Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Blinde musikante neem jou op 'toeoogafspraak'
Pres. Cyril Ramaphosa oorhandig in 2018 ’n Sama vir lewenslange bydrae aan die legendariese sanger en liedjieskrywer Steve Kekana.

’n Groep blinde en siggestremde musikante – onder andere die legendariese sanger Steve Kekana – gaan die Suid-Afrikaanse Biblioteek vir Blindes (SALB) se eeufees met ’n konsert by die Nasionale Kunstefees vier.

Kekana, wat in 2018 met ’n Sama vereer is vir sy lewenslange bydrae, gaan die treffers “Feel So Strong” en “Take Your Love” in die produksie The Blind Date sing.

Die sanger Melikhaya Hugh, die pianis en sanger Gavin Grundlingh, die Stellenbosse pianis Michelle Nell, die sanger en kitaarspeler Lois Strachan en die sibbe Pieter-Jans (kitaar en sang) en Elna Dürr (fluit) sal die verhoog met Kekana deel.

Die digters dr. William Rowland en Lelethu Mahambehlala gaan ook van hul gedigte voorlees.

Volgens Francois Hendrikz, direkteur van die SALB, is die konsert deel van ’n reeks geleenthede wat professionele kunstenaars met siggestremdhede vanjaar in die soeklig gaan plaas.

“Blinde mense is ook kreatief en lewer ’n enorme bydrae tot kuns en kultuur,” sê hy. “Hulle kry net nie altyd die geleentheid om op die verhoog te wees nie.”

Hulle poog ook om die SALB onder die breër publiek se aandag te bring, sê hy.

Blinde mense is ook kreatief en lewer ’n enorme bydrae tot kuns en kultuur. Hulle kry net nie altyd die geleentheid om op die verhoog te wees nie.
Francois Hendrikz, SALB-direkteur

Die biblioteek, wat in 1919 in Makhanda (voorheen Grahamstad) gestig is, is die enigste van sy soort in Afrika wat onder meer boeke, tydskrifte en koerante in braille of ’n oudioformaat aan sy meer as 7 600 lede verskaf.

Die biblioteek bied ook sy dienste aan 153 satellietbiblioteke in Suid-Afrika, en maak staat op sowat 60 vrywilligers, wat jaarliks help om sowat 600 nuwe braille- en oudioboeke te publiseer.

Hoewel die SALB deur die nasionale departement van sport, kuns en kultuur befonds word, sê Hendrikz geld bly ’n probleem.

“Ons moet wel die regering krediet gee: Hulle kom hul verantwoordelikheid tot blinde mense na. Die tegnologie en hardeware wat ons benodig is duur en dit is nie goedkoop om ’n biblioteek te bestuur nie.

“Maar daar is nooit genoeg geld nie. Met ons begroting kan ons ons basiese dienste befonds, maar vir veral die satellietbiblioteke het ons borge nodig. Ons is suksesvol, maar dit is nie maklik nie.”

* The Blind Date word op 29 en 30 Junie om 15:00 by die NELM-teater in Makhanda uitgevoer. Kaartjies kos R60 en die afslagprys is R55. Bespreek op www.nationalartsfestival.co.za.

Meer oor:  Makhanda  |  Nasionale Kunstefees  |  Grahamstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.