Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
US Woordfees
Woordfees: ‘Valsrivier’ ontvang vyfkuns
Dean Balie in Die poet, wie’s hy?, die beste feesproduksie en beste musiekgedrewe aanbieding op die Toyota US Woordfees. Foto: Lindsey Appolis

Die toneelstuk Valsrivier het behoorlik uitgeblink met die aankondiging gisteraand van die wenners van die Toyota US Woordfees se Woordtrofee-pryse.  Die aankondiging van die wenners is regstreeks op Facebook uitgesaai weens die Covid-19-inperking. Die dramatiese, biografiese stuk gegrond op die skrywer Dominique Botha se gelyknamige roman karteer haar broer se sielkundige agteruitgang met die aanloop tot sy nasionale diensplig en die uitwerking van sy aftakeling op die Vrystaatse boeregesin. Dit speel af in die 1980’s.

Valsrivier het vyf pryse verower, waaronder die Woordtrofee vir beste toneelstuk op die fees – ’n ekstra vertoning moes ingepas word omdat die sewe opvoerings volbespreek was. Janice Honeyman is vereer vir haar regie, die akteurs Stian Bam en Anna-Mart van der Merwe is as beste byspelers aangewys en die akteur Robert Hindley is as beste akteur uitgesonder. Hindley is ’n honneurstudent in drama aan die Universiteit Stellenbosch.“Dis rêrig ongelooflik om só vereer te word. Van die begin was die stuk net ’n plesier, als het in plek geval. Die gehore op die fees se reaksie was ongelooflik,” het Johan van der Merwe, medevervaardiger van die stuk, gesê. Ander uitblinkers wat toneelspel betref, is Nicole Holm vir haar sonderlinge spel in Tweespoor – sy ontvang die Woordtrofee as beste aktrise.“Ek is absoluut verheug om die prys vir dié spesifieke rol te wen. Ek het gevoel dat ek wil sê wat hierdie karakter sê,” het Holm gesê. Tweespoor is gegrond op ’n roman van Helena Gunter. Holm se karakter is ’n afgetrede onderwyser, wat sin moet maak van die lewe ná ’n gewelddadige aanval op haar en haar wederhelf.

Valsrivier het vyf pryse gewen. Hier is Tinarie van Wyk Loots, Robert Hindley en Stian Bam in ’n toneel uit die produksie. Foto: Jaco Marais

Antoinette Kellermann, Lida Botha, Neels Coetzee, Susanne Beyers, Thandiswa Mrali en Adriaan Havenga is as beste ensemble vereer vir hul spel in André Gerber se Die sonkamer. René Cloete is as beste opkomende kunstenaar aangewys vir haar vertolking in die kinderproduksie Huppelkind, van die regisseur Marthinus Basson. Cloete is ’n dramastudent aan die Universiteit Stellenbosch.Vanjaar se grensverskuiwende produksie was Jefferson Tshabalala se J. Bobs Live, waarin hy kyk na mense se vooroordele rakende ras op humoristiese dog satiriese wyse in ’n tipe vasvraprogram waaraan die gehoor ook aktief deelneem. Tshabalala is ook vanjaar die wenner van die Standard Bank Jong Kunstenaar-prys vir teater.

Die regisseur en lektor Amelda Brand ontvang die Toyota US Woordfees se In Verbondenheid-prys. Die prys gee erkenning aan rolspelers wat in die kunste, onvermoeid en dikwels vir min of geen vergoeding, oor grense heen werk om groter sosiale kohesie te bewerkstellig. Brand se werk met gemeenskappe en studente en haar uitstaande werk in die professionele uitvoerende kunste word hiermee gehuldig.Vanjaar was die eerste keer dat die fees ’n dansprogram aangebied het, saamgestel deur Marie Vogts. Figure of 8 Dance Collective se produksie Wag/Waiting, wat die ingrypende sielkundige uitwerking van wag op die mens ondersoek, is met die Woordtrofee vir beste dansaanbieding vereer. Dit is tegelyk humoristies en hartverskeurend. Die choreografie is deur Grant van Ster en Shaun Oelf. Op die Fringe of randfees, waar jong kunstenaars die water toets, is Moord, op die 8ste gat as die beste produksie aangewys. Die kunstenaar Olaf Bisschoff se tentoonstelling The Shape of Things to Come was die beste visuele aanbieding op die fees. ’n Ekstra pluimpie vir die musikant Karen Zoid, wat vanjaar twee dekades in die musiekbedryf vier, is dat haar aanbieding 20 jaar pops, saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, nie net vir beste tegniese prestasie (Johan Griesel en Revil Baselga) vereer is nie, maar ook die spesiale Toyota Top-orde gekry het.Onder die vaandel van kontemporêre musiek is Amanda Strydom se Stadig oor die klippers as beste podiumproduksie vereer, Early B se vertoning is die beste buitelugproduksie en die beste musiekgedrewe produksie is Die poet, wie’s hy? Laasgenoemde handel oor die lewe en werk van die ontslape digter, dramaturg en skrywer Adam Small. Dit is saamgestel deur Dean Balie en Frieda van den Heever. Dit het ook die Woordtrofee vir die beste feesproduksie ontvang – ’n prys wat vanjaar die eerste keer toegeken is.

Onder die klassiekemusiek-aanbiedings het die Universiteitskoor Stellenbosch, onder leiding van André van der Merwe, uitgeblink as die beste vokale aanbieding en die beste instrumentale aanbieding was Miclen LaiPang (viool) se uitvoering van Beethoven se Kreutzer-sonate saam met die LGT Young Soloists.Die boekpryswenners is bepaal volgens die beste verkope in verskillende kategorieë.Die topverkoper in die niefiksie-kategorie is Yusuf Daniels se Living Coloured (Because Black and White Were Already Taken) en in die leefstyl-kategorie Marinda Engelbrecht se Maklik met Marinda en Herman Lensing se Dit proe soos huis. Die topverkoper-poësiebundel is Jeanne Goosen se Het jy geweet ek kan toor? en die topverkoper-fiksieboek die Woordfeeskortverhaalbundel 2020: Aanhou beweeg en geraas maak (samestellers: Suzette Kotzé-Myburgh, Valda Jansen en Madri Victor).Die veteraan-kunsjoernalis Marina Griebenow is vereer vir beste prestasie in kunsjoernalistiek. 

Die wenner van die WOW-prys vir onderwyser van die jaar is Rollan Andrews en die WOW-prys vir skool van die jaar Klein Nederburg Sekondêr. Die toprestaurant in Die Burgeroorlog was RocoMamas.

Die beoordelaarspaneel is saamgestel uit genre-spesifieke kenners. Vanweë die omvang van die program in sekere afdelings het Haddad Viljoen (toneel), Heinrich van der Mescht (klassieke musiek) en Rafiek Mammon (kontemporêre musiek) as sameroepers opgetree. Hierdie panele het aanbevelings gedoen aan die oorsigpaneel wat verantwoordelik was vir pryse in die kategorieë vir beste opkomende kunstenaar(s) en beste feesproduksie. Gillian Mitchell was die sameroeper van die oorsigpaneel, wat ook bestaan het uit Paul Boekkooi en Diane de Beer. Die wenners ontvang elkeen ’n kunswerk deur Theo Paul Vorster en ’n bedrag geld. Kort videoboodskappe van die wenners is op woordfees.co.za te sien.

Meer oor:  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.