Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Aardklop vier 21 jaar met bielie van ’n fees
Sandra Prinsloo

Die Aardklop-kunstefees, ’n Fiëstawenner as die gewildste kunstefees, is vanjaar mondig.

Alexa Strachan, die feesbestuurder die afgelope drie jaar, beloof ’n spyskaart wat wissel van dramas waarin jy jou behoorlik kan verdiep tot voetklop-optredes van musikante soos Bouwer Bosch, Elvis Blue en The Parlotones.

’n Stewige boek- en gespreksprogram wag, asook talle leefstylaanbiedinge en vermaak vir die kleingoed. Dit word van 1 tot 7 Oktober in Potchefstroom aangebied.

Daar is vanjaar 30 debuutproduksies. Die derde aflewering van die grensverskuiwende teaterervaring DEURnis, die een-tot-een-teaterervaring wat verlede jaar op die einste Aardklop gedebuteer het, is terug met vier nuwe pakkette en ’n nuwe onderneming genaamd 20-voor-2, waar twee akteurs voor 20 gehoorlede optree.

Stian Bam vertolk die hoofrol in Bloed en bodem van die dramaturg Marina Albertyn op die Aardklop-kunstefees.

Bloed en bodem, die dramaturg Marina Albertyn se tweede drama ná verlede jaar se wegholtreffer Melk en vleis, debuteer op die fees. Marthinus Basson is die regisseur met Stian Bam in die hoofrol. Dit speel af op ’n verlate familieplaas en handel oor grond, familie, plaasaanvalle en Afrikanermans wat aan die verkeerde kant van die apartheidsregering geveg het.

Cintaine Schutte en Nadia Valvekens is die spelers in Nico Scheepers se nuwe drama Huishou. Dit handel oor twee vroue wat ’n swart kind wil aanneem en die verreikende implikasies van hul besluit.

Die Amerikaanse dramaturg Arthur Miller se drama All my Sons is die inspirasie vir die verwikkelde familiedrama My seuns deur die dramaturg en regisseur Christo Davids.

De Klerk Oelofse

Die gebeure kring uit rondom Ouma se verjaardagparty – Pa wag om te hoor of hy as regter aangestel gaan word, sy twee volwasse seuns is in mekaar se hare oor hulle dalk op dieselfde vrou verlief is en hul ma weet dalk meer as wat sy voorgee.

Die spelers is onder andere Sandra Prinsloo, André Odendaal en Edwin van der Walt.

Die Britse komedietradisie van Monty Python is een van die voedingsbronne vir die akteur Ludwig Binge se tweede toneelstuk My mense is die kluts kwyt.

Hier word kommentaar gelewer oor geslagsgelykheid, homofobie en magsmisbruik.

Dit word opgevoer met De Klerk Oelofse, Binge en Roeline Daneel.

Dizzy se gawe om met die dooies te kommunikeer is die gegewe van ’n nuwe drama deur Wessel Pretorius getiteld Lykskou. Dizzy en haar broer Orph is erfgename van ’n rondreisende begrafnisonderneming.

Wanneer hulle die versorging moet waarneem van ’n hele krieketspan wat in ’n ongeluk gesterf het, raak sake verstrengel. Die spelers is Bouwer Bosch en Je-ani Swiegelaar.

Frank Opperman, Joanie Combrink en Antoinette Kellermann is die hoofspelers in Toutjies en Fer­reira van die dramaturg Saartjie Botha. Dit handel oor daardie spanningstyd vir akteurs en tegnici voordat die gordyn lig vir die eerste vertoning op ’n kunstefees.

Die akteurspaar Wilson Dunster en Elize Cawood verenig vir Wildeals van Wessel Pretorius. Cawood is Hilde Kraus, ’n skrywer wat spartel om haar finale roman te voltooi.

Sy roep dan die hulp van haar muse in wat saam met haar oud geword het. Die regisseur is Gerrit Schoonhoven.

Feesgangers kan ook uitsien na die trefferproduksies vars van die ander kunstefeeste, soos byvoorbeeld Uit die bloute gegrond op Eugène Marais se verhale, die distopiese drama Swerfgoed, Soebatsfontein en die komiese 3 susters en nog veel meer.

Onder die musiekproduksies staan die Charl Du Plessie Trio se Dis opera uit, asook ’n optrede van die a capella-sangensemble Die Boulevard Harmoniste, Nataniël se vertoning Classic Nataniël, en Ella Fitzgerald – A Century in Song met onder andere Anna Davel.

Onder die klassiekemusiek-aanbod tel Mens, Natuur en Dier met optredes deur die bariton Christian Bester en pianis Andri Grobler, asook ’n uitvoering van die komponis Franco Prinsloo se Musica Sacra saam met die NWU-simfonie-orkes en -koor.

Bespreek by Ticketpro vanaf
23 Julie.

Meer oor:  Aardklop-Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.