Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Skrywers, kenners maak stemme dik

Gesprekke oor nuwe boeke en slypskole oor kreatiwiteit op verskeie gebiede word volgende jaar op ’n bielie van ’n boek-en-skrywersprogram aangebied.

Van die skrywers met nuwe boeke op die rakke is die RSG-omroeper Amore Bekker, Carina Diedericks-Hugo, Jeanette Ferreira, Maya Fowler, Erns Grundling, Helena Gunter, Koos Kombuis, Herman Lategan, Murray La Vita, Zakes Mda, Deon Meyer, Erika Murray-Theron, Marita van der Vyver, Rudie van Rensburg, Bettina Wyngaard en Zapiro. En dit is net die oortjies van die seekoei.

Gesprekke

Twee gesprekke wat uitgesonder kan word, is dié van die 75-jarige Britse grande dame van blitsverkopers Joanna Trollope met Martie Meiring, en die Yslandse misdaadskrywer Yrsa Sigurdardóttir met Deon Meyer.

Die Yslandse skrywer Yrsa Sigurdardóttir.

Nog ’n hoogtepunt is Kerneels Breytenbach se gesprek met Karina Szczurek, André P. Brink se vyfde en laaste vrou, oor hul liefdesbriewe in die bundel You Make me Possible.

Adriaan van Dis, ’n skrywer en aanbieder van die bekende Nederlandse TV-program De Wereld Draait Door, se gesprek met Antjie Krog behoort ook gewild te wees.

Diegene met ’n belangstelling in die politiek sal Pearlie Joubert se gesprek met fluitjieblaser Vytjie Mentor (No Holy Cows) en oud-Valkehoof in KwaZulu-Natal, genl.maj. Johan Booysen (Blood on their Hands – General Johan Booysen Reveals his Truth) insiggewend vind.

Prof. Johan Heyns se weduwee, Renée, praat met Karin Brynard oor dié kerkleier se skietdood 25 jaar gelede, aangevul deur ’n kort dokumentêr.

Die Britse skrywer Joanne Trollope.

The Boss-volgelinge sal ’n gesprek oor Bruce Springsteen se outobiografie geniet, en Min Shaw-aanhangers kan staaltjies uit haar biografie, Min Shaw: Sprokie van ’n liefling –’n Plakboek van herinneringe deur Shaun Mynardt, hoor. Nic de Jager lei die gesprek.

Slypskole

  • Boekresensies: Kerneels Breytenbach, Jo Prins en Anastasia de Vries gee praktiese wenke en voorbeelde. Stuur tot 14 Februarie e-pos na Netwerk24-boekeredakteur Jo Prins by jprins@24.com met ’n digitale of selfoonfoto van jou kaartjie plus jou volledige straatadres en foonnommer vir jou nuwe roman uit die NB-stal om ter voorbereiding te lees en te resenseer.) Meditasie: Johannes de Villiers, skrywer van Kalmte in die malle gejaag, gee raad hoe om kalmte, helderheid en deernis in jou alledaagse lewe te skep.
  • Illustrasie: Die bekroonde boekillustreerder Piet Grobler sal saam met die Picture This!-wenners deelnemers laat teken, verf en ’n karakter of drie skep.
  • Kreatiwiteit: John Hunt, kreatiewe hoof van die advertensie-agentskap TBWA/Worldwide, wys hoe enige mens in enige beroep kreatiewe oplossings vir probleme kan vind. ) Liefdesromans: Joanna Trollope gee leiding om storiewenke in ’n moderne liefdesroman te verwerk. Die skrywer Sophia Kapp en die uitgewer Elsa Win­ckler sal ook daar wees.

Diskoers

Gaan Cyril die pyp rook?; Suid-Afrika in ’n onstuimige wêreld; Die groot geveg oor grond; Waar gaan sosiale media eindig? is van die aktuele onderwerpe wat Tim du Plessis en gaste onder die loep neem.

Vroue uit verskeie akademiese velde gesels in Feminisme in ’n distopiese wêreld oor onderwerpe wat hulle na aan die hart lê.

RSG se gereelde Praat saam sal sterk fokus op die verkiesing en onder meer verteenwoordigers van die belangrikste politieke partye kans gee om hul saak te stel.

’n Inkomste vir almal – werk of te nie behoort groot byval te vind. Dit handel oor die voor- en nadele van ’n universele basiese inkomste om gelykheid in ’n verdeelde ekonomie te verseker.

In die Frederik van Zyl Slabbert-gesprekreeks sal Kabous Meiring en haar gaste die jonges oor aktuele sake aan die gesels kry.

Ook op die program is die Science Cafe, Netwerk24 se Sake-en-Sauvignon-gespreksreeks, die immergewilde Filosofiekafee, Resonans oor godsdienskwessies, teatergesprekke met Saartjie Botha, Naggesprekke met Mercy Kannemeyer en ’n nuwe kykNET-gespreksreeks met regstreekse uitsendings van die aktualiteitsprogramme Klop! met Heindrich Wyngaard, KN Verslag met Waldimar Pelser, Prontuit met Kabous Meiring en KN Verslag met Lourensa Eckard.

Meer oor:  Rudie Van Rensburg  |  Us Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.