Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Kykie agter die skerms van kunsveilings
Maggie Laubser se ‘Voëls op water’ wat in die Morkelhuis te sien is.

’n Geleentheid om uit te vind wat agter die skerms gebeur met die voorbereiding van ’n kunsveiling – waar binne ’n paar uur miljoene rande spandeer word – is ’n interessante toevoeging tot vanjaar se US Woordfees wat Vrydag begin.

Strauss & Co, ’n veilingshuis, neem vanjaar vir die eerste keer amptelik aan die Woordfees deel.

’n Program van rondleidings, lesings deur kunsdeskundiges, ’n kunstenaarswerkswinkel, hoe dekoratiewe kunsskatte soms heel toevallig ontdek word, waardasies van Suid-Afrikaanse kunswerke, ’n kamma-veiling en boonop ’n wyn- en fynproe-dinee word aangebied.

Vrydag word ’n voorskou aangebied van Suid-Afrikaanse meesterwerke wat vir die Strauss-veiling op Maandag 30 Maart voorberei word. Vir die duur van die fees sal die werke te sien wees in die spesiale uitstalruimte by Morkel-huis in Ryneveldstraat.

Op Sondag word ’n “luimige en leersame kunsles” onderhoudend en vermaaklik aangebied deur Marlene Steyn, wat as skilder, beeldhouer en keramiekkunstenaar werk. Dit word aangebied in die Makers-ateljee by die Rupertmuseum tussen 11:00 en 12:30. Daarna word ’n ligte middagete by Morkelhuis bedien. Dit kos R500 en alle materiaal en toerusting word verskaf.

In ’n lesing Maandag om 11:30, wat deur Wilhelm van Rensburg, ’n senior kunsdeskundige, in die stadsaal aangebied word, word indringend gekyk na aspekte van eietydse Afrikakuns. Hy ondersoek die aanname dat eietydse Afrikakuns aspekte deel van die ander wêreldwye eietydse praktyke en dus soortgelyk inspeel en geslyp word deur die internasionale kunswêreld. Daar word spesifiek verwys na Afrika-estetika wat uniek is aan individuele Afrika-stede en -streke.

Twee besonderse aanbiedings is op Dinsdag 10 Maart. Eers is Gerhard Marx – die feeskunstenaar vanjaar – in gesprek met Sean O’Toole, bekende kunskritikus en skrywer, en Frank Kilbourn, uitvoerende voorsitter van Strauss & Co. Dit word om 11:30 by die stadsaal aangebied.

Marx se raaiselagtige kunswerk Vehicle ondersoek hoe die onaantasbaarheid van klank in verhouding staan tot die fisieke aard van voorwerpe. In sy soeke daarna om aan die objekte ’n stem – en dus ’n “lewensverhaal” – te gee, het hy fragmente van klassieke strykinstrumente (’n tjello, twee viole en ’n kontrabas) aan die onderdele van ’n motor vasgesweis. Die gevolg is ’n selfaangedrewe voorwerp wat funksioneer as klankbord vir ’n diep, donker meesleurende stroom.

Die Rupertmuseum beskik oor die bes verteenwoordigende versameling van Stern se werke tussen 1916 en 1966, waarby ingesluit die ikoniese werk Die ewige kind (1916).

Van Rensburg bied ’n lesing aan oor “Irma Stern in die Rupertmuseum” om 12:30. Die Rupertmuseum beskik oor die bes verteenwoordigende versameling van Stern se werke tussen 1916 en 1966, waarby ingesluit die ikoniese werk Die ewige kind (1916).

Op Woensdag 11 Maart bied Vanessa Phillips, senior dekoratiewe kunsdeskundige en mede-besturende direkteur van Strauss & Co., ’n lesing aan oor vergete skatte wat uit ’n “wakis ontdek word” en ander wetenswaardighede oor die dekoratiewe kuns. Sy word bygestaan deur Sophie-Louise Frölich. Die lesing en aanbieding is om 11:30 in die Morkelhuis.

Donderdag 12 Maart om 12:30 bied dr. Alastair Meredith, kunskenner, in die Rupertmuseum ’n lesing aan oor die stasiepanele van J.H. Pierneef en sy mentor, Anton van Wouw.

Voor hierdie aanbieding om 11:30 in die stadsaal gesels Bina Genovese, hoofafslaer en mede-besturende direkteur van Strauss & Co., oor wat alles deel is van die afslaer se rol in die verkope van kunswerke. Sy sal ook ’n “kamma-veiling” aanbied wat ook pret waarborg.

Donderdag en Vrydagaand word ’n driegangete aangebied met Suid-Afrikaanse wyne. Roland Peens van Winecellar.co.za en top sommelier Higgo Jacobs stel die wyne van wynmakers bekend. Dit word aangebied in die Morkelhuis om 18:30 en kaartjies kan bespreek word teen R1 500 per persoon.

  • Kaartjies vir al die aanbiedinge kan aanlyn bespreek word of deur Computicket aangekoop word. Kaartjies teen ’n hoër prys sal by die deure beskikbaar wees. Om die twee lesings wat in die Rupertmuseum aangebied word by te woon, kan besprekings gedoen word by info@rupertmuseum.org of by 021 888 3257. Hierdie lesings is gratis.
Meer oor:  Toyota Us Woordfees  |  Woordfees2020  |  Kuns  |  Woordfees  |  Visuele Kuns  |  Strauss & Co
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.