SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
US Woordfees
Opwindende program met boeke en skrywers
Die dramaturg Reza de Wet se lewe en werk word op die Toyota US Woordfees gehuldig. Foto: Volksblad

Die lekkertes van die skrywersprogram op die Toyota US Woordfees volgende Maart in Stellenbosch is soos sardientjies ingepak.

’n Keur uit die opwindende boekeprogram sien só daaruit:

*Spesiale hulde word gebring aan die skrywer Alba Bouwer wat in die Woordfeestyd 100 jaar oud sou wees. Elna van der Merwe is die gespreksleier van “Alba Bouwer – Rivierplaas se ma”. Die aktrise Mila Guy lees voor.

*’n “Onheilige aand met poësie” wag met die digters Bibi Slippers, Jolyn Phillips, Andries Bezuidenhout en Loftus Marais in “Bibi & Loftus: Sewe sondes en sjerrie”.

Jeanne Goosen in 2007 afgeneem.

*Marita van der Vyver, wie se jongste roman Grensgeval pas verskyn het, neem saam met Christy Lefteri (The Beekeeper of Aleppo) en Diana Ferrus (Die vrede kom later) aan die gesprek “A Women’s War” deel.

*Getekende eksemplare van die boek 50 jaar met Fred, wat die beste spotprente deur Die Burger se spotprenttekenaar Fred Mouton bevat,is by die praatjie onder leiding van Bun Booyens, die samesteller en oudredakteur, beskikbaar. Booyens deel staaltjies en belig van die meer as 10 000 spotprente wat Mouton geteken het.

*Die oudjoernalis en misdaadskrywer Irna van Zyl tree in gesprek met Chris Karsten oor sy jongste misdaadroman, Anderman se vrou, waarin die lesers weer twee ou bekende karakters ontmoet.

Azille Coetzee neem aan ’n paar gesprekke op volgende jaar se Toyota US Woordfees deel. Foto: Jaco Marais

*Mans lees verse voor wat hul hartsnare roer in “Digtersparadys: Verse wat groot mans laat huilmet onder andere Kleinboer, Pieter Hugo, Tom Dreyer en Nathan Trantraal. Frazer Barry maak musiek.

*Die verhoudingsriller kom onder die soeklig in Domestic Noir: Behind Closed Doors met Deborah Steinmair, die Vlaamse skrywer Lize Spit en die Nederlandse skrywer Mira Feticu.

*Ena Jansen se Soos Familie (wat ook in Engels uitgegee is as Like Family), ’n boek oor die rol van huiswerkers in die Suid-Afrikaanse geskiedenis en letterkunde, is die fokus van ’n praatjie en ’n besonderse uitstalling in die Rupert-museum. Die skrywer Ingrid Winterbach gesels met Jansen oor die boek, asook met Clementine Mosimane, wat die rol van Poppie Nongena in die rolprent Poppie vertolk, en Myrtle Witbooi, algemene sekretaris van Sadsawu, die grootste vakbond vir huiswerkers. Onder die kunstenaars wie se werk uitgestal word, is Zanele Muholi, Marlene Dumas en David Goldblatt. Van hul werke is in die boek opgeneem. Jansen en die kurators behartig ook rondleidings.

*Etienne Lerouxis die onderwerp van bespreking inDie man met die swart sonbril”, met Marais, Winterbach en MC Botha. Marais het Leroux se romans as plaasseun ontdek, Winterbach het as 18-jarige ’n briewewisseling met Leroux gehad en Botha het hom as Stephen geken en aande saam met hom in Onrus omgekuier.

* ’n Biografie oor die skrywer Jeanne Goosen is op pad. Die aktrise Sandra Prinsloo tree in gesprek met Petrovna Metelerkamp, ’n jare lange vriendin van Goosen, wat dit saamstel.

Fred MoutonFoto: Jaco Marais

*Die Sestiger Jan Rabie is die fokus van die gesprek “Jan Rabie: 21 sluit die deure oop”, waaraan Andries Visagie, Steward van Wyk en Botha deelneem.

*Die geskiedkundige Fransjohan Pretorius vra die Skotse skrywer Damian Barr, die skrywer Elsabé Brits en Chris Schoeman in “Free State Heroes” uit oor oorloglyding en onwaarskynlike helde.

*Thuli Madonsela, Johann Kriegler en Dennis Davis gesels met Andreas van Wyk in die gesprek “Hof Toe!”. Die gesprek wentel onder meer om die boek Lawfare: Judging Politics in South Africa van Davis en Michele le Roux.

*Gawie Botma gesels met Marilyn Martin, eertydse direkteur van die Suid-Afrikaanse nasionale galery, oor haar boek Between Dreams and Realities, wat die 146 jaar van die nasionale galery belig.

*Die dramaturg Reza de Wet word gehuldig in die gesprek “Reza de Wet: Teaterpionier”. Temple Hauptfleisch en Marisa Keuris gesels oor hul huldigingsboek oor haar werk, en Susan Coetzer en David Minnaar lees voor uit haar werk. Die twee het die hoofrolle in haar Diepe Grond gespeel.

*Die akademikus Louise Viljoen gesels met die digterspaar Ronelda S. Kamfer en Nathan Trantraal.

*Met die gewilde skrywerslangtafel in die Volkskombuis in Stellenbosch, met Kabous Meiring en Marais as aanbieders, sal onder andere China Mouton, Carina Stander, Phillips, Slippers, die New Yorker Suketu Mehta, Fatima Dike en Van der Vyver kom aansit.

*InTo Lose Everything”praat drie internasionale skrywers oor die verlies van jou land, jou familie en selfs jou taal. Azille Coetzeegesels met Lefteri, Mehta en Feticu.

*Toekomsfiksie is die fokus van die gesprek “’n Toekoms verbeel”, met die skrywers Willem Krog, Schalk Schoombie en Lien Botha aan die woord.

*Kaartjies kan van vandag af by Computicket gekoop word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.