Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Die lewe is toevallig . . . en ’n wonder – John Miles

“Ek weet nie eintlik wat ek doen nie . . . ek stel ook nie werklik belang of ek regmerkies hier of daar kry nie.”

Aan die woord is die deurwinterde skrywer John Miles, wat Dinsdag met Thys Human in die ATKV-boektent op die Woordfees in Stellenbosch gepraat het oor sy jongste roman, Op ’n dag, ’n hond.

Human het Miles gepols oor sy werkswyse en die neem van nota’s terwyl hy aan ’n roman werk.

“As die gevolg Op ’n dag, ’n hond is,” het Human skertsend gesê, “is ons baie bly jy weet nie wat jy doen nie.”

Oor sy hoofkarakter in die roman en sy benadering tot die teks het Miles gesê hy stel nie belang in “hy sê, sy sê” nie.

“Daar moet ’n sinvolheid wees, daar moet ’n interpretasie wees aan die handeling en aan die gesprekke.

“Hierdie onderwyser (die hoofkarakter) is baie onderwysers. Hy’s naamloos en hy’t ’n lessie te leer. Maar soos ’n goeie onderwyser besef hy in die Engelse uitdrukking ‘lessons are taken, not given’.”

Miles sê hy hoop hy kry dit reg, maar hy verwag van die leser om bietjie na te dink oor die implikasies van “die hond” in die roman.

In antwoord op die vraag oor die rol van toeval in die boek, sê Miles die goeie stoïsyne sê ’n mens moet ’n onderskeid tref tussen dit waaraan jy iets kan doen, en dit waaraan jy nie iets kan doen nie.

“Om gebore te word, daaraan het jy geen aandeel nie. Dis toevallig dat jy wit is en dat jy ’n man is – jy kan niks daaraan doen nie.

“As jy eenmaal aanvaar dat die lewe toevallig is, dan kan jy die wonder begin waardeer, want dis eenmalig. Hierdie bestaan van jou gaan nooit herhaal word nie.

John MilesFoto: Jaco Marais

“Dis dan daardie kontras waarmee jy werk: jy’s toevallig hier, maar dit is ’n wonder.”

Wat betref die spanning tussen hede en verlede en geheue in die roman sê Miles dit is “so verwikkeld”.

“Dit wat hy (die onderwyser) ervaar in die teenwoordige is eintlik snellers. Met ander woorde, daar is nie eintlik net suiwer ervaring van die hede nie.

“Dit wat hy raaksien is ’n sneller na ’n insident in die verlede – die twee loop hand aan hand.”

Miles het verwys na iets uit ’n roman van Harry Mulisch, De aanslag, waarin hy sê vir baie Grieke lê die toekoms nie voor hulle nie, want die toekoms sorg vir homself.

“Eintlik kan ons nie sê ons gaan vorentoe na die toekoms nie, jy staan eintlik met jou rug gekeer op die toekoms.

“Al wat jy het, dit wat jy nou doen, jy roei op hierdie skuit en jy sien waardeur jy gekom het.”

En hoe het dit gekom dat honde hulle aan dié skrywer kom aanmeld het (en die titel)?

“In die 70’s het Elza (Botha), my vrou, skool gehou en op ’n dag het daar ’n hond onder haar tafel kom lê.”

Miles sê sy vrou het die hond opgemerk, maar toe maar net met haar klasse aangegaan.

“Toe die klok lui om huis toe te gaan, toe’s die hond nog daar en sy’t die hond saamgebring huis toe.”

Meer oor:  John Miles
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.