Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Internasionale skrywers wikkel na Woordfees
Jodi Picoult van Amerika

Boekwurms kan met groot genoegdoening uitsien na ’n volgepakte boekeprogram en ’n hele paar internasionale skrywers op besoek aan aanstaande jaar se Toyota US Woordfees.

Uit Londen kom Christy Lefteri, skrywer van die aangrypende debuutroman The Beekeeper of Aleppo. Die roman is gegrond op die tydperk toe sy as opgeleide psigoterapeut vrywilligerwerk gedoen het in ’n Siriese vlugtelingekamp in Athene. Die verhaal handel oor ’n Siriese byeboer en sy gesin wat moes vlug met die uitbreek van oorlog. Die gesin se uitmergelende vlugtog deur Turkye en Griekeland voordat hulle in Brittanje aankom, word gekarteer. Sy praat in die gesprek A Woman’s War op 11 Maart 2020 om 11:30 in die Drostdy-teater saam met Marita van der Vyver (Grensgeval) en Diana Ferrus (Die vrede kom later). Meg Vandermerwe lei die gesprek.

Die Skotse skrywer Damian Barr, skrywer van die debuutroman You Will Be Safe Here, wat deels gedurende die Anglo-Boereoorlog in die Vrystaat afspeel en deels in ’n moderne AWB-jeugkamp, is losweg gegrond op die ware verhaal van die 15-jarige Raymond Buys wat 2011 dood is op ’n sogenaamde jeugweerbaarheidskamp. Die roman is ook gegrond op die fiktiewe dagboeke van die Vrystaatse boervrou Sarah van der Watt, wat met haar seuntjie na ? Britse konsentrasiekamp gestuur word. Barr praat in die gesprek Free State Heroes op 11 Maart om 09:30 in die boeketent saam met Elsabé Brits en Chris Schoeman. Die gespreksleier is Fransjohan Pretorius. Dan neem hy deel aan die gesprek Giving voice to Victims op 13 Maart om 15:30 in die Drostdyteater met die gesprekleier en skrywer van Kamphoer, Francois Smith.

Lize Spit van België

Die New Yorkse akademikus en skrywer Suketu Mehta stel sy jongste niefiksie-boek This Land is Our Land, An Immigrant’s Manifesto in die Eikestad bekend. Dit handel oor sy familie se lewe as immigrante wat van Indië uitgewyk het na Amerika en Brittanje en die ongunstige reaksie in Trump se Amerika op immigrante. Hy was ’n finalis vir die Pulitzerprys in 2015 vir sy boek oor Bombaai (nou Moembai), Maximum City – Bombay Lost and Found.

Conny Braam, een van die stigters destyds van die anti-apartheidsbeweging in Nederland, kom praat oor haar nie-fiksie boek Ek is Hendrik Witbooi, gegrond op die persoonlike korrespondensie van dié Suidwes-vryheidsvegter. Sy praat op 11 Maart om 15:30 met Simon ‘Hemelbesem’ Witbooi, ’n agterkleinseun van Witbooi en die Nederlandse letterkundige Annemarié van Niekerk oor Witbooi se nalatenskap.

Ook uit Amsterdam kom die topverkoperskrywer Esther Verhoef, bekend om die sogenaamde verhoudingsriller of dan domestic noir. Haar bekroonde roman Lieve Mama, wat binnekortby LAPA-uitgewers as Liewe Mamma verskyn, is in Nederland met die Gouden Strop vereer.

Christy Lefteri van Brittanje

Sy gesels met Margriet van der Waal, wat die Amsterdamse leerstoel in Suid-Afrikaanse letterkunde, kultuur en geskiedenis beklee op 12 Maart om 14:00 in die Drostdyteater.

Die Nederlandse digter Benno Barnard, bekend om Die trouservies wat in Afrikaans vertaal is deur Daniel Hugo, gesels op 10 Maart om 14:00 in die Adam Small-seminaarkamer met Andries Visagie. Hugo en die digter Annette Snychers neem ook deel aan die gesprek.

Barnard is ook een van die mans in die voorlesing Digtersparadys: Verse wat groot mans laat huil met Loftus Marais as aanbieder met musiek van Frazer Barry met Kleinboer, Hennie Nortjé, Christo van der Westhuizen, Pieter Hugo, Nathan Trantraal, Tom Dreyer, Pieter Odendaal en Fanie Olivier. Dit word op 14 Maart om 17:00 in die ATKV-boektent aangebied.

Die Amerikaanse blitsverkoperskrywer Jodi Picoult praat op die fees deur Skype eksklusief met Deborah Steinmair

oor haar skryfwerk en Plain Truth, wat binnekort as Die belydenis hier verskyn. Dit handel oor ’n Amish-meisie wat beskuldig word van moord op haar pasgebore baba.

Die gesprek is op 10 Maart om 17:00 in die Drostdyteater.

Die vertaalregte van Lize Spit van België se roman Het Smelt oor boelieverkragting is aan 15 lande verkoop. Dit handel oor ’n vrou wat na haar tuidorp terugkeer waar sy 13 jaar tevore as skoolkind deur boelies verkrag is. Spit gesels saam met Steinmair en die Roemeens gebore skrywer Mira Feticu met Christy Weyer-Loedolff op 9 Maart om 14:00 in die Drostdyteater.

Die Nederlandse letterkundige Annemarié van Niekerk en Pieta van Beek kom gesels oor hul niefiksie-boek My mother’s mother’s mother – South African Women’s Writing from 17th-Century Dutch to Contemporary Afrikaan.s

Onder die bekende name wat ook kom, tel Fred de Vries, Johnny Steinberg, Mark Gevisser en die misdaadskrywer Chris Karsten.

Barr, Karsten, Mehta, Fred Khumalo en Anoeschka von Meck is onder die 12 skrywers wat deelneem aan die gewilde langtafel in die Volkskombuis op 11 Maart om 18:30. Die kuier om die tafel met skrywers duur drie uur. Die gesprekleiers is Kabous Meiring en Loftus Marais.

Azille Coetzee gesels in die programnommer Three International Authors: To lose everything

met Lefteri, Mehta en Mira Feticu oor die immigrant se ervaring op 12 Maart om 15:30 in die ATKV-boektent.

Die Toyota US Woordfees duur van 6 tot 15 Maart. Die volledige program word in November vanjaar bekend gemaak waarna besprekings open.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.