Die verse in Antjie Krog se kinderbundel Fynbosfeetjies klink op in Katrien Holm se gelyknamige musiekproduksie op die Toyota US Woordfees, waarvan ’n voorskoukonsert die naweek in Pretoria aangebied word.

Waterlelie-feetjie, 'n illustrasie deur Fiona Moodey in Antjie Krog se kinderbundel 'Fynbosfeetjies'.
Die verse, oor die feetjies in die Kaapse fynbos, kry nuwe lewe met die sang van die sopraan Renette Bouwer en die klanke van die Evolution of 4-strykkwartet.
Die akteurspaar Carel Trichardt en Petru Wessels lees die verse voor.
Die voorskoukonsert word Saterdag in die Pierneefteater in Pretoria aangebied.
“Ek het sowat twee jaar hieraan gewerk,” sê Holm, wat al voorheen op die verhoog die kragte met Trichardt en Wessels saamgesnoer het.

Katrien Holm, Petru Wessels en Carel Trichardt
“Ek het begin sonder om ’n sperdatum te hê. Ek het dit sommer net gedoen. Naderhand het dit geblyk dit kan op die verhoog lewe kry. Maar dit was nie maklik om die toonsettings te doen nie.”
Holm het met die vers “Varkoor” begin.
“Dit was nog eenvoudig, want die metrum van die gedig was reëlmatig, maar met baie van die ander verse, was dit moeilik om die metrum te identifiseer. Antjie is geniaal.”
Holm het Krog oor die produksie gebel en Krog het gesê sy dink dis ’n baie goeie idee vir ’n musiekproduksie.
Die bundel is in 2007 deur Umuzi uitgereik.
Fiona Moodie het die illustrasies gedoen.

Renette Bouwer
“Ons wou die boek vir gehore op die verhoog lewendig maak. Die uitgewer het goedgunstiglik gesê ons mag Fiona se illustrasies in die produksie vertoon. Vier van die verse in die boek is nie getoonset nie, maar Carel en Petru lees dit voor. Hulle is al so ervare met die voorlees van poësie.”
* Evolution of 4 bestaan uit Johanna Roos (eerste viool), Evert van Niekerk (tweede viool), Aimée Blom (altviool) en Jessica Bailey (tjello).
* Die konsert in die Pierneefteater begin Saterdag om 19:00. Kaartjies kos R110 tot R130. Bel 012 329 0709 of stuur ’n e-pos na info@pierneefteater.co.za om te bespreek.
* Vertonings in die kykNET Fismer op die Woordfees is op 7 Maart om 13:00, op 9 Maart om 18:00 en op 10 Maart om 11:00. Kaartjies kos R150 tot R180 aanlyn en R210 by die deur. Bespreek by Computicket.

‘Fynbosfeetjies’ deur Antjie Krog.