Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Woordfees belig vele fasette van klassieke musiek
Alissa Marsulis van Duitsland.

Internasionale en Suid-Afrikaanse musici sal in 2020 op die US Woordfees alle moontlike fasette van klassieke musiek bestryk. Party ensembles huldig Beethoven se 250ste geboortejaar, ander breek onbekende komposisies oop. Ongewone instrumentkombinasies stel hul klankversmelting op die proef en vertroude ensembles speel tydlose musiek.

Internasionale klanke

Die Duitse violis Alissa Margulis, wat Suid-Afrikaanse gehore byna jaarliks betower, en die pianis Luis Magalhães eer Beethoven met drie van sy vioolsonates.

Berta Brozgul, ’n Suid-Afrikaans gebore pianis wat in Australië woon, wek Schumann se kinderherinneringe op in Der Dichter spricht. Haar program bestaan uit Schumann se Kinderszenen en Chopin-preludes.

Mariam Batsashvili is ’n Georgiese pianis wat deesdae die wêreld se verbeelding aangryp. Sy het in 2014 die Internasionale Franz Liszt-klavierkompetisie gewen. Bach, Mozart, Liszt en Ravel is op die program.

Miriam Batsashvili, pianis van Georgië.

Die Illinois Wesleyan University Collegiate-koor uit die VSA span kragte saam met die Stellenbosch Universiteit-kamerkoor onder Martin Berger vir musiek uit twee “hemisfere”.

Vier Switserse perkussiespelers gaan die eerste keer hul slag in Suid-Afrika wys. Komposisies van regoor die wêreld kan gehoor word in Percussion Threads – From Zurich to Mzansi. Sarah Evans (altviool) en Nomapostile Nyiki (sang en uhadi) verteenwoordig Mzansi.

LGT Young Soloists is ’n strykensemble met talentvolle jong soliste uit 15 lande. Alexander Gilman lei die groep wat al meer as 80 pryse gewen het. Hulle speel werke van Sibelius, Beethoven, Sollima en ander.

Trio’s tot kwintette

Die Charl du Plessis Trio bestaande uit Werner Spies, Charl du Plessis en Peter Auret.

Kwintette: Niemand kan ooit moeg raak vir Schubert se ikoniese klavierkwintet Die Forelle nie. Pieter Grobler (klavier), Suzanne Martens (viool), Emile de Roubaix (altviool), Peter Martens (tjello) en Mariechen Meyer (kontrabas) voer ook ’n liriese werk van Hummel uit.

Die Intonga-rietkwintet bestaan uit houtblaasinstrumente, wat met vibrerende rietmondstukke weerklank gee aan ons landskappe in Soundscapes for Reed Quintet.

Of Triumph & Tribulation deur die veel bekroonde Odeion-strykkwartet van Bloemfontein “verskuif die grense van musikale uitdrukking” soos in Beethoven se monumentale Strykkwartet op. 130. Dit sluit die indrukwekkende fugale finale (“Große Fuge”) in.

Die Juliet-strykkwartet van Stellenbosch het gedelf in tradisies wat geweld teenoor alle lewensvorme teenstaan vir ’n reis na innerlike heling. Sjostakowitsj, Van Dijk en O’Conner sal die gemoed stelselmatig verander en spanning verlig.

Daniel Prozesky (klarinet), hoofklarinetspeler in die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, tree saam met die Stellenbosse Amici-kwartet op in werke van Mozart, Brahms en Peter Klatzow.

Die Charl du Plessis Trio (klavier, slagwerk, kontrabas) speel onkonvensionele bewerkings van Mozart-, Verdi- en Wagner-musiek en huldig ook die Oud-Beatle John Lennon in Imagine.

Louisa Theart (fluit, altfluit, piccolo), Dylan Tabisher (marimba, vibrafoon) en David Pinoit (tjello) breek as die Mizartrio ’n “nuwe klankpalet oop”. Van Barok tot tango en televisie-temamusiek deur Bach, Ingrid Stolzel, Matthijs van Dijk en The Rolling Stones word gespeel.

Twee-twee

Anmari van der Westhuizen en Megan-Geoffrey Prins gedenk Beethoven met sy sonates vir tjello en klavier, en eer die ontslape pianis Ilse Schumann met Rachmaninoff se sonate.

Minette du Toit-Pearce (mezzosopraan) en Bennie van Eeden (klavier) voer Poulenc se siklus Le Travail du Peintre, Manuel de Falla se Siete Canciones populares españolas en Laurens Faul se humoristiese siklus Noag se ark uit.

In Paganini tot Piazzolla versmelt David Bester (viool) en James Grace (kitaar) die klanke van gestrykte en geplukte snare.

Die bekende klavierduo Zorada Temmingh en Elna van der Merwe se Schubert, Schumann en Sinatra behels temas van dié komponiste en goue oues van sanger Frank Sinatra.

Gaan luister na Liesl Stoltz (fluit) en Albie van Schalkwyk (klavier) om uit te vind waarom hul program Playing with Fire heet. Werke van onder andere Fauré, Enescu, Martinu en Muczynski is aan die bod.

Magdalene Minnaar (sopraan) deel in Portret hoogtepunte uit haar loopbaan. Maryke Johnson is die pianis.

The Four Seasons Recomposed: Die violiste Annien Shaw en Bonolo Kgaile speel hergekomponeerde musiek deur Max Richter en Hans Roosenschoon.

Een-een

Die Kaapse musikus Derek Gripper, met solouitvoerings in Carnegie Hall en die Kennedy Centre op sy CV, speel van Bach tot Baaba Maal en Arvo Pärt tot Ali Farka Touré in Classical Guitar Meets Africa.

Megan-Geoffrey Prins (klavier) se Finding|Being vind hy in die Westerse kunsmusiekkanon en eietydse Suid-Afrikaanse werke. Pianis Luis Magalhães se soloprogram bevat Beethoven, Schubert, Ravel en Skriabin.

Gaan groot

Lynelle Kenned

Die Universiteit Stellenbosch Simfonieorkes met Bernhard Gueller (dirigent), Alissa Margulis (viool) en Mario Nell (orrel) speel Beethoven se Vioolsonate en Guilmant se Simfonie nr. 1 vir orrel en orkes.

Universiteitskoor Stellenbosch: Galakonsert en etensuurkonserte deur dié wêreld se nr. 1-koor onder leiding van André van der Merwe (koorleier).

Baroque-operagalakonsert met die Camerata Tinta Barocca en soliste Lynelle Kenned en Brittany Smith (sopraan) gelei deur Erik Dippenaar op klavesimbel.

Brahms Requiem: Die Libertas-koor en -orkes, Johan de Villiers (dirigent), Petri Salonen (konsertmeester), Zorada Temmingh (orrel) en Lynelle Kenned (sopraan) en Conroy Scott (bariton).

Die Mamre Traviata: ’n Konsertweergawe van Verdi se La Traviata deur die US se musiekdepartement met Arline Jaftha (sopraan), Wayne Mkhize (tenoor), Conroy Scott (bariton), Minette du Toit-Pearce (mezzosopraan), Lauren Dasappa (sopraan). Aangebied en begelei deur José Dias (klavier).

Landscapes for Guitar is ’n multidissiplinêre produksie deur Nina Fourie-Gouws (kitaar), Gerard Seymour (kunstenaar), Che Adams (flamenco-danser), Brent January, Damian Christians en Marius Otto (kitaar).

Orrelweek

Zorada Temmingh het verskeie orreliste gekry om die omvattende program in die Moederkerk aan te bied.

* Die volledige program is beskikbaar op die US Woordfees se webwerf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.