Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
André Schwartz deel liefde, hoop op verhoog

'André Schwartz: Die pad' het die noodwendige olifant in die kamer gehad. Hy het sy pad van kleintyd tot nou Vrydag op ’n soel someraand met ’n gehoor in die Spier-amfiteater in Stellenbosch gedeel. Mariana Malan het die aangrypende konsert van hoop bygewoon.

André Schwartz

Hy moes eintlik nou al in ’n rolstoel gewees het. Tog staan hy nog sy blinkleerskoene op die verhoog vol. Dis liefde wat hom die afgelope tyd gedra het, sê hy. Liefde en hoop.

André Schwartz was al in vele gedaantes op die verhoog – van die Phantom in The Phantom of the Opera tot Captain Von Trapp in The Sound of Music. Maar eintlik steek hy in die geheue vas as die man wat met bruisende energie en oorgawe sy treffers, liedjies uit musiekspele en ligte klassieke liedjies gesing het.

Hierdie keer was die deernis en geesdrif meer as die energie. Dit was ’n aand met stories van hoe hy grootgeword het; bakens en rigtingwysers langs die pad en mense wat sy lewe beïnvloed het.

Die Alabama-studentegeselskap se konserte waarna sy ouers hom geneem het, sy deelname aan die destydse kinderprogram Kraaines, ’n ontmoeting met Gé Korsten, die eerste keer wat hy Jacques Brel se musiek gehoor het, Koos du Plessis se musiek wat hom onverwags gegryp het, maak deel uit van dit wat stukkie vir stukkie die groter prent van sy lewe gevorm het.

Sy verhaal en die keuse van sy liedjies het ’n mens toegelaat om jou eie interpretasie aan die storie agter die storie te soek. Hoeveel keer hy ook al gesê het dit gaan goed, selfs fantasties met hom, was elkeen bewus van ’n tikkie melancholie.

Toe hy sing van die pad wat kronkel vir kronkel geloop moet word al word elke tree later pynlik, het jy in die pyn gedeel. Deur musiek vertel hy van val en opstaan, van ’n pad wat al te ver geloop is om om te draai en waar jy net vorentoe kan gaan om alles enduit te sien. Tog laat hy jou saam met hom glo in ’n tweede kans, in hoop en liefde wat heling bring.

Wat jy saam met jou huis toe geneem het, was sy les: “Gee om vir mense. As jy iemand sien wat liefde nodig het, reik uit. Jy weet nie watter verskil dit aan sy lewe gaan maak nie.”

Schwartz self weet waarskynlik nie watter rol hy al in ander se lewens gespeel het nie. Hy kon Vrydagaand die applous hoor, maar die werklike waardering lê in elkeen wat na hom gaan luister het se harte.

  • André Schwartz: Die pad was slegs vir een vertoning op die Toyota US Woordfees. Dit word weer op 25 en 27 Maart by die Klein Karoo Nasionale Kunsfees aangebied.
Meer oor:  Musiek  |  Toyota Us Woordfees  |  Woordfees2020  |  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.