Die regte vir ’n West End-musiekblyspel is vir die eerste keer vir die Oppiwater-kunstefees bekom en die sanger Brendon Peyper vertolk die hoofrol in die gewilde Buddy – The Buddy Holly Story.

Brendon Peyper
Dié kunstefees word van 15 tot 19 April deur RSG en Lefra op die MSC Musica aangebied en vaar van Durban na Pomene in Mosambiek en terug.
Peyper vertolk die ware lewensrol van die sanger Buddy Holly, wat op 23-jarige ouderdom in ’n vliegongeluk dood is, maar reeds trefferliedjies soos “Peggy Sue”, “That’ll be the Day”, “Oh Boy”, “Maybe Baby”, “True Love Ways” en “Heartbeat” geskryf het.
Peyper moes stemonderrig ondergaan vir die Amerikaanse aksent en toneelklasse loop.
Jaconell Mouton is die musikale regisseur, met Frans Swart die regisseur van die opvoering wat deur die West End-ikoon Alan James geskryf is.
Die organiseerders het bevestig dat enkele kajuite nog op die feesskip beskikbaar is en besprekings kan aanlyn gedoen word op oppiwater.co.za of telefonies by 0860 11 44 11.
Vir meer inligting, bel Lefra by 011 815 3000 of stuur e-pos na oppiwater@ rsg.co.za. Kaartjiebesprekings vir die Buddy Holly-musiekblyspel kan gedoen word by Computicket.
25 Afrikaanse produksies word ook opgevoer.
Ander kunstenaars en vertonings waaruit mense kan kies, sluit in Amanda Strydom in State of the Heart; Helena Hettema met haar Franse legendes; en Helenè Bester sing Nana Mouskouri.