Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
‘Sonkamer’ skyn nodige lig op tehuis-inwoners

Antoinette Kellermann vertolk heelwat karakters, onder andere ’n vrou wat met geheueverlies sukkel. Sy word hier deur die aktrise Thandiswa Mrwali getroos. Foto: Jaco Marais
Die sonkamer

Adam Small-ouditorium

****

Die skrywer en regisseur André Gerber slaan met Die sonkamer ’n rigting in wat teatergangers nie aldag sien nie – en daarom verdeeldheid onder gehore sal skep wat eksperimente op die planke óf omarm óf verwerp.

Die sonkamer is verbatim-teater,” lui ’n pamflet wat voor die vertoning in die Adam Small-ouditorium uitgedeel is.

“Die dialoog is saamgestel uit briewe, dagboeke, boeke, onderhoude en gesprekke met die inwoners van (die tehuis) Huis Aristea in Durbanville (in Kaapstad).

“Dit is hul regte woorde: Wát hulle gesê het, hóé hulle dit gesê het.”

Dus: ’n Lappieskombers van mensestories, elkeen onafhanklik van mekaar, wat Gerber aanmekaar gestik het en verbatim deur ’n top-rolverdeling voorgedra word.

Op die oog af ontbreek ’n storielyn – ’n “tradisionele” begin, middel en einde – maar onder die oppervlak vertel die geheel ’n verhaal van die wel en wee wat werklike mense in lang en vol lewens beleef het.

Hul staaltjies sluit ’n smorgasbord van ervarings en menings in: skinder- en basaarstories, nuwe vriendskappe, ou liefde, histerektomies en aambeie, mishandeling, apartheid, WhatsApp, rassisme, demensie én die onvermydelike dood.

En die tehuis-inwoners práát – hulle was tydens Gerber se onderhoude met hulle waarskynlik honger vir gesels. Wagte ontbreek voor monde wat vrylik in die verlede wandel en verdwaal. Wat hulle sê, laat ’n mens plek-plek lekker giggel, ja, maar hul woorde trek ook gordyne oop waaragter eensaamheid skuil, tyd stil-stil aan herinneringe knaag, en die ritme van lewens stadig afneem; dit is daarom ook hartseer én ontroerend.

Lida Botha en Neels Coetzee vertolk ook talle karakters, onder andere ’n egpaar wat deur WhatsApp met hul kinders in kontak bly. Foto: Jaco Marais

Die rolverdeling – spesifiek Antoinette Kellermann, Lida Botha, Neels Coetzee en Susanne Beyers – het ’n leeueaandeel in die oordra van dié boodskappe.

Dit is veral wonderlik om te sien hoe Botha – wat deesdae in rolprente en TV-reekse binne sekondes sterf of slegs ’n afskeep sin of twee kry – hier met bladsye se teks bederf is en met oorgawe daarmee spéél. Dramaturge en draaiboekskrywers kan haar gerus in die toekoms weer en weer só ’n geleentheid gee.

Benewens die rolverdeling het Anél Joubert se choreografie en Antoni Schonken se klankbaan ook gehelp om te illustreer hoe bejaardes oud van vlees dog jonk van gees is.

Net die besige stel, wat meer vraagtekens as antwoorde bied, het gepla, maar dit ontspoor nie die impak van die eindproduk nie – ook nie die herinnering dat teatergangers gerus ’n draai by ’n plaaslike tehuis moet maak en gehoor moet gee aan dié vir wie dit die wêreld sal beteken nie.

Dit sou interessant wees om te hoor wat die bestuur en inwoners van Huis Aristea van die stuk dink.

  • Die sonkamer word nog op 13 Maart om 20:00, 14 Maart om 16:00 en 15 Maart om 14:30 in die Adam Small-ouditorium opgevoer. Kaartjiepryse op Computicket wissel tussen R150 en R190, en kos R220 by die deur.
Meer oor:  Teater  |  Toyota Us Woordfees  |  Woordfees2020  |  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.