Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Fees bring see, sand en son na jou voorkamer

As jy smag na ’n vakansie by die see, maar weens ’n leë beursie of die pandemie nie op die Suid-Afrikaanse kus kan uitspan nie, kan jy danksy die Wavescape-branderplankry-en-oseaan-fees die see, sand en son in jou eie voorkamer ervaar.

’n Skermgreep uit die rolprent ‘Flow State’, wat op die Wavescape-branderplankry-en-oseaan-fees vertoon gaan word. Foto: Verskaf

Die Wavescape-fees, wat vanjaar van 4 tot 12 Desember aangebied word, gaan oudergewoonte weer rolprente oor en van branderplankry, die wonders van die see, en natuurbewaring vertoon – maar dit gaan dié keer weens die pandemie gedeeltelik aanlyn plaasvind sodat meer Suid-Afrikaners dit veilig in hul huis kan ervaar.

Volgens Shani Judes, feesdirekteur, is “aanpassing” vir oënskynlike redes die tema van vanjaar se fees.

“Aanpassing (as tema) is aangespoor deur 2020, die soort jaar wat ons agter die rug het, en hoe die wêreld moes aanpas by ’n nuwe normaal – en hoe ons steeds doen,” sê sy.

“Ons seelewe en -diere moet eintlik heeltyd aanpas by oorbevolking en foute wat mense maak. Dít (die tema) huldig ons oseane.”

Die fees, wat vir die 17de keer aangebied word, is in 2004 deur ’n groep vriende begin wat almal versot op branderplankry is. Judes sê dit het begin met ’n “doek en ’n projektor” waarop rolprente dwarsoor Suid-Afrika vertoon is.

Die fees bult nou omtrent sy spiere, deels omdat dit in samewerking met die Save Our Seas-stigting, Vans, Long Beach Capital, Petco, Jack Black Beer, Wesgro en die Twee Oseane-akwarium se opvoedingstigting aangebied word.

Heelwat van die fees se aanbiedinge is net Kapenaars beskore, soos ’n inryteater in Constantia op 4 Desember; ’n buitelug-fototentoonstelling getitel Wild Seas deur die National Geographic-fotograaf Thomas Peschak op die Seepunt-promenade vanaf 5 Desember; ’n skaatsplank-kunsuitstalling deur Craig Cockcroft by The Shred in Paardeneiland, ook vanaf 5 Desember; asook ’n buitelug-rolprentvertoning in die Kirstenbosch Botaniese Tuin deur die Galileo-buitelugrolprentteater op 10 Desember.

Belangstellendes in ander dele van die land kan wel uitsien na opwindende aanlyn aanbiedinge soos gesprekke, slypskole en ’n rolprentfees op 5, 6, 12 en 13 Desember.

Talle rolprente sal aanlyn te sien wees, soos die Afrika-première van A Corner of the Earth, wat fokus op branderplankryers wat die ysige Arktiese waters aandurf; Live to Sea, oor ’n man wat die Baltiese See se uitdagendste branders baasraak; Unnur, oor ’n man wat ’n nuwe lewenspad aandurf nadat sy kajak onder ’n waterval beland en hy byna verdrink, en Forging Lines, wat die verhaal vertel van ’n groep Libanese vroue, almal branderplankryers, wat benewens groot golwe ook die patriargie en seksisme in hul tuisland moet oorkom.

Die fees se volledige program is op https://www.wavescapefestival.com/ beskikbaar. Kaartjies vir die meeste aanbiedinge kan op Quicket bespreek word. Kaartjiepryse wissel tussen gratis en R200.

Kaartjies vir enige van die rolprente wat deur die Galileo-buitelugrolprentteater aangebied word, kan op https://thegalileo.co.za/movie/wavescape/ bespreek word.

Meer oor:  National Geographic  |  Fotografie  |  Twee Oseane  |  Vans  |  Twee Oseane-Akwarium  |  Fliek  |  Flieks  |  Wesgro  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Covid  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Inperking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.