Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Bloemfonteinse Afr. Taaltoer met prof. Jaap Steyn ’n moet

Die Bloemfonteinse Afrikaanse Taaltoer wat die Nasionale Afrikaanse Letterkunde Museum en Navorsingsentrum (Naln) op die vooraand van die Vryfees vanjaar aanbied met prof. Jaap Steyn, die skrywende legende vir Afrikaans, moet eenvoudig beleef word.

Dit vind op Sondag 30 Junie om 14:00 plaas.

So sê Annelien Diedericks, museum-geesteswetenskaplike van Naln, wat met die reëlings gemoeid is.

Leana Lategan, hoofvakkundige by Naln, sê ook dat sy die belangrikheid van die toer wil beklemtoon, omdat mense werklik verryk anderkant sal uitstap.

Prof. Jaap Steyn. Foto: LitNet

“Gaste sal ’n stukkie taalverlede kan verwag om ’n verskeidenheid persoonlikhede tydens die toer te ontmoet: Oom Lokomotief, dr. Johannes Brill, H.A.L. Hamelberg, F.W. Reitz, die twee Grosskopfbroers, J.D. Kestell, Willem Postma, D.F. Malherbe en vele ander. Die bydrae wat die pers tot die ontwikkeling en verloop van Afrikaans gemaak het, word onder meer duidelik uit vertellings rondom koerante soos The Friend, De Tijd, De Bloemfonteinse Express, en natuurlik Volksblad. Skoolgeskiedenisse kom ter sprake, en daar is ook inligting oor taal- en kultuurverenigings, die Ramblers-klub, stadsaal, die Universiteit van die Vrystaat en die hooggeregshof. En dis maar enkeles.”

Diedericks sê Naln het al in die verlede verskeie Bloemfonteinse stadstoere oor die Afrikaanse letterkunde aangebied.

“Meer as 130 Afrikaanse skrywers het ’n verbintenis met Bloemfontein.

“Die moontlikhede om oor jeugboekskrywers, vroueskrywers, boeke oor die Anglo-Boereoorlog en ook verskeie individuele skrywers soos Berna Ackerman, Elize Parker, Philip de Vos en Maretha Maartens rondritte te doen, was interessante kennismakings met soms vergete stadsbakens.”

Die Taaltoer wat vanjaar, ter inleiding van die Vryfees, aangebied word, sal egter ’n unieke en eenmalige ervaring wees.

Die Taaltoer wat vanjaar, ter inleiding van die Vryfees, aangebied word, sal egter ’n unieke en eenmalige ervaring wees.

Prof. Steyn, Bloemfontein se geliefde en hoogs gerespekteerde akademikus en skrywer, het verlede jaar sy tagtigste verjaardag gevier en sal nou as verteller optree.

“Afgesien van die feit dat hy ’n veelbekroonde skrywer van poësie en romans is, is hy ’n gerekende taalwetenskaplike, taalhistorikus en -sosioloog. Tuiste in eie taal was ’n tydige en belangrike bydrae, wat hy in boekvorm oor Afrikaans gepubliseer het.

“In 2014 het die omvangryke en meesleurende Ons gaan ’n taal maak, lesers en taalgebruikers se aandag opnuut op die geskiedenis en impetus van Afrikaans gevestig.

(Hy het die gesogte Jan H. Maraisprys vir dié werk ontvang.)

Annelien Diedericks, museum-geesteswetenskaplike by die Nasionale Afrikaanse Letterkunde Museum en Navorsingsentrum (Naln), links, en Corlietha Swart, die voorsitter van die Bloemfonteinse skrywersvereniging. Foto: LitNet

Vir die toer wat op Sondag 30 Junie aangebied word, het prof. Steyn ingewillig om nie alleen sy navorsingskennis te deel nie, maar om ook as eregas tydens die toer op te tree en self te vertel van die ryk en hoofsaaklik onbekende geskiedenis van Afrikaans in Bloemfontein.

Gaste sal ná die rondrit ’n glasie sjerrie in Naln se ouditorium kan geniet en die faksimilee-uitstalling van D.F. Malherbe kan besoek.

Die handgeskrewe kennisgewing wat hy in 1918 oor die gebruik van Afrikaans tydens die aflê van universiteitseksamens opgestel het, is een van die juwele in die uitstalling.

Veilige parkeerplek sal vir die duur van die toer vir gaste se voertuie op die teerblad aan die noordekant van Naln beskikbaar wees.

Die handgeskrewe kennisgewing wat hy in 1918 oor die gebruik van Afrikaans tydens die aflê van universiteitseksamens opgestel het, is een van die juwele in die uitstalling.

’n Motorwag sal beskikbaar wees om na die veiligheid van motors om te sien.

*Die Taaltoer begin om 14:00 by Naln en duur sowat 180 minute. Dit kos R150 en kaartjies is vooraf slegs by Computicket te kry. Dit is vir ’n groot luukse bus.

*Die Literatuurfees se Hulde aan helde-reeks en Literatuurgeskiedenisreeks se kaartjies is ook by Computicket beskikbaar. Belangstellendes moet verkieslik via Computicket kaartjies koop. Volgens Corneli van den Berg sal kaartjies ook by Naln voor vertonings aangebied word. Dit sal diegene help wat nie via Computicket kan koop nie, veral die ouer garde.

  • Vir meer besonderhede bel Diedericks by tel 076 741 0628 / 051 405 5407 (w)
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.