Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Die ‘bar’ ís al oop op die VS Kunstefees
Die spelers in Is die bar al oop? is van links Dion van Niekerk, Esther von Waltzleben, Thys Heydenrych en Chanmari Erasmus.

“Is die bar al oop?”

Dit is wat al die mans vra wanneer hulle by ’n fees aankom, sê Nico Luwes, dramahoof aan die Universiteit van die Vrystaat (UV). En dit is net wat dié dramaturg met ’n oog en oor vir humor nodig gehad het om nog ’n nuwe komedie vir die Vrystaat Kunstefees te skryf.

Die akteur Wynand van Vollenstee het weer na binne gekyk toe hy ’n solokomedie wou gereed kry. Hy het na sy eie lyf gekyk, aan sy maerwordpogings gedink en ’n Gewigtige saak het vorm aangeneem.

Dit en Is die bar al oop? is twee stukke vir diegene wat fees toe kom met die idee om vermaak te word terwyl hulle agteroor sit.

Wynand van Vollensteeis in ’n Gewigtige saak te sien.

Is die bar al oop?

Dié komedie gaan oor ’n Chinese ete wat liederlik skeefloop. Popeye en sy vrou, die kultuurhonger Bianca-Joy, is die gasheer en -vrou en op kussings om hul tafel sit hul dogter, Katrien, haar man, Janneman, en haar ongeliefde skoonouers.

Vir Bianca-Joy is alles wat uit die Ooste kom Chinees – maak nie saak of dit harakiri, ’n teeseremonie of papiersambrele is nie.

Voeg by dié klugtige gegewe die eienaar van ’n insleepdiens (Popeye), die snobistiese narkotiseur dr. Niel Badenhorst (die skoonpa) en sy koketterige vrou, Roxelle, en Katrien en Janneman wat pas getroud is.

Johan Myburg skryf in ’n resensie oor die opvoering verlede jaar op die Innibos-fees: “Luwes kom vorendag met ’n teks en regie wat by tye vlymskerp en onthullend is, soos dat Popeye se insleepwa 13 keer meer kos as dr. Niel se BMW.”

Die akteurs is Esther von Waltzleben, Ané van den Berg, Dion van Niekerk, Chanmari Erasmus, Thys Heydenrych en Charl Henning.

*

12 Julie om 10:30, 13 Julie om 10:30 en 12:30, 14 Julie om 16:00, 60 minute, in die kykNET-Scaena. R135 by Computicket.

’n Gewigtige saak

Wynand van Vollenstee, oftewel Gielie in die TV-sitkom

Ouboet en Wors, is groot – volgens hom ekstragroot. Hy sê in ’n wêreld wat te klein is vir hom en diesulkes wag om elke hoek en draai ’n mynveld van komplikasies.

Hy meen vroue bekla gedurig hul vet lot, terwyl mans nie graag oor hul ekstra bagasie praat nie.

Van Vollenstee verbreek dié swye met ’n blik op die swaarkry van ’n man met sy lyf, alles met ’n komiese kinkel en met Lizz Meiring wat as regisseur die stuk verder ingekleur het met haar humor.

Die komedie is nie net vir mans nie en ook nie net vir gesette mans en vroue nie. Hy sê ook dié wat nog nooit uitgelewer was aan die tel van kilojoules nie, sal dit geniet.

Van Vollenstee het drama aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie (TUT) studeer en is ook ’n danser, sanger en aanbieder.

Hy het die hoofrol gespeel in die fliek Karate Kallie en was onder meer te sien in Platteland, die TV-reekse Die munisipaliteit van Gwarra Gwarra, Getroud met rugby en Erfsondes en die teaterstukke My vrou se man se vrou, Hoe later hoe kwater en Aspoestertjie.

*

11 Julie 13:30, 12 Julie 13:00, 13 Julie 17:00, 70 minute, Albert Wessels-ouditorium. R125 by Computicket.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.