Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Woordfees: Hier kraai kontemporêre musiek koning!
Karen ZoidFoto: Anelia Loubser

Die sangeres Karen Zoid gaan haar twee dekades in die musiekbedryf met ’n onverwagse metgesel op die verhoog vier: die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO).

Die superkonsert Karen Zoid 20 jaar pops word volgende jaar eksklusief op die Toyota US Woordfees in Stellenbosch aangebied.

Zoid gaan 20 jaar se musiek met 20 liedjies saamvat, wat van harde rock tot sagte ballades sal insluit – ’n musikale verskeidenheid wat die Woordfees se program vir kontemporêre musiek in 2020 versinnebeeld.

Volgens Saartjie Botha, feesdirekteur, was die span wat die fees se kontemporêre-musiek-aanbieding saamgestel het, op soek na ’n “fyn balans” vir die program.

“Ons wil iets opwindends bied aan almal – van gesinne en ouer feesgangers tot studente – uit diverse agtergronde,” sê sy.

“Daarom is daar alles, van luistermusiek in intieme venues, soos die Weltevreden-restaurantteater en die Spier-amfiteater, tot jazz in die Visuele Kunste Vierkant en Amazink, saam met lekker buitelugpartytjiemusiek op die Van der Stel-sportterrein en in die Jan Marais-natuurreservaat.”

Sho MadjoziFoto: Argief
Early BFoto: Israel Holtzhauzen
Francois van CokeFoto: Argief
Mandla MlangeniFoto: Argief

Benewens Zoid se mylpaal gaan die klanke van reggae en R&B opklink wanneer Dr Victor & The Rasta Rebels meer as 40 jaar van musiek maak vier.

* Die veteraan Amanda Strydom gaan haar kabaret Stadig oor die klippers aanbied wat vroeër vanjaar met ’n Fiësta-prys bekroon is. Met Coenraad Rall voor die klavier gaan Strydom haar eie liedjies asook dié van Johannes Kerkorrel, Sting, Edith Piaf en Marlene Dietrich sing.

* Die rocker Francois van Coke is die voorbok van die vertoning Dagdrome in die Boland, waarin Early B, Jack Parow, Hunter Kennedy, Pierre Greeff, Laudo Liebenberg, Arno Carstens en Tasché ook te sien sal wees. Treffer soos “Toe vind ek jou”, “Leka djy” en “Dans, dans, dans” is op die musiekspyskaart.

* Early B gaan ook op sy eentjie ’n konsert aanbied. Dié Oos-Kaapse rymkletser se vertoning was verlede jaar ’n hoogtepunt op die fees en beloof om aanhangers weer vanjaar op hul voete te kry.

* André Schwartz gaan ’n intieme blik op sy lewe bied in die konsert Die Pad. Benewens liedjies uit musiekblyspele, klassieke musiek en van sy eie treffers, gaan hy heelparty persoonlike staaltjies – die hoogtepunte én die laagtepunte – met gehore deel.

* Dertig jaar nadat Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band se album Eet Kreef! uitgereik is, gaan die ikoniese musiek op hierdie album herleef – dié keer onder leiding van aKING se Laudo Liebenberg en sy band.

Elzabé ZietsmanFoto: Johan Prinsloo

* In Ek en Bentel gaan die sangeres Elzabé Zietsman en die pianis Tony Bentel saamspan om ou gunstelinge van David Kramer en ook liedjies uit groot musiekblyspele op te voer.

* Sho Madjozi is danksy haar liedjie “John Cena” op die wêreld se lippe. Dié rapper, sanger, liedjieskrywer, aktrise, digter en SAMA-wenner maak vanjaar ook ’n draai in die Eikestad om almal in die feesluim met haar liedjies te kry.

* Cheswyn Ruiters, wenner van die werklikheidsreeks Maak my famous, gaan saam met Emo Adams en nog finaliste van die reeks ’n konsert aanbied. Dit gaan “ruk”!

* Mandla Mlangeni, die jazzwenner in die 2019 Standard Bank Jong Kunstenaars-kompetisie, gaan sy vaardigheid op die trompet ten toon stel, naas Fredrik Norén, Sweedse trompetspeler, in die produksie Jazz in Kayamandi. Met die Duitse kontrabasspeler Martin Zenker aan hul sy gaan dié waarlik internasionale produksie in die Amazink jazzliefhebbers se harte vinniger laat klop.

* Jazz gaan ook koning kraai in die Visuele Kunste Vierkant, waar die top-jazzpianis Kyle Shepherd en Mandisi Dyantyis, een van Suid-Afrika se voorste afro-soul-jazz-musici, in twee afsonderlike konserte sal optree.

* “Swing, shuffle en sequins” is in Nataniël se blik vir die konsert Hoekom hulle swing. Dié geliefde sanger gaan sy beste liedjies in sy beste kostuums sing – en daarmee saam weer oudergewoonte van sy beste en snaaksste staaltjies in die studentedorp vertel. Geen kortbroeke word in die voorste ry toegelaat nie!

* Hou ook ’n oog op al die kunstenaars wat albums op die Woordfees bekendstel, onder andere Jak de Priester, Jan Blohm, en Loki Rothman.

  • Die Toyota US Woordfees vind volgende jaar van 6 tot 15 Maart op Stellenbosch plaas. Besoek www.woordfees.co.za vir die volledige program.
Meer oor:  Feeste  |  Musiek  |  Kuns  |  Karen Zoid  |  Woordfees  |  Us Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.