Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Ou landsvlag nie deel van Woordfees

Die US Woordfees in Stellenbosch sê Johan Pienaar se protes-installasie met die ou Suid-Afrikaanse vlag wat op ’n sypaadjie gepryk het, was nie deel van die fees nie.

“Hoewel Pienaar sy protes-installasie by die Woordfees gedoen het, was hy nie deel van die Woordfees nie,” sê Danie Marais, ’n woordvoerder van die Woordfees.

Die ou Suid-Afrikaanse vlag wat dié week in Stellenbosch as deel van die About that Flag-uitstalling op ’n sypaadjie neergesit is. Mense is gevra om daaroor te loop. Foto: Johan Pienaar

Pienaar, ’n bekende Stellenbosse aktivis, het die name van onder andere Kallie Kriel, FW de Klerk, Steve Hofmeyr en PW Botha op die ou Suid-Afrikaanse vlag geskryf en dit op die grond in Stellenbosch op ’n sypaadjie laat lê sodat mense daaroor kan loop.

Pienaar het die uitstalling van die vlag as ’n protes-installasie beskryf.

Marais sê Pienaar het nooit aansoek gedoen om by die Woordfees uit te stal nie en het dit op ’n sypaadjie gedoen sonder toestemming van die universiteit. Omdat sypaadjies onder die jurisdiksie van die plaaslike owerheid en verkeersdepartement val, was die universiteit nie by magte om die installasie te laat verwyder nie.

Pienaar het klagte van intimidasie en sameswering om diefstal te pleeg teen Steve Hofmeyr aanhangig gemaak nadat Hofmeyr sy aanhangers aangemoedig het om die vlag te verwyder.

Pienaar meld in sy hofstukke Hofmeyr het vantevore gewelddadig opgetree teen mense met ander sienings as sy eie en sê hy glo nie Hofmeyr het enige respek vir die reg tot vryheid van spraak nie.

Die landdroshof in Stellenbosch het Maandag ’n tydelike stokkie gesteek voor die rusie tussen Hofmeyr en Pienaar.

Ingevolge die tussentydse bevel word Hofmeyr verbied om Pienaar se uitstalling te beskadig.

Die hofbevel verbied Hofmeyr om Pienaar enigsins te teister of te steur. Hofmeyr mag ook nie regstreeks of onregstreeks met Pienaar kontak maak nie en mag nie sosiale media gebruik om Pienaar te dreig of geweld teen hom aan te hits nie.

Meer oor:  Us Woordfees  |  Steve Hofmeyr  |  Johan Pienaar  |  Landsvlag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.