Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
‘Die poet, wie is hy?’ met 5 Fiëstas vereer
Dean Balie is die verteller en medesamesteller van 'Die poet, wie is hy?', wat vyf Fiëstapryse gewen het. Foto: Lindsey Appolis

’n Ongewone hulde-aanbieding aan die ontslape digter-skrywer Adam Small, byna vyf jaar ná sy dood, het vyf Fiësta-pryse, die meeste van die aand, losgeslaan, insluitend dié vir beste algehele feesproduksie.

Die kykNET Fiëstas, wat prestasie op die land se vyf kunstefeeste vereer, is Sondagaand in ’n voorafopgeneemde program op kykNET bekend gemaak.

Die poet, wie is hy?, saamgestel deur Dean Balie en Frieda van den Heever, is nie net bekroon as die beste feesproduksie nie, dit het ook goue beeldjies versamel vir beste nuutgeskepte Afrikaanse teks én beste musiekgedrewe produksie in ’n teater.

Anna-Mart van der Merwe, Robert Hindley, Tinarie Van Wyk Loots en Stian Bam in 'Valsrivier', wat drie Fiësta-pryse verower het. Foto: Jaco Marais

Voorts is die regie van Van den Heever (van RSG Vers en Klank) en die teaterontwerp deur die musiekregisseur Charl-Johan Lingenfelder uitgesonder.

Die vertoning van musiek-en-woordkuns weerspieël Small (1936-2016) se reuse-bydrae tot die Suid-Afrikaanse kultuur. Balie tree as verteller op en die teks is saamgestel uit gedigte soos “Kô, lat ons sing” en die “Groot Krismasgabet”, maar ook heelwat minder bekende gedigte, prosa en stukkies uit Small se dramas. Voorts is musiek gemaak op sowat 30 instrumente, waarvan die meeste handgemaak is.

Die toneelverwerking van die skrywer Dominque Botha se debuutroman, Valsrivier, het drie Fiëstas versamel. In die toneelstuk poog ’n jong vrou om die selfdood van haar broer, Paul, te besweer. Daar is onderstrominge nie net in haar familie nie, maar ook in Suid-Afrika onder apartheid waarvan sy moet sin maak en leer navigeer.

Die jong Stellenbosse akteur Robert Hindley is nie net as beste akteur vereer vir sy sensitiewe vertolking van Paul nie, hy is ook bekroon as die jaar se beste opkomende kunstenaar vir dié aangrypende voorstelling. Voorts is Anna-Mart van der Merwe as beste aktrise vereer in haar rol as Paul se ma. 

Karen Zoid
Karen Zoid

Die rockster Karen Zoid het verlede jaar die mylpaal van 20 jaar in die bedryf behaal. Haar vertoning Karen Zoid 20 jaar Pops saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes span die kroon as beste musiekgedrewe produksie in die buitelug. Sy het die aand ou en nuwe treffers soos “Sonvanger” en “Donkernag” onder ’n reuse-volmaan gesing. Die musiekregisseur en verwerker was Matthijs van Dijk.

Die kurator Dineke van der Walt se aanbieding van die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees se visuele kunsaanbod as ’n toeganklike dog visueel prikkelende virtuele galery het aan haar die Fiësta vir visuele kuns besorg.

Die omroeper en akteur Nic de Jager is met ’n Fiësta vereer vir sy lewenswerk.

Bryan Wallick, Frank Stadler en Peter Martens se aanbieding van Beethoven se Triple Concerto is op hul beurt uitgesonder as die Fiëstawenners vir klassieke musiek. Hul uitvoering is virtueel aangebied deur KKNK Klassique.

Die aanlyn uitvoering Dans van my heenkoms van die choreograaf Alfred Hinkel en die Noord-Kaapse Garage-dansensemble is vereer as beste aanlyn feesprojek. Dit is opgevoer as deel van die Vrystaatse kunstefees.

Die bolerodans word daarin gebruik as reaksie op die sosio-politieke klimaat in Suid-Afrika. Die video is tydens die inperking in O’Kiep verfilm. Verskillende plaaslike dansstyle kom byeen op maat van die tydlose musiek van Ravel.

Vanjaar is daar vir die eerste keer drie Sinjatuur-pryse uitgedeel. Dit erken kunstenaars wat volgehoue prestasie lewer. Cintaine Schutte, De Klerk Oelofse en Dean Balie is só vereer.

Jana Hattingh van die Suidoosterfees is met ’n Fiësta Blou Stoel-toekenning vereer. Foto: Eikestadnuus

Legendes in die bedryf het ook op die glansaand die kollig gekry: die veteraan-fotograaf Bob Martin, die omroeper en akteur Nic de Jager en die sanger Terry Fortune.

Die Blou Fiësta, wat uitsonderlike prestasie vereer, is aan Jana Hattingh, feesbestuurder van die Suidoosterfees, oorhandig. Die fees het suksesvol en innoverend voortgegaan as inryteater ondanks die Covid-19-uitdagings.

*Die poet, wie's hy?, Valsrivier en Karen Zoid 20 jaar Pops is by die Toyota US Woordfees aangebied.

Meer oor:  Musiek  |  Kunstefeeste  |  Fiëstas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.