Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Ton Vosloo by US Woordfees
‘Daar was ’n pad om te loop in SA’ – Ton Vosloo
Ton Vosloo luister gister by die US Woordfees op Stellenbosch na ’n vraag van prof. Lizette Rabe.Foto: Jaco Marais

“ ’n Leier is in wese alleen en jy moet jou dinge uitwerk en jou beleid gaan verkoop.”

Só het Ton Vosloo Vrydagmiddag by die US Woordfees op Stellenbosch aan prof. Lizette Rabe gesê oor sy eerste jare as besturende direkteur van Naspers (van 1984 af) en die besluite wat in daardie tyd geneem is.

“As Naspers gefaal het, was hierdie land in ’n Armageddon gewees.”

Vosloo was 23 jaar lank voorsitter van Naspers en het 32 jaar lank in die mediareus, wat hy tot ’n multinasionale maatskappy opgebou het, se direksie gedien.

Die selferkende “oer-joernalis” is as oudredakteur en sakeman moontlik Suid-Afrika se grootste mediaman.

Rabe, voorsitter van die departement joernalistiek, het met Vosloo, wat in 2015 aangestel is as ereprofessor in die departement, gesels oor sy lewe en werk.

Rabe het die gesprek begin deur die vraag op almal se lippe te vra. Waar het dit alles begin?

Vosloo het sonder ’n pa grootgeword op Uitenhage in die Oos-Kaap.

“Ek moes uitspring, 06:00 opstaan en die dag se vleis gaan koop by die slaghuis sodat my ma aan die gang kan kom en so het ek ’n koerantverkopertjie geword vir Die Oosterlig. Ek het oorkant die stasie my staanplek gehad en die koerante het drie pennies gekos waarvan ek een pennie kon hou.”

Die wêreld van nuus en boeke het hom as kind al aangetrek.

Dit was die vloekwoord daardie tyd, liberalisme.
Ton Vosloo

“Ek wou ’n joernalis word. Dit was maar altyd my wens.”

Nadat hy op skool vir Engelse koerante begin berigte skryf het, het hy, toe hy reeds in die staatsdiens in Pretoria ’n pos beklee het, die geleentheid gekry om in te staan vir ’n familievriend wat ’n korrespondent was vir Die Oosterlig – die Oos-Kaapse koerant wat later by Die Burger ingelyf is.

“Ek het altyd die mening gehad om ’n koerantman te word en ek kon dit toe doen ná ’n kort draai in Pretoria.

“Ek het ’n paar berigte geskryf wat die voorblad gehaal het, toe kry ek ’n opdrag van die redakteur wat my vra om my by die redaksie aan te sluit,” het Vosloo gesê.

Hy het ’n telegram aan sy werkgewer in Pretoria gestuur om onmiddellik te bedank.

“Ek het daarna nooit teruggekyk nie.”

Vosloo was later in die stormagtige politieke tyd tussen 1977 en 1983 redakteur van die noordelike dagblad Beeld, waarvan hy ’n stigterslid was.

In 1984 het hy die pen neergelê en het hy as besturende direkteur van Naspers onmiddellik aksie geneem.

Naspers het onder sy leiding, in Rabe se woorde, “oor die kleurgrense” gegaan en die Engelse koerante City Press en die tydskrifte Drum en True Love gekoop.

“Daar was geweldige agterdog oor ons motiewe,” het hy aan Rabe gesê.

“Dit was moeilike dae. Baie mense, ons lesers en die publiek het dit ook nie verstaan nie, maar jy moes maar die leiding neem.”

Die een ding wat Vosloo na sy mening seminaal verander het, was toe hy van 1970 tot 1971 as politieke beriggewer met ’n Niemann-beurs na Amerika is.

“Daar is gesê die Niemann-beurs maak van al die Afrikaanse joernaliste ’n klomp liberaliste.

“Dit was die vloekwoord daardie tyd, liberalisme.”

Die jaar wat hy in die buiteland deurgebring het en Suid-Afrika van daar kon aanskou, was vir hom ingrypend.

“Jy moet ’n klipkop wees as dit nie jou denke beïnvloed nie en dit het myne beïnvloed. Ek het toe net besef as ek terugkom na Beeld, wat ook al ek doen, is daar ’n pad om te loop.

“Ons kan nie so uit pas wees met wêreldstrome nie, en ons was. Suid-Afrika was.

“Dit het ’n seminale invloed gehad op my denke vir die jare daarna ook.”

Meer oor:  Us Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.