Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Darling se Voorkamerfest is terug

Nadat daar twee jaar gelede ’n stilte neergedaal het op die voorkamers van huise op Darling is een van Suid-Afrika se eiesoortigste feeste terug vir die 13de makietie.

Soos voorheen staan die gemeenskap reg met voordeure wawyd oop om die Voorkamerfest aan te bied.

En nes van ouds staan Pieter-Dirk Uys op Evita se perron om die feesgangers van Vrydag 31 Augustus tot Sondag 2 September op Darling te verwelkom.

“Ek sê altyd fight fear with fun. En dis waarna gehore kan uitsien – hope pret,” sê Uys.

Dié fees is gestig in 2004 deur Inge Bos en Wim Visser, met die hulp van Uys en die gemeenskap. Danksy Uys, alombekend as tannie Evita Bezuidenhout, inwoners en sakelui van die dorp kry dit nou weer nuwe lewe.

Geesdriftige feesgangers.Foto: Voorkamerfees

“Dit was ’n groot slag vir die gemeenskap toe die fees twee jaar gelede weens finansiële redes gestaak is, maar almal is nou meer betrokke en beplanning het reeds vroeg begin. Als word by die dag meer persoonlik vir elke inwoner.”

By die Voorkamerfest sit gehore in voorkamers van huise, verspreid oor die dorp, sonder om te weet watter opvoering hulle gaan sien. Daar is sewe kleurroetes met drie vertonings in drie huise. Minibusse ry vanaf Evita se Perron na verskeie huise, wat wissel van ou Kaapse herehuise tot Hop-huise, waar gehore deur inwoners ontvang word.

Evita se Perron is die sentrale punt van die fees met talle markstalletjies, gekoördineer deur die bemarkingsagentskap I Love Yzervan Yzerfontein-toerisme. Die fees sal afgesluit word met ’n gratis buitelugkonsert in Darling-Oos.

Gehore kan uitsien na 21 vertonings van gesamentlik 60 kunstenaars – hetsy individue, ensembles of geselskappe. Dit sluit die Jazzart-dansteater, die Nylon-dansgroep, Jitsvinger en The Buckfever Underground in.

Teater, musiek, dans, komedie en sang is deel van die program.

“Altesaam 21 huise is nou gedoop as teaters deur die gemeenskapslede. Almal is opgewonde om die gaste en kunstenaars te verwelkom.”

Die fees word ook deur die Fugard-teater in Kaapstad moontlik gemaak.

“Hulle het ’n belangrike rol gespeel om kunstenaars te kry en om te help met ons begroting. Die kunstenaars se salarisse en akkommodasie is omtrent die helfte van ons begroting. En dis so opwindend dat dié teatergroep betrokke raak by gemeenskappe.”

Hy meen gemeenskapsfeeste is ’n wonderlike manier om mense te verenig en nader aan mekaar te bring.

“Die fees is nie polities nie en dis ’n stap in die regte rigting. Almal lag saam en werk saam,” sê Uys.

Hy glo ook dat vermaak deure oopmaak om verskeie euwels in gemeenskappe uit te roei.

Uys gaan nie optree nie, maar sal wel daar wees.

“Ek is net ’n spaarwiel – die understudy. As enige kunstenaar weens onvoorsiene redes kanselleer, sal ek inspring.”

Tasha Reid en Antoinette van Heerden sit hand by aan die produksiekant.

Roetes is geskeduleer vir 17:00 op Vrydag, 12:00 en 17:00 die Saterdag en 12:00 op Sondag.

* Kaartjies is beskikbaar by Quicket, www.voorkamerfest-darling.co.za, bookings@voorkamerfest-darling.co.za. en 079 1903 218.

Op Vrydag 31 Augustus kos kaartjies R200 per persoon en op Saterdag en Sondag R250 per persoon.

Meer oor:  Pieter-Dirk Uys  |  Darling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.