Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Van Merch sing 2 van haar eie liedjies in ‘Rymlied’
June van Merch (links) en Hilandi du Toit span weer kragte saam in die vertoning ‘Rymlied’. Foto: Carel Stander

Feesgangers gaan ’n héél ander sy van die bekroonde aktrise June van Merch op die Toyota US Woordfees sien, wanneer sy onder meer twee liedjies uit haar eie pen in die vertoning Rymlied gaan sing.

Van Merch – geliefd om haar rolle in onder meer die TV-reekse Fishy Fêshuns, Die boekklub en Sara se geheim – gaan haar buitengewone voordrag met die sanger en liedjieskrywer Hilandi du Toit aanpak, wat die produksie saamgestel het.

Du Toit vertel hul paaie het ’n paar jaar gelede onverwags by ’n partytjie gekruis waarheen sy (Du Toit) nie eintlik genooi is nie.

“Gemeenskaplike vriende het gesê ek is welkom en toe ek by die partytjie opdaag, sien ek June daar,” onthou Du Toit.

“Ek het destyds al vir ’n rukkie gebroei oor ’n produksie wat gedigte en musiek saamsnoer en nadat ek en June so lekker by die partytjie gekuier het, het ek haar gekontak en gevra of sy sou belangstel om so iets aan te pak. Sy was baie ingenome en in haar skik met die idee – en die res is, soos hulle sê, geskiedenis.”

Die duo het in 2017 die vertoning Gedig, my snaar aangebied, wat vir ’n Woordtrofee en kykNET Fiësta-prys benoem is.

Gesnaarde gedigte het in 2018 gevolg, wat ’n Woordtrofee gewen en ook vir ’n kykNET Fiësta-prys benoem is. Nou volg ’n nuwe hoofstuk met Rymlied.

Rymlied is lekker en bestaan hoofsaaklik uit oorspronklike werk,” sê Du Toit.

“Ons het drie onderwerpe in die produksie: geslagsgelykheid, rassisme en ‘vreemde’ liefdes – selfdegeslagliefde, liefde vir snaaks wees, liefde vir musiek en skryf, ens.

“Ons word daagliks, veral in die nuus, gebombardeer met hierdie onderwerpe, maar op die verhoog kry ons die geleentheid om dit op ’n sagter manier aan te spreek en oor te dra.”

Hoewel die temas in die vertoning gewigtig is, sê sy die eindproduk is “juis glad nie swaar nie”.

“Ons gebruik die metode om op ’n komiese manier ’n swaar boodskap oor te dra,” sê sy. “Ek en June kan mekaar ook nogal tydens die vertoning op ’n baie sagte manier uithaal.

“Natuurlik het die produksie sy ernstige oomblikke, maar dit voeg alles van ’n skaterlag tot ’n traan saam – en dis hartsdinge, goed wat ons almal gemeen het, so dit dra daartoe by dat teatergangers met ’n lied in die hart by die teater uitstap.”

  • Rymlied word op 10 Maart om 13:00 en 11 Maart om 19:00 in die Weltevreden-restaurantteater aangebied. Kaartjies kos R140 by Computicket en R160 by die deur. Die ouderdomsbeperking is 13T.
Meer oor:  June Van Merch  |  Musiek  |  Poësie  |  Teater  |  Toyota Us Woordfees  |  Woordfees2020  |  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.