Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Digters moet warm hartskos in McGregor gaan voorsit

Aspirantdigters wat nog nie gepubliseer het nie, moet hul gedagtes vinnig agtermekaar kry. Daar is nog net tot 10 Augustus tyd om ’n gedig neer te pen vir die vyfde jaarlikse Gedigte in McGregor-naweek wat van 25 tot 27 Augustus gehou word.

Vanjaar is daar meer as 90 aanbiedinge en die program sorg vir ’n mengelmoes van bekende, maar ook vars jong stemme.

Die tema van die kompetisie vanjaar is Poësie as hartskos. Alle inskrywings moet hierdie tema reflekteer. Daar is twee kategorieë, een vir volwassenes met ’n prysgeld van R5 000 en ’n kategorie vir leerlinge van graad 7 tot 12 waar die prys ’n iPad is.

Engelse gedigte kan ook ingeskryf word onder die tema Poetry against poverty.

Billy Kennedy, eienaar van Temenos en stigter van die Gedigte in McGregor-naweek sê in ’n mediaverklaring dat gedigte so noodsaaklik is soos vars lug.

Kela Griot is een van die stigters van die New Age Poetry Movement en is aanbieder en medestigter van Juiced Poetry Sessions. Sy tree ook by Gedigte in McGregor-naweek op.

“Iemand het eens geskryf dat baie van die geweld en sielkundige probleme in ons samelewing waarskynlik te danke is aan die gebrek aan poësie. Poësie maak gedagtes oop. Poësie is uitdagend. Dit kan ons hervorm en herskep. Dit gee ons dieper insig en bewustheid van mekaar en hoe ons almal in gees verbind is. Dit doen vir die gees wat joga vir die liggaam doen.”

Digters wat van hul werke gaan deel, sluit Ashley Dowds, Pieter Fourie, Johan Myburg, Nic de Jager, Kobus Moolman, Lungiswa Nyatyowa, Lerato Sibanda, Philip de Vos, Diana Ferrus, Lara Kirsten, Fanie Olivier, Koos van der Merwe, Mavis Vermaak, Wendy Woodward, Hermien de Vos en vele meer in. Vir ’n volledige lys van al die betrokke digters, gaan na: http://mcgregorpoetryfestival.co.za/2017-poets/

As deel van die Gedigte in McGregor-naweek, gaan die MAC-projek ook ’n spesiale skoledagprogram op Vrydag 25 Augustus aanbied. Meer as 800 leerlinge van verskeie skole in die omgewing sal die geleentheid bywoon. Die Kaapse kunstenaar Ha!Man sal saam met Joke Debaere ’n konsert van musiek, drama en gedigte aanbied. Die Afrikaanse groep Ruk! gaan ook deur die loop van die oggend optree.

Kaartjies is beskikbaar by Computicket vanaf middel Julie.

Web en sosiale media:

www.poetryinmcgregor.co.za

Inskrywings kan per e-pos gestuur word na: mcgpoets@gmail.com voor 10 Augustus 2017. Vir meer inligting en reëls gaan na www.poetryinmcgregor.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.