Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Fees se Jong Kunstenaars se talent aanlyn te beleef

Amper 300 uur se kunste-aanbod op vanjaar se 46ste Nasionale Kunstefees wag in die kuberruim op feesgangers. Vanjaar se vyf Standard Bank Jong Kunstenaars – al vyf toonaangewers in hul onderskeie velde – se werk kan op die hoofprogram van die fees beleef word.

Vanjaar se Standard Bank Jong Kunstenaars is van links Jefferson Tshabalala, Sisonke Xonti, Lulu Mlangeni (voor), Blessing Ngobeni en Nthato Mokgata. Foto: Nasionale Kunstefees op Makhanda

Musiek: Nthato Mokgata

Mokgata, ook bekend as Spoek Mathambo, bring hulde aan sy mentor en gereelde medewerker, die Maskandi-kunstenaar Bhekisenzo Cele, oftewel Vukazithathe.

Sy feesprojek dien as hulde aan dié vergete musiekkultuur van Afrika en is ’n poging om dit as erfenis behoue te laat bly.

Vukazithate is ’n universele verhaal van ’n ouerwordende musikant (van Zoeloe-folkmusiek) van die platteland wat sy talente probeer uitleef ongeag sy armoede. Die dokkie is oor vier jaar in vier lande verfilm en word as ’n aangrypende huldeblyk van ’n student aan sy leermeester beskryf. Die video duur ’n uur en is van 1 Julie beskikbaar.

Visuele kuns: Blessing Ngobeni

Ngobeni se tentoonstelling Chaotic Pleasure ondersoek vraagstukke rondom mag en mishandeling. Die daaglikse nuus is Ngobeni se inspirasie en deur kuns kan hy sê wat hy “dink en dit is my vryheid”, het hy in ’n onderhoud gesê.

Sedert sy eerste solotentoonstelling by die Everard Read CIRCA-galery in Johannesburg sowat vier jaar gelede, getiteld Song of Chicotte, het Ngobeni vinnig opgang gemaak in die kunswêreld. Hy is ook die wenner van die Reinhold Cassirer-kunsprys.

Sy media is onder meer collage op doek, vlekvryestaal-beeldhouwerk, asook animasie.

Ngobeni is van Limpopo.

Kykers kan na die verfilmde installasie kyk. Dit duur ongeveer 15 minute. Dit is tot 16 Julie beskikbaar.

Jazz: Sisonke Xonti

Xonti het al saam met groot jazzlegendes soos Jimmy Dludlu, Hugh Masekela en Abdullah Ibrahim, en sangers soos Judith Sephuma, Simphiwe Dana en Lira, asook groepe soos Freshlyground en Bombshelter Beast, opgetree. Hy word as een van die land se veelsydigste tenoor-saxofoonspelers beskou. Reeds van skooldae af het hy opgang gemaak en is drie keer gekies vir die Standard Bank National Schools’ Big Band en twee keer vir die Jeugorkes. Sy debuutalbum, Iyonde, het goeie resensies ontvang. Hy het opgetree op groot jazzfeeste hier en in Nigerië, China en Switserland. Tot 16 Julie.

Dans: Lulu Mlangeni

Die dokumentêre prent Lesedi: The Rise of Lulu Mlangeni belig die lewe van Lulu Mlangeni, ’n danser, choreograaf en onderwyser van Meadowlands. Sy praat hier openhartig oor haar opkoms in die plaaslike dansbedryf en hoe dans haar lewe van kleins af rig.

Sy is verbonde aan die Vuyani-dansteater in Johannesburg en was die wenner van die tweede reeks van So You Think You Can Dance, en met die derde reeks is sy as ’n choreograaf ingespan.

Die dokkie oor haar lewe is van 4 tot 16 Julie beskikbaar. Dit begin op 4 Julie om 19:00.

Teater: Jefferson Tshabalala

Gehore op die Toyota US Woordfees het vanjaar met Jefferson Tshabalala, vanjaar se wenner van die Standard Bank Jong Kunstenaar vir drama, kennis gemaak. Hy is ’n skrywer, regisseur en digter. Hy tree “lewendig” in sy vertoning J Bobs Live op as ’n soort kletsprogram-aanbieder en betrek die gehoor in sy teks, wat hy daar en dan skep rondom ’n tema. Aangesien daar net ’n virtuele gehoor teenwoordig is op die fees, gaan hy sake effens anders benader.

Dit is uitdagende teater wat tot nadenke stem, terwyl dit vermaak. Die vertoning duur ’n uur. Dit is van 5 tot 16 Julie beskikbaar.

Besoek die webblad www.nationalartsfestival.co.za. Dag-, asook weekpasse, is hier beskikbaar om die vertonings te beleef. Elke dag word nuwe vertonings gelaai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.