Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Dié stuk van Opperman is spesiaal vir honde-mense

Was dit nie vir sy amper twee jaar oue bostonterriër nie, sou hy hom nie kon índink hoe om jou liefde vir ’n hond in ’n verhoogstuk uit te beeld nie.

Só sê ’n natgeswete Frank Opperman Saterdag kort ná ’n opvoering van sy eenmanvertoning Hond op die Innibos Nasionale Kunstefees in Nelspruit.

Die stuk het gedebuteer op dié fees wat Woensdag begin het en Sondag eindig.

Opperman speel die rol van ’n vryskutjoernalis wie se jong vrou, Christine, ’n paar dae tevore uitgetrek het. Sy ou hond, wat lewerkanker het en nie wil eet nie en opgooi en op die vloer piepie, is sy beste vriend.

Opperman gesels met die hond en moedig hom aan om tog ’n stukkie KFC te eet wat Mr Delivery afgelewer het. Sy selfoon bly lui. Dis óf Christine wat hom “gedaan” maak, óf Huisgenoot waarvoor hy moet skryf, óf sy besorgde huiswerker, Grace, wat vir hom wil bid.

Die liefde vir ’n hond is ’n ander soort liefde.
Frank Opperman

Hy vryf oor die denkbeeldige hond, vir wie daar ’n blou hondebed en ’n waterbak op die verhoog is. Hy probeer hom met ’n skoen uitlok om te speel. “Roer die stompie-stertjie, jong. Wie het ’n ou pienk kolletjie op sy neus, jong? Ou sagte ou lyfie. Ou oupa-oortjies,” gesels hy.

“Hoekom moet ek haar terugbel? Dis verby!” bekla hy sy lot teenoor die hond.

Wanneer hy op die rekenaar begin skryf oor ’n gesin wat in ’n motor bly, vra hy: “Hoe klink dit, my honne?”

Nadat Huisgenoot bel en sê Rapport doen reeds die storie oor die gesin in die motor, word hy gevra om die volgende onderwerp aan te pak: ’n Storie oor hoe dit voel om jou hond te laat uitsit.

“Dalk moet ons die koningin van Engeland vra: How does it feel? Sy moes seker al ’n páár corgi’s in haar leeltyd laat uitsit het,” sê hy aan die hond.

Die stuk laat jou lag met ’n traan. As jy lief is vir ’n hond, sal jy jou hiermee kan identifiseer.

Opperman sê sy bostonterriër, Emma, het hom die idee vir ’n verhoogstuk gegee. “Ek bel toe vir (die skrywer) Dana Snyman en sê ons moet ’n play maak.”

Snyman en die stuk se regisseur, Gerrit Schoonhoven, het ook honde. “Toe gesels ons net hondestories,” sê Opperman.

“Die liefde vir ’n hond is ’n ander soort liefde.”

Ná vier vertonings van Hond op Innibos voel Opperman goed oor die stuk. Die terugvoering van mense wie se mening vir hom tel, gee hom ’n “lekker gemoed”.

“Ek wil dit nog ’n bietjie tweak. Dis die beauty van teater. Ons het gister (Vrydag) nog dinge aan die stuk verander. Jy kan dit tot op die nippertjie doen.”

Opperman is bekend vir sy eenmanvertonings. Sy eerste “tweemanvertoning” wil hy saam met sy negejarige dogter doen. Maar hierop moet hy haar nog voorberei, lag hy.

Die akteur Frank Opperman gesels oor sy nuutste eenmanvertoning, Hond. Foto: Nico Gous
“Oubaas se honne . . .“ Opperman in ’n toneel uit sy nuutste eenmanvertoning wat by die Innibos-fees gedebuteer het. Foto: Nico Gous
As hy nie sélf ’n hond gehad het nie, sou dit vir hom moeiliker gewees het om dié rol te vertolk. Só sê Opperman oor sy nuutste verhoogstuk waarin hy teenoor ’n denkbeeldige hond speel. Foto: Nico Gous

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.