Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Dié jonges gee die toon aan
Jefferson Tshabalala, Sisonke Xonti, Lulu Mlangeni (middel), Blessing Ngobeni en Nthato Mokgata, die Standard Bank Jong Kunstenaars vir 2020. Hulle skep werk vir die hooffees van die Nasionale Kunstefees, wat van 25 Junie tot 5 Julie in Makhanda aangebied word.Foto: Verskaf

Suid-Afrika se kreatiewe landskap gaan binnekort opnuut herskryf word deur vyf jong kunstenaars.

Dié vyf is pas met die Standard Bank Jong Kunstenaars- pryse vereer. Dit is van Suid-Afrika se mees gesogte kunspryse en bestaan al sedert 1981. Dit dien as ’n hoeksteen van die kaliber kuns wat in Suid-Afrika geskep word en waarna kunstenaars kan streef. Hiervolgens word hulle gesteun om by aanstaande jaar se Nasionale Kuns­tefees in Makhanda (Grahamstad) ’n werk op die hooffees te skep.

Die vyf is Blessing Ngobeni, Nthato Mokgata (dalk beter bekend as Spoek Mathambo), Lulu Mlangeni, Jefferson Tshabalala en Sisonke Xonti.

Mokgata is in Soweto gebore en werk as ’n musikant, kunstenaar, vervaardiger, rapper en liedjieskrywer-sanger. Sy musiek en projekte het gesorg dat hy op 34 die wêreld al deurkruis het. Die veelsydige kunstenaar is ook die regisseur van Future Sounds of Mzansi, ’n dokumentêre prent oor Suid-Afrika se kulturele landskap twee dekades ná demokrasie.

Ngobeni is oorspronklik van Tzaneen. Sy werk word tans op die Venesiese Biënnale ten toon gestel. Onder sy mentors by die Bag Factory in Johannesburg tel David Koloane, Patrick Mautloa en Sam Nhlengethwa. Hy is ’n kunstenaar wat die status quo graag uitdaag, maar steeds ’n beter wêreld vir sy medemens wil skep. Sy media is skilderye, beeldhouwerke, video en installasiekuns asook optredes. Hy daag die elite in magsposisies uit, bevraagteken korrupte beheerliggame in Suid-Afrika, en tree ook as mentor en ondersteuner van jong kunstenaars op.

Xonti is ’n jazz-saxofoonspeler, komponis en orkesleier. Hy was vanjaar op die hoofprogram van die Standard Bank-jazzfees op die Nasionale Kunstefees. Hy het al saam met grotes soos Hugh Masekela, Lira, Bokani Dyer en Simphiwe Dana saamgewerk. Sy eerste album, Iyonde, is in 2017 uitgereik. Hy het op die ouderdom van tien begin musiek maak en op 13 die eerste keer ’n saxofoon opgetel. Hy is oorspronklik van Gugulethu in Kaapstad.

Mlangeni is ’n danseres, onderwyseres en choreograaf. Sy het al wêreldwyd opgetree. Haar mees onlangse dansstuk is getiteld Confined en handel oor die politieke strydros Winnie Madikizela-Mandela. Sy is die kreatiewe assistent van die vooraanstaande Vuyani Dance Theatre in Newtown, Johannesburg. Sy is ook die wenner van die tweede reeks van So You Think You Can Dance en was as choreograaf by die derde reeks betrokke. Haar danswerk Page 27 is by verskeie kunstefeeste oorsee opgevoer.

Tshabalala is ’n skrywer, regisseur, akteur en stigter van die maatskappy Kiri Pink Nob Arts (Pty) Ltd. Hy het sy toneelstuk Kiri Goes Kasi na verskeie townships in Suid-Afrika geneem omdat hy glo dít is waar gehore is. Hy benut poësie, hip-hop, komedie asook tradisionele dramatiese kuns. Sy jongste werk, Ekasi Lam – An Ode to Kwaito, is op vanjaar se Nasionale Kunstefees opgevoer. Daarin gebruik hy die musiekgenre kwaito om na die stand van Suid-Afrika te kyk.

“Skyn soos die sterre wat julle is,” het Nobesuthu Rayi, hoofvervaardiger van die Nasionale Kunstefees, by die aankondiging van die vyf se name in Johannesburg gesê. Sy het opgemerk dat al vyf se werk van hoogstaande gehalte is en dat elkeen hulle bemoei met die status quo van die bedryf in hul werk.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.