Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Woordfees skuif na September volgende jaar

Pleks van ’n fees in die vroegherfs gaan die Toyota US Woordfees nou as ’n lentefees op Stellenbosch aangebied word.

Die datums vir volgende jaar se fees, wat dan sy 22ste bestaansjaar vier, is verskuif van die gebruiklike vroeg in Maart na 17 tot 24 September.

Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees.

“Dit is glad nie lekker om ’n geleentheid vir kunstenaars weg te neem nie, maar ons kon geen ander besluit neem nie,” het Saartjie Botha, direkteur van die fees en die WOW-projek, gesê.

“As daar nie ’n entstof vir Covid-19 beskikbaar is nie, kan daar nie werklik fees gehou word soos ons in die verlede gedoen het nie.” Sy verwys na die onsekerheid wat die koronaviruspandemie steeds inhou en die moontlikheid dat Covid-19-protokolle die bywoning kan beperk.

“Ons hoop Joe Biden beweeg gou om die entstof beskikbaar te stel. Daarbenewens is daar ’n finansiële tamheid, nie net hier nie, maar wêreldwyd.”

Aanvanklik het die feesbestuur dit oorweeg om die fees na óf Februarie óf April te skuif, maar dit sou nie finansieel haalbaar wees nie.

Boonop word die matriekuitslae eers einde Februarie 2021 verwag, wat ’n impak het op die begin van die akademiese jaar op die universiteitsdorp. Later registrasie en die verwelkoming van nuwelinge sou inbraak maak op die feesverrigtinge, wat aanvanklik vir 5 tot 14 Maart beplan is.

Dit is volgens Botha te vroeg om te voorspel of dit ’n eenmalige skuif net vir 2021 is en of die fees permanent na die tweede helfte van die jaar sal skuif. Sy het ook benadruk dat daar in die belang van die groter bedryf opgetree moet word.

“Die Woordfees funksioneer nie in isolasie van die ander kunstefeeste nie en te midde van die uitdagings in die bedryf is die fokus nou op volhoubare en innoverende oplossings. Ons moet die heeltyd anders dink.”

Voorts sê sy “kunstefeeste is baie duur”.

“Ons moet heeltyd dink wat is die beste waarde vir gehore. Die feeste het nou meer as ooit tevore ’n verantwoordelikheid om inkomstegeleenthede vir kunstenaars te skep, om vir ons borge ’n goeie opbrengs op hul belegging te verseker en, waar moontlik, ons deel te doen om die plaaslike ekonomie te stimuleer.”

Die Woordfees was die laaste kunstefees wat vanjaar aangebied is voordat die staat van inperking ingetree het. Daarna is die KKNK afgestel, die Suidoosterfees is verskuif na vandeesmaand en word as inryteater aangebied, die Vrystaat Kunstefees word deurlopend aanlyn aangebied, terwyl sowel die Aardklop- as Innibos-kunstefees gekanselleer is.

Daar word wel Woordfees-bedrywighede vir vroeër in die jaar beplan. Die doel daarvan is om ondersteuning aan kunstenaars te gee en om blootstelling vir borge te bied. Aanlyn en tradisionele aanbiedings word beoog. Meer besonderhede daaroor sal later bekend gemaak word.

“Ons sou graag twee feeste wou aanbied volgende jaar, wie weet, dalk kan ons dit die jaar daarna doen.”

Aansoeke vir 2021 word heropen. Kunstenaars wat reeds aansoek gedoen het om deel te wees van die fees kan dit hou as ’n bestaande aansoek of kan dit aanpas, en/of nuwe aansoeke instuur.

  • Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees word wel volgende jaar in sy normale tydgleuf van 31 Maart tot 6 April op Oudtshoorn aangebied, en is dus die jaar se eerste volwaardige kunstefees. Datums vir volgende jaar se Suidoosterfees, Vrystaat Kunstefees, Aardklop en Innibos is nog nie bekend gemaak nie.
Meer oor:  Feeste  |  Joe Biden  |  Kknk  |  Suidoosterfees  |  Vrystaat Kunstefees  |  Innibos  |  Inperking  |  Staat Van Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Woordfees  |  Covid-19  |  Covid  |  Teater  |  Pandemie  |  Toyota Us Woordfees  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.