Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
‘Dis my Stad’ gaan groot skouspel wees
Hele gemeenskap betrek by fees se vlagskipproduksie
Daar word hard gewerk aan die drie kunswerke wat op die Vrystaat Kunstefees vertoon gaan word. Van links is Miné Kleynhans wat die windmeul ontwerp het, Alex Rinsler, vervaardiger van die hele produksie, en Corneli van den Berg, wat die projek koördineer. Foto: Lientjie Mentz

Die produksie wat die Vrystaat Kunstefees 2016 ’n onvergeetlike gebeurtenis sal maak en in elke toeskouer se geheue ingebrand sal word, is Dis my Stad/It’s my City.

Dié vlagskipproduksie dra swaar aan simboliek, maar dit is waarskynlik nie wat feesgangers lank sal onthou nie. Wat hulle wel sal onthou, is die artistieke vernuf, die konsep en die skaal van die projek.

So iets is nog nie voorheen op ’n fees in Suid-Afrika gesien nie.

Dis my Stad bestaan uit drie reuse-kreature van nagenoeg 7,5 m hoog wat tans op verskillende plekke in Bloemfontein vorm aanneem.

Op die Kovsiekampus lê ’n speelgoed-windmeul op sy maag.

Sy stert is nog in dele en sy waaier-arms halfpad gevul met kleurryke mini-waaiertjies. Wanneer die fees op 11 Julie begin, sal die struktuur op die Rooiplein op die kampus geplaas word sodat die hele gemeenskap daaraan deel kan hê.

Dit werk só: Meer as 10 000 waaiertjies met boodskappe vul uiteindelik die windmeul-arms en die stert.

Voordat die studente met vakansie gegaan het, het hulle reeds hul deel bygedra en feesgangers is ook welkom om boodskappe by te voeg, hetsy persoonlik of volgens die simboliek van die projek.

Dié simboliek verwoord Alex Rinsler, ’n Britse vervaardiger van massiewe skouspelagtige projekte en die skepper van Dis my Stad, só: “As ons ons drome neerskryf, bring dit ons ’n stappie nader aan die verwesenliking daarvan. Wanneer ons dit met mekaar deel, leer ons mekaar ken. Ek hoop verskille en gemeenplase verenig individue in die land sodanig dat hulle soos bure sal saamleef.”

Die ware skouspel begin op 16 Julie, die laaste dag van die fees, wanneer die windmeul en sy suster-kreature “lewe” kry en na ’n ontmoetingsplek beweeg – die Macufeterrein op die hoek van Markgraaff- en Elizabethstraat.

Agter elkeen van die bewegende kreature sal ’n prosessie volg met, in die geval van die windmeul-gangers, ’n groot waaier vir elkeen.

Vanaf Motheo-kollege sal optoggangers inval agter ’n lewensgrootte baba-kameelperd met oë en wimpers wat jou hart vermurwe.

En van Mapikela-plein sal ’n moederboom aangeskuifel kom, ongelooflik kunstig gemaak van goiing, materiaal en geweefde tou. Net soos dié boom een reuse-vrug dra, so sal elke optogganger ook ’n vrug omhoog hou.

In die ontmoetingsplek word die kunswerke op pirotegniese wyse aan die brand gesteek. “Nie as ’n uitbundige vuurwerkvertoning soos op Nuwejaar nie, maar as ’n vreugdevuur.

“ ’n Vuur wat ’n reinigingsproses verteenwoordig. En liefde en vrede,” het Rinsler verduidelik.

Die betrokkenes by 'Dis my stad'

* Hoofvervaardiger en konsepsualiseerder: Alex Rinsler van Brittanje;

* Vervaardiger-koördineerder: Corneli van den Berg;

* Hoofkunstenaar van die speelgoed-windmeul: Miné Kleynhans;

* Hoofkunstenaar van die baba-kameelperd: Marius van Vuuren;

* Kunstenaars van die moederboom: T’shiamo Arts and Crafts Collective (Tshegofatso Marogoa, Loki Maselwane en Itumeleng Moamogwa);
* Kunstenaar vir prosessies: Nieke Lombard.

Dis my Stad/It’s my City is die hoofprojek van die Program vir Innovasie in Kunstevorm-ontwikkeling (Piko) en word ondersteun deur die Universiteit van die Vrystaat, die Vrystaat Kunstefees, die Andrew W. Mellon-stigting en die Mangaung-munisipaliteit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.