Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Aardklop gekanselleer: Potch verloor R49 m.
Saartjie Scholtz, wat die Oudewerf-gastehuis in Potchefstroom saam met haar man, Sewes, besit, met hul hondjie Snowy in haar arms, voor een van die woonhuisies op die gastehuis se erf. Foto: Susan Cilliers

Potchefstroom gaan vanjaar sowat R49 miljoen verloor noudat die Aardklop Nasionale Kunstefees weens die Covid-19-pandemie gekanselleer is.

Jonathan Baron, voorsitter van die stad se sakekamer, sê dit is hoeveel navorsers aan die Noordwes-Universiteit (NWU) bevind het Aardklop in 2019 vir die stad gegenereer het.

Minstens 800 vaste en tydelike personeel, waarvan 75% uit Potchefstroom gekom het, het tydens Aardklop gewerk.

“Sowat 70% van die produkte en dienste wat Aardklop aanskaf, kom ook uit die plaaslike mark, byvoorbeeld kos, verblyf en dienste soos sekuriteit,” sê Baron.

“Gastehuise verloor nie net die inkomste nie, maar baie sal dalk nou deposito’s moet terugbetaal aan mense wat reeds vir Aardklop bespreek het.”

Baron, ook Aardklop se ouditeur, sê egter die fees het genoeg geld om hom tot volgende jaar te dra sodat dit weer in 2021 kan plaasvind.

“Ons as die sakekamer sal nie toelaat dat die fees vir altyd ten gronde gaan weens Covid-19 nie. Ons het dit een keer (in 2016) van ondergang gered en kan dit weer doen. Aardklop skep ’n trots en ’n gemeenskapsgevoel onder plaaslike inwoners. Die sakekamer sal sy noue verbintenis met die fees, en vir die voorbestaan daarvan, behou.”

Eienaars van gastehuise en restaurante in Potchefstroom met wie Netwerk24 gepraat het, sê hulle is nou meer bekommerd oor die inkomste wat hulle weens die inperkingsregulasies verloor as oor die verlies aan inkomste weens die kansellasie van Aardklop.

Die verlies aan die verwagte inkomstehupstoot tydens Aardklop, saam met die verlies aan ikomste weens Covid-19, het ’n eskalerende negatiewe uitwerking op die restaurant- en gastehuisbedryf.

Die verlies aan die verwagte inkomstehupstoot tydens Aardklop, saam met die maande lange verlies aan inkomste weens Covid-19, het egter ’n eskalerende negatiewe uitwerking op die restaurant- en gastehuisbedryf in die stad.

Gastehuise is elke jaar vol bespreek vir Aardklop.

Sewes Scholtz (71), wat die Oudewerf-gastehuis naby die NWU se Potchefstroomkampus saam met sy vrou, Saartjie, besit, sê hulle verwag nie dat die gastehuisbedryf vóór die einde van vanjaar behoorlik sal herstel nie omdat hulle vermoedelik eers op vlak 1-inperkings ten volle sal kan funksioneer. Sewes sê saam met die kansellasie van Aardklop verwag hulle ’n inkomsteverlies van sowat R1 miljoen tot die einde van die jaar. “Intussen gebruik ons ons pensioengeld.”

Saartjie en Sewes betaal steeds hul twee personeellede wat inwoon en by hulle eet se volle salarisse.

“Ons onderhou in der waarheid ook hul uitgebreide gesinne, maar ons is teleurgesteld oor die swak ondersteuning van die regering,” sê Saartjie.

Sewes sê hul grootste bron van inkomste is ouers van studente sover as Namibië, nagraadse studente en besoekende dosente aan die NWU. Ook dié inkomste is voorlopig van die baan omdat die universiteit nou gesluit is.

Bennie Peters, eienaar van Sunset Manor-gastehuis, sê sedert die inperking begin het, is hy sowat 90% van sy inkomste kwyt. Hy betaal tans die verskil in vir werkers wie se werkloosheidsversekering nie hul volle salaris betaal nie. “Dit sal egter nie onbepaald so kan voortgaan nie.”

Gastehuise en restaurante verloor nou ook inkomste uit baie oorsese atlete wat in Potchefstroom oefen. Antonette Angelides, mede-eienaar van Ocean Basket, sê hulle het vanaf einde verlede jaar tot in Januarie baie oorsese atlete bedien wat hier kom voorberei het vir die Olimpiese Spele.

“Hulle moes weens die pandemie terugkeer. Ons weet nie of hulle weer einde vanjaar sal terugkom om (vir volgende jaar se Spele) te kom oefen nie.”

Lukas van Wyk, eienaar van die Ancient Emperor Guest Estate, verwag ook die bedryf sal eers teen 2021 herstel en meen gastehuise kan tot 50% van hul inkomste verloor.

“Met net April en Mei se verliese (weens die inperking) en die stil Desember en Januarie, is vier maande reeds verlore.”

Maurice Wessels, mede-eienaar van die gewilde Beef Boys- en Fish Monger-restaurant naby die Aardklop-feesterrein, sê hulle verloor reeds 95% van hul inkomste weens die inperking en drankverbod.

“Die verlies aan die Aardklop-inkomste is nóg ’n harde slag omdat die goeie besigheid tydens die fees ons deur die stil Desember en Januarie dra. Indien regulasies nie gou in die restaurantbedryf verslap word nie, gaan baie vou.”

Restauranteienaars is dit eens dat aflewerings nie besonder winsgewend is nie.

“Ons doen dit net om ons deure oop te hou en ’n diens te bly lewer,” het een van die restaurant-eienaars Dinsdag gesê.

Meer oor:  Potchefstroom  |  Gastehuis  |  Koronavirus  |  Aardklop  |  Verlies  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.