Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Irma Joubert het nog baie stories om te vertel

Irma Joubert het nog baie stories om te vertel. Nie net vir Suid-Afrikaners nie, maar ook vir Hollanders, Duitsers Engelssprekendes en dalk eersdaags ook vir Noorweërs.

Irma Joubert en Sophia Kapp op die huldigingsprogram op die US Woordfees vir Joubert se 70ste verjaardag. Kapp het die gesprek met haar gelei. Foto: Izak de Vries

Sy vertel op ’n huldigingsprogram vir haar 70ste verjaardag (eers op 28 Augustus vanjaar, maar daar is reeds op die US Woordfees aan die geleentheid begin vier) dat sy nooit gedink het haar skryfwerk sou so ver in die wêreld gaan kuier nie.

“Ek het nooit drome gehad om ’n skrywer te word nie. Ek het begin met tydskrifverhale so aan die einde van die jaar om Kersgeskenke te kan koop vir die kinders,” sê sy skertsend.

“Ek het artikels vir tydskrifte soos Weg en Insig geskryf, sommer oor my eie belewenisse en ondervindings.”

Die eintlike skrywery het begin toe sy afgetree het. Die bekendste van haar historiese romans is Tussen stasies, Veilige hawe, Anderkant Pontenilo, Persomi, kind van brakrant, Tuiskoms – stories oor die liefde, Kronkelpad en Immer Wes. Laasgenoemde was nog nie eens in Suid-Afrika op die rakke nie toe is dit al in Nederland en Duits vertaal.

Sy bly verstom oor die sukses van haar verhale.

“Ek is maar net ’n pensioentrekker wat stories skryf,” sê sy.

Wanneer sy egter vertel van die navorsing wat sy doen, sien jy veel meer as net iemand wat stories vertel.

Sy besoek die plekke waaroor sy skryf.

“ ’n Mens moet mos weet hoe ’n plek ruik, waar die son sak, hoe die mense daar lyk, waar bakens was waaroor jy skryf, verduidelik sy. “As iemand oorsee iets lees wat jy skryf en jou verwysings is nie eg nie, kan dit mos nie oortuig nie.

Een van die grootste komplimente wat sy al gekry het, was iemand wat vir haar gesê het dat dit netsowel ’n skrywer uit Pruise kon gewees het wat Immer Wes geskryf het so akkuraat is alles beskryf.

Haar lesers stel baie belang in die vertalingsproses en sy het aan hulle verduidelik dat nie alles woord vir woord vertaal word nie. Soms word daar uitgesny wanneer die Hollanders nie juis in iets belang stel nie, ander kere word sy gevra om iets by te skryf waarin byvoorbeeld die Duitsers weer meer in belang stel.

Immer Wes is die eerste in ’n trilogie. Die tweede deel is ook al klaar en die derde beskryf sy as die een waarin verskeie los drade bymekaar kom.

“Dis nooit lekker om ’n boek klaar te maak nie. Die karakters het soos mense in jou huis geword en dis nie maklik om hulle te groet nie. ’n Mens wil ook nie sommer kritiek teen hulle hê nie. Jy raak soos ’n ouma wat niks verkeerd wil sien in wat jou kleinkind doen nie,” sê sy met ’n laggie.

Maar dalk gaan sy met haar volgende boek so ietwat die wêreldoorloë wegskuif. Daar is ’n lekker storie van ’n Portugees waaroor sy nou reeds begin lees het.

Sy sê haar man en vriende het aangebied om te help navorsing doen.

“Hulle het gehoor daar is baie om na te speur in die omgewing van die Krugerwildtuin en meen dis mos die lekkerste plek om te gaan navorsing doen.”

Sy doen vinnig ’n paar berekeninge in haar kop: “As ek sê nou maar nog 14 jaar kan skryf, dan kan ek nog ’n hele paar stories vertel.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.