Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Vrystaat Kunstefees
Ysige fees-afskop skrik niemand af nie!

Die 19de Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein het op ’n koue noot begin, maar vir die feesgangers, kunstenaars en die feesdirekteur, Ricardo Peach, is dit nie ’n afskrikmiddel nie.

Sandra Prinsloo met die boek wat verwerk is tot die verhoogdrama Kamphoer – die verhaal van Susan Nell wat vandeesweek op die Vrystaat Kunstefees debuteer. Kaartjies is nog beskikbaar. Foto: Mlungisi Louw

Die sangeres Anna Davel sê “dis brrr, maar lekker hier” en die aktrise Ilne Fourie sê “koue weer, warm shows”.

Peach meen sodra die eerste ware koue van die winter toeslaan, weet die mense dit is feestyd en dan kom hulle, want die konkas in kuierplekke, onder meer die Blêrkas, en in die Literatuurfeestent skep ’n gesellige atmosfeer wat op geen ander fees in Suid-Afrika bestaan nie.

“Die knusheid wat gepaardgaan met ’n fees in die winter is vir besoekers ’n spesiale ervaring.”

Volgens Peach is die kaartjieverkope beter as verlede jaar, wat ’n bewys is dat die koue nie ’n negatiewe invloed het nie. Die geroesemoes die hele dag by die Computicket-toonbank in die Odeion bevestig dit.

Vertonings wat reeds uitverkoop is, is die soloproduksie Sê groete vir ma, met die Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk, en die kinderproduksie Hans Haas help!.

Drie vertonings van Die voordele van eierwit met Margit Meyer-Rödenbeck en Marion Holm is uitverkoop en die kaartjies vir die oorblywende vertonings vlieg, sê Peach.

Net enkele plekke is nog beskikbaar­ vir Drie van die bestes­ waarin die sangers Mathys Roets, Danie Niehaus en Kevin Leo ná 21 jaar weer saamspan.

Dieselfde geld Babah go Round. Dié besonderse aanbieding deur Schoemé Grobler is ’n teater-ervaring vir babas van vier maande tot twee jaar oud en hul voogde. Voorwerpe en klassieke musiek word gekombineer om die verbeelding van die kleintjies volgens hul ontwikkelingsfases te prikkel.

Kaartjies vir Kamphoer, ’n debuutproduksie met Sandra Prinsloo, verkoop ook flink, sê Peach. Dié solovertoning is geskoei op die Vrystater Francois Smith se gelyknamige roman wat met die ATKV-prosaprys in 2015 bekroon is.

Hoewel vertonings gister begin het, open die stalletjies eers vandag en sal alle eetplekke ook gereed wees vir besoekers.

  • Die weervoorspelling vir vandag is ’n maksimum van 14 °C, dus warmer as gister se 11 °C. ’n Gemiddelde dagtemperatuur van 18 °C word vir die res van die week voorspel.
Meer oor:  Vrystaat Kunstefees  |  Bloemfontein  |  Fees  |  Koue  |  Weerstoestande  |  Weerdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.