Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Woordfees: Dans óók in die kollig
’n Toneel uit die produksie ‘Wag/Waiting’.

Dansliefhebbers sal in hul noppies wees om te hoor dat die organiseerders van die Toyota US Woordfees in Stellenbosch dans die eerste keer as ’n “volwaardige, nuwe kategorie” erken het.

Luidens die Woordfees se 2020-program, wat Maandagaand in Stellenbosch bekend gestel is, gee die insluiting van dans “erkenning aan die opwindende opbloei in dansgeselskappe” en sal gehore sien dat dans “nie net mooi passies of onverstaanbare teater (is) nie – dis ’n aangrypende taal wat tot al jou diepste emosies spreek en verrassende gewaarwordinge moontlik maak”.

Marie Vogts, wat aan die stuur is van die paneel wat die Woordfees se dans-aanbieding vir 2020 saamgestel het, sê die keurders se doelwit is ’n smorgasbord van dansstyle en musiekgenres.

“Ons het veral gefokus op die verskeidenheid van dansgenres, naamlik kontemporêre dans, Afrika-geïnspireerde dans, flamenco, asook ’n produksie in die hiphop-styl,” sê sy.

“Die program sluit ’n wye spektrum van dansorganisasies in wat nie net in die Kaap gebaseer is nie, soos die Garage-dansensemble van Okiep in die Noord-Kaap en Abdoulaye Diallo van Senegal.

“Die produksies verskil ook in terme van musiek – van poësie wat as musiek dien tot neo-klassiek, Afrika-ritmes en elektroniese musiek.”

Vogts sê daar is heelwat produksies waaroor sy opgewonde is:

* Die Garage-dansensemble, wat bestuur word deur die danslegendes Alfred Hinkel en John Linden, gaan Krummelpap, afval en Sunlightseepbaddens aanbied. Dié produksie gaan die bekroonde digter Ronelda Kamfer se poësie en die Soweto-strykkwartet, Abdullah Ibrahim en Miriam Makeba se musiek verweef.

“Hul (Garage se) stukke is altyd baie gefokus op gemeenskappe, veral in die Noord-Kaap,” sê Vogts.

“Die kombinasie met Kamfer maak die produksie toegankliker vir mense wat nog nie dans ken nie.”

* Diallo se stuk Pollution is ook ’n trekpleister, sê Vogts.

“Sy optrede is slegs 25 minute, is goedkoop en handel oor ’n konsep wat almal verstaan. Dit is dus toeganklik vir diegene wat nie hou van lank sit nie, of kinders het.”

Vogts sê dié produksie “lê klem daarop dat dans van die begin af verhoudings met ander Afrika-lande versterk en dat ons in die toekoms altyd wil uitbrei en nie net op Suid-Afrika fokus nie”.

Aanhangers van hiphop kan nader staan, omdat die produksie heelwat van dié musiekgenre insluit.

* Darkroom Contemporary se produksie ‘A’ vir Algoritmies gaan nie net ’n fees vir die oog wees nie, maar ook vir die ore.

“Hulle inkorporeer altyd interessante tegnologie en media in hul stukke,” sê Vogts.

“Mense wat gefassineerd is met musiek en klank sal hul klankbaan met ’n Dot Matrix-drukker onder leiding van Brydon Bolton fassinerend vind.”

* Figure of 8 se produksie WAG | Waiting het reeds wyd lof ontvang en maak ook in 2020 ’n draai by die Woordfees.

“Grant van Ster en Shaun Oelf is twee van Suid-Afrika se mees gesogte dansers en choreograwe, veral as jy kyk na al hul betrokkenheid in musiekspele soos David Kramer se Danger in the Dark, Langarm en Marc Lottering se Aunty Merle,” sê Vogts.

“Die eenvoudige tema – om te wag – is ook iets waarmee almal hulle kan vereenselwig.”

* Benewens dié stukke kan jy uitkyk vir die roerende stuk Abakhulu – The Great Ones, wat deur die Indoni Dance Arts and Leadership Academy vervaardig is; die produksie Baqamile (The Shining Ones), wat in opdrag van die Belluard-fees in Freiburg, Switserland, deur Buhlebezwe Siwani geskep is, en die multidissiplinêre produksie Landscapes for Guitar, waarin kitaarspel, animasie en dans vervleg word.

  • Die Toyota US Woordfees vind van 6 tot 15 Maart in Stellenbosch plaas. Besoek www.woordfees.co.za vir ’n volledige program.
Meer oor:  Maart  |  Dans  |  Woordfees  |  Toyota Us Woordfees  |  Stellenbosch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.