Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Bekroonde ‘Valsrivier’ vind sy weg na verhoog
Toyota US Woordfees
Anna-Mart van der Merwe, Wiseman Sithole, Stian Bam en Peggy Tunyiswa en (voor) Robert Hindley en Tinarie van Wyk Loots in ‘Valsrivier’. Foto: Lindsey Appolis

Dominique Botha se bekroonde roman Valsrivier oor haar broer, ’n ongepubliseerde digter wat jonk aan ’n oordosis heroïen dood is, debuteer as toneelstuk op die Toyota US Woordfees in Stellenbosch.

Janice Honeyman is die regisseur van dié stuk wat die verhouding tussen Botha en haar broer, Paul (1970-1997), en hul ouers uitbeeld, te midde van ’n ontwaking van ’n politieke bewussyn.

Die roman beskryf die lewe op die plaas Rietpan, in die Vrystaat, en sibbe wat na ’n kosskool in Natal gaan.

“Die verhouding tussen die broer en suster fassineer my, sowel as die reis waarop hulle gaan,” sê Honeyman oor dié produksie van Theatrerocket, bekend om bekroonde produksies soos Kamphoer en Die reuk van appels.

“Paul was charismaties en ’n wonder van ’n kind, maar ook met soveel probleme.”

‘Valsrivier’ deur Dominique Botha.
Janice Honeyman
Saartjie Botha

Akteurs soos Anna-Mart van der Merwe en Tinarie van Wyk Loots tree hierin op.

Saartjie Botha, feesdirekteur van die Woordfees, het ses maande aan die verhoogverwerking bestee.

“Ons het gesels met Dominique en haar familie,” sê Botha.

“Uiteraard doen ons dit nie vir hulle nie, maar ’n mens wil die regte vrae aan hulle stel. Dit is ook ’n Bildungsroman in ’n baie spesifieke tydperk. En die Vrystaat is anders as enige ander deel van Suid-Afrika. En hier is ’n gegewe van kinders in hierdie omgewing wie se ouers politiek bewus en betrokke is.”

“Almal kan nie in die storie wees nie. En dit was ’n beginselbesluit om elke akteur net een karakter te laat speel. Daar is beperkings op die verhoog, maar ’n mens wil met ’n ongedefinieerde ruimte die verbeelding verder prikkel.”

Die roman sluit poësie in.

Honeyman ag die woord baie belangrik op die verhoog.

“Ek glo die woord in ’n opvoering kan boekdele spreek en wêrelde skep.”

Honeyman het eers die Engelse weergawe van die roman en daarna die Afrikaanse een gelees.

“Ek hou van die Afrikaanse weergawe. Dis aards. Die stories wat in die oorspronklike Afrikaanse roman gedeel word is minder delikaat as in die Engelse vertaling.

“Die Vrystaatse landskap is baie sterk teenwoordig in die roman.

“Op die stel werk ons met kleur en tekstuur. Ons beskryf dit en dis vir die gehoor om te verbeel. En die Vrystaat is inderwaarheid kleurvol as jy op die regte tyd van die jaar daar is. Die stuk het ook te doen met water, die Valsrivier.”

Dominique Botha

Dominique Botha is baie nuuskierig oor hoe die verhaal op die verhoog daar sal uitsien.

Botha noem haar boek ’n roman, maar dit is hoofsaaklik ’n biografiese vertelling.

“Ek het met die skryf daarvan besef ek sal dinge moet bylieg om dit leesbaar te maak. Was daar ’n donderstorm? Watter tyd van die jaar was dit? Daardie goed is iets wat jy absoluut uit jou duim uit moet suig. Dis amper die onbelangrike goed wat nie noodwendig ’n getroue weergawe van die verlede kan wees nie, want dit is nie opgeteken nie.

“As ek sê lieg of opmaak, bedoel ek nie ’n leuen nie. So wanneer jy so ’n storie skryf en dit in ’n leesbare formaat verpak, is jy eintlik besig met die kuns van fiksie.”

Die belangrike feite en gegewens is wel nie verander nie.

Dominique was ook bewus van hoe herinneringe mettertyd vervaag en verander.

“My herinneringe strook nie noodwendig met my (ander) broer Christiaan s’n nie. Dit is byna ’n wetenskaplike ding – mense se geheue verander oor tyd. Jy onthou dieselfde dinge op verskillende maniere, afhangende van hoe jy emosioneel daaroor voel.”

Die anders spelers is Stian Bam, Robert Hindley, Wiseman Sithole en Peggy Tunyiswa.

  • Vertonings in die Adam Small-ouditorium is op 6 Maart om 13:00, op 7 Maart om 20:30, op 8 Maart om 10:00 en 12:30, op 9 Maart om 16:30, op 10 Maart om 20:00 en op 11 Maart om 10:00 en 13:00. Kaartjies kos R150 tot R190 aanlyn en R220 by die deur. Bespreek by Computicket. Die produksie het ’n ouderdomsbeperking van 16.
Meer oor:  Woordfees2020  |  Woordfees  |  Teater  |  Saartjie Botha  |  Valsrivier  |  Boeke  |  Dominique Botha
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.