Pienaar het Maandag op die Vrystaat Kunstefees met ds. Jan Lubbe van die NG gemeente Berg-en-Dal gesels oor sy jongste boek, Die oorkantste oewer: spiritualiteit anderkant godsdiens. Flip Schutte is die medeskrywer.

Die hoofstukke in die boek, oftewel meditasies, lei die leser na die oewer van spiritualiteit, wat ’n Buddah-geïnspireerde konsep is.

Pienaar glo daar is ’n beweging van Suid-Afrikaners wat nie meer tevrede met die tradisionele Christelike narratief is nie.

Talle belangstellendes in die gehoor het vrae gevra en gedagtes uitgeruil oor bewussyn, waarheid en wroegings oor ’n God wat in beheer is.

Pienaar beskryf homself as ’n “gewese professionele God-jagter”.

Sy sielereis het hom na die wysheidtradisies geneem en só het hy by die ou Chinese bronne geëindig.

Hy wil gelowiges aanraai om “verby die swembad van godsdiens te beweeg” en “in die see na die oorkantste oewer te roei”.

Spiritualiteit het niks te doen met ’n verstaan van ’n God nie. Dit gaan daaroor om sin te vind in die hier en die nou.

“Die ding wat jou nou net gered het, kan jou dood veroorsaak. Moenie vasval nie, daar is iets meer, daar is momentum.”

Tog verwerp hy nie die idee van God nie. Dit is die bonatuurlike waarmee hy hom nie kan vereenselwig nie.

“Spiritualiteit het niks te doen met ’n verstaan van ’n God nie. Dit gaan daaroor om sin te vind in die hier en die nou.”

As jy dít vertolk, sien jy ewe skielik Jesus se woorde, en dit maak sin.

“Die Christendom het in die eerste vierhonderd jaar van Christus bekend gestaan as die mense wat omgee; wat vir armes sorg en mense in die tronk besoek. Later het dit ’n belydenisding geword, ’n soort credo, maar jy kan doen wat jy wil.”

Godsdienste het die woord spirit van spiritualiteit gekaap. “Alles het ’n element van spiritualiteit. Vir my werk die bonatuurlike nie. Die vlak van spiritualiteit lê in die hier en die nou.”

Godsdiens as vlot het uitgedien geraak, en nou begin dit negatief raak.

Pienaar glo om met minder sekerheid te praat is die toekoms. “Al wat ons het is hierdie oomblik en hierdie tree. Die grootste geskenk is om hier te wees vir mekaar.”

Meer oor:  Vrystaat Kunstefees  |  Abel Pienaar  |  Bloemfontein  |  Fees  |  God
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.