Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Anita mis KKNK vir níks nie
Anita Carstens op die feesterrein in Baron van Reedestraat. Foto: Simon Sonnekos

Terwyl talle feesgangers toesak op Oudtshoorn vir die jaarlikse Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), het die trek na die dorpie vir Anita Carstens (59) van Centurion, Gauteng, ’n instelling van die fees se begin geword.

“Ek was hier vir die heel eerste fees in 1994, toe Kurt Darren se ‘Meisie meisie’ ’n treffer was. Toe was daar net een verhoog en biertent, en sedert mis ek die KKNK vir niks nie, selfs al is daar ’n familiekrisis, ek kan dit altyd ná die week hier uitsort,” sê Carstens.

Sy en ’n paar van haar vriende het in die beginjare van die fees onderneem om jaarliks byeen te kom en saam die kultuur wat te sien is in te neem.

En al het sommige van die vriendinne deur die jare nie meer gekom nie, is sy vanjaar saam met vier van haar vriendinne wat van so ver as Heidelberg, Namibië, Stellenbosch en Pretoria af gekom het op die fees.

“In die begin het ons ons gesinne saamgesleep na die fees toe, maar op die ou einde het ons besef dit is baie lekkerder om hier te wees as ons almal alleen kom. My man het so ’n paar jaar saamgekom, maar ek het naderhand my vir hom vervies omdat hy die heeltyd in die biertent wil sit in plaas van produksies kyk. Ek het besef dit is moerlekker sonder hom,” sê Carstens in die Queens’s-hotel se restaurant, Café Brûlé, in Baron van Reedestraat.

Carstens gaan al vir 15 jaar in dié hotel tuis ten tyde van die fees, maar sê dit het al vir ’n hele paar grys hare gesorg.

“Verlede jaar was daar ’n klavier buite die hotel wat elke dronk mens in Oudtshoorn 02:00 begin speel het. Ek moes talle kere my kop uit die ruit druk en hulle verskree.”

Al is daar enkele laagtepunte vir Carstens, bly die hoogtepunte, deur die jare, volop.

Verlede jaar was daar ’n klavier buite die hotel wat elke dronk mens in Oudtshoorn 02:00 begin speel het. Ek moes talle kere my kop uit die ruit druk en hulle verskree.

“Daar is elke jaar ’n produksie wat van so ’n hoë gehalte is dat dit my asem wegslaan.”

Sy sê enigiets waarin Sandra Prinsloo of Marius Weyers speel, is vir haar uitstekend.

“Hulle was albei in die oorspronklike rolprent, maar so ’n paar jaar gelede was daar ’n verwerking van Siener in die suburbs wat uitstekend was. Verder was Shirley Valentine met Shaleen Surtie-Richards ook briljant gewees. Die fees het altyd iets goeds te sien.”

Selfs die produksies wat omstrede is of nie die beste resensies kry nie, is vir Carstens waardevol.

“Ek kon nog altyd iets wegneem van ’n produksie wat ek gekyk het. ’n Mens leer altyd iets nuuts. Kaalgatgeit in produksies het al mense afgesit om dit te kyk, maar ’n mens moet die produksie in die geheel beoordeel en ’n oop gemoed handhaaf. Jy sal altyd later iets leer, al ontstel dit jou in daardie oomblik.”

Daar is baie ander kunstefeeste in die land, maar die KKNK, in die pragtige dorpie van Oudtshoorn, bly verreweg die lekkerste.

Haar raad vir feesgangers wat die fees optimaal wil geniet, is om nie te veel hooi op hul vurke te laai nie.

“ ’n Mens kan nie al die produksies kyk nie. Jy kan ook nie vyf op ’n dag sien nie. Jy moet dit egalig versprei. Ek sorg dat ek een drama, een komedie en een musiekvertoning ’n dag kyk. As daar meer as dit is, sal my boude dit nie hou nie.”

Verder glo sy feesgangers moet die terrein goed verken en hul tyd in Oudtshoorn deeglik beplan.

“Daar is baie ander kunstefeeste in die land, maar die KKNK, in die pragtige dorpie van Oudtshoorn, bly verreweg die lekkerste.”

Meer oor:  Oudtshoorn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.