Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
‘Ek kan nie sonder hoop leef nie’

Suid-Afrika het ver gekom, maar, “die Vader weet, ons moet tog net ons huidige regering oorleef,” sê Ruda Landman, wat vandeesweek verskeie gespreksessies op die ­Literatuurfees op die Universiteit van die Vrystaat (UV) se Bloemfontein-kampus gelei het.

Ruda Landman Vrydag in die ATKV-Eeufeesgebou op Kovsies se Bloemfontein-kampus. Foto: Emile Hendricks

“Mense wat sê nog niks het verander nie, moet hul kop laat lees,” sê Ruda.

As sy kyk na alles wat gebeur het, kan sy nie anders as om te sê nie: “We’ve come a long way, baby.

“Ons is beslis nie meer waar ons in die tagtigs was nie.”

Hoewel sy baie krities oor die huidige regering is, het sy steeds hoop vir die land.

“Ek kan nie daarsonder (hoop) lewe nie. Anders, hoe staan ’n mens op in die oggend?

“Ek kies om na die positiewe patrone te kyk. Karin Brynard (Afrikaanse skrywer) sê nou die dag, soveel mense leef in ’n staat van verontwaardigde woede.

“Wat doen jy aan jouself en aan die ander mense om die tafel of braaivleisvuur as jy die heeltyd so leef?”

Ruda het verskeie gespreksessies op die fees gelei en temas het gewissel van klimaatsverandering tot transformasie en ander politieke gesprekke.

Die ATKV-Eeufeesgebou was Dinsdagmiddag stampvol toe sy met JC van der Merwe en ­Dionne van Reenen, albei van die Instituut vir Versoening en Maatskaplike Geregtigheid aan die UV, gepraat het oor hoe getransformeer ons universiteite werklik is.

Mense wat sê nog niks het verander nie, moet hul kop laat lees.

JC en Dionne het maar wye draaie rondom Ruda se vrae geloop, maar sy het nie gehuiwer om hulle te druk vir meer duidelikheid nie.

“Wat vir my sleg was, is dat ek die gevoel gekry het die ­gehoor het nie gekom om te luister nie, maar met vooropgestelde idees, wat op die einde net bevestig is.”

Dit was veral die gesprek Born Free’s – werklik? wat Ruda geraak het, seker ook omdat sy die toneelstukke Rooivalk en Pleisters vir die dooies op die Vrystaat Kunstefees gekyk het.

“My binneste bewe,” het sy Donderdag gesê nadat sy Rooivalk gekyk het.

In albei produksies, asook die gesprek oor vrygeborenes, is die vernietigende impak wat geweldadige en afwesige pa’s op hul seuns het, aangeraak.

“ ’n Mens kan nie van die patroon wegkom nie. En dit strek oor ras en klas.

“Dié van ons wat nooit dié soort geweld of die afwesigheid van ’n vader ervaar het nie, is blêddie gelukkig.”

Ruda sê sy vind dikwels nie aanklank by komedie nie.

“Dit voel vir my te veel na marsmallows eet, so ek soek maar goed met diepte.”

Pa en I-dent-I-ties is twee ander toneelstukke wat haar geboei het.

Dit is die eerste keer dat ­Ruda in die Vrystaat kom ­feesvier het.

Dit was vir haar wonderlik en sy het Ricardo Peach, feesdirekteur, geloof.

“Hier is regtig ’n diversiteit en dis vir my besonders.”

Meer oor:  Ruda Landman  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.