Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Toyota US Woordfees in Oktober op TV aangebied

Suid-Afrikaners en Namibiërs sal vir die eerste keer in die geskiedenis van die Toyota US Woordfees nié Stellenbosch toe hoef te reis om die fees te ervaar nie.

Vanjaar se fees, wat aanvanklik in September sou plaasvind maar weens die Covid-19-pandemie afgestel is, gaan nou van 1 tot 7 Oktober geheel en al op DStv-kanaal 198 aangebied word.

Alle DStv-intekenaars met ’n Premium- of Compact Plus-pakket sal toegang tot die Woordfees se opwipkanaal kry, wat luidens ’n mediaverklaring al die fees se geliefste genres sal insluit: van boeke en skrywers, toneel, kontemporêre en klassieke musiek en skerpskertskomedie tot leefstyl, diskoers, visuele kuns en dans. Die fees se TV-inhoud sal ook in samewerking met die Woorde Open Wêrelde-projek (WOW) opvoedkundige elemente insluit.

Uitgesoekte inhoud sal op die fees se TV-kanaal herhaal word, en alle narratiewe inhoud en gesprekke sal met Engelse onderskrifte aangebied word.

Saartjie Botha, die fees se direkteur, sê die opwip-TV-fees is ’n “wonderlike, veilige manier om die kunste dwarsoor die land te stimuleer, te ondersteun, te deel en te vier”.

“Die Woordfees-TV-model maak dit vir ons moontlik om ons handelsmerk lewendig te hou, inkomstegeleenthede vir kunstenaars te skep en blootstellingsmoontlikhede te gee aan ons borge, wat ons so getrou deur die pandemie ondersteun.

“Ons is baie dankbaar vir die bydraes van Toyota, die Universiteit Stellenbosch, kykNET, MultiChoice en Media24, waarsonder hierdie TV-fees nie moontlik sou wees nie.”

Dié opwipkanaal is ’n eerste en verfrissende toevoeging tot DStv se aanbod van kanale – ’n wonderlike, eenmalige geleentheid om die Woordfees saam dwarsoor die land en tot in Namibië te ervaar.
Karen Meiring

Ook Leon Theron, senior adjunkhoof van verkope en bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors, sê hy is opgewonde en trots om ’n “gesogte fees na die sitkamers van kuns- en kultuurliefhebbers oor die hele land heen te neem”.

“Ons betreur dit dat Covid-19 dit onmoontlik gemaak het om geleenthede soos die Toyota US Woordfees in lewende lywe voor gehore op te voer, maar ons hoop dat die TV-opwipkanaal ons sal help om meer sinvolle verbintenisse met ons gehore te bou aangesien ons kuns en kultuur as belangrike bestanddele van sosiale kohesie beskou.”

Karen Meiring, M-Net-direkteur: kykNET-kanale, sê sy is “baie trots” om deel van die TV-projek te wees.

“Dié opwipkanaal is ’n eerste en verfrissende toevoeging tot DStv se aanbod van kanale – ’n wonderlike, eenmalige geleentheid om die Woordfees saam dwarsoor die land en tot in Namibië te ervaar.”

Ishmet Davidson, hoof van Media24, is dit met haar eens.

“Dankie dat ons onder meer vertonings in die gerief en veiligheid van ons huise kan bywoon, en ook vir die ander maniere waarop julle steeds geleenthede vir ons kunstenaars skep, asook ’n gemeenskap van feesgangers inspireer en dien.”

Die opwipkanaal se programinhoud en uitsaaitye sal luidens die verklaring in September bekend gemaak word. Deelname aan die TV-fees sal hoofsaaklik op uitnodiging wees, maar kunstenaars kan ook aansoek doen om bestaande werk wat aan die tegniese vereistes vir uitsending voldoen, vir keuring aan die fees voor te lê.

Aansoekvorms, besonderhede oor die aansoekproses en riglyne oor tegniese spesifikasies is op www.woordfees.co.za beskikbaar. Kunstenaars sal egter moet spring, want aansoeke sluit op 15 Julie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.