Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
‘Feesgangers is kurators van hul program’

Feesgangers moet self die kurators van hul feeservaring wees, sê Ashraf Johaardien, uitvoerende vervaardiger van die Nasionale Kunstefees in Makhanda (Grahamstad) wat sy tweede kunstefees saamgestel het.

Hy is die trotsste op die veelsydigheid van die program, wat verskillende kulture en tale insluit.

“Mense moet baie keuses kan maak, of hulle nou vermaak of uitgedaag wil word. Daar moet genoeg op ’n program wees dat elkeen sy eie ervaring kan saamstel.

Ashraf Johaardien

“Dit is waarom ek iets soos Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran op die hoofprogram ingesluit het. NAF (National Arts Festival) het begin as ’n viering van die Engelse taal, maar deesdae is daar soveel meer aspekte aan die fees.”

Johaardien het in 2017 Die reuk van appels op die program ingesluit, wat ook deur Engelse mense bygewoon is.

“Ek wil meer tale in die program sien. Ons dansprogram is veral sterk, juis omdat dit nie taalgebonde is nie. Ek gaan kyk partykeer stukke in ander tale, ook sonder onderskrifte, want jy het nie noodwendig nodig om die dialoog te verstaan om te sien wat daar gebeur nie. Dis nie ’n radiohoorspel nie.”

Die fees is die eerste keer in 1974 aangebied – die jaar waarin Johaardien gebore is. Dit is toe as ’n studentefees aangebied. Daar was nie ’n fees in 1975 nie, maar sedert 1976 word dit elke jaar gehou.

Sodra die fees begin momentum kry, skakel Johaardien oor na ’n ander rat. Die aftel van dae in die aanloop tot die fees begin ongeveer ’n 100 dae vooraf en Johaardien se pligte hou nader aan die tyd meer verband met die logistiek as die saamstel van die program.

“Ek het tot dusver ’n goeie fees gehad. Verlede jaar het dit gevoel asof iemand die (1820-Setlaars-) monument opgetel en op my kop laat val het. Nadat ek deur een fees is, kon ek my vanjaar beter daarop voorberei.”

Hy probeer om minstens een produksie per dag te sien.

“Die frustrasie is dat jy aan al die produksies werk. Jy werk aan die hoofprogram vir ’n hele jaar en dan kan jy nie noodwendig alles hier sien nie. En jy wil dit hier sien. Terselfdertyd moet jy soms goed misloop, want jy moet so en so ontvang of jy moet hierdie of daardie hanteer. Jy moet die netwerk en onderhandelings vir die toekoms aan die gang hou.”

Met ’n fees van dié aard, skop Johaardien se bestuurskant in maar 150% van sy hart is egter by die feesprogram.

Hy lees baie werke, en oor kunstenaars en die geskiedenis van die fees.

Dit is ook vir hom belangrik dat internasionale werke ingesluit word. “Dit moet gebalanseer word. Vanjaar is daar drie produksies met Duitse medevervaardigers. Daar is Sweedse samewerking en twee Kanadese toneelstukke. Jy moet aan jou gehoor stories van ons wêreldervaring bied.

Dit is ’n Suid-Afrikaanse fees, maar daar moet ook werk van elders aangebied word.”

Hy werk met sy instink.

“Die program is natuurlik nie net myne nie. Dis vir my lekker om met kurators te werk wat die verskillende afdelings van die fees behartig. Die mure om die verskillende genres begin vir my wegval. Teater wat die konvensionele aard van teater teenwerk is veral belangrik.”

Johaardien het produksies soos Hamlet, Jungfrau en Elegy baie geniet.

“Ek geniet die fees ook. Ek verander my persentasie tussen werk en plesier, afhangende van watter tyd van die dag dit is. Saans verander dit na 50/50, miskien selfs 60/40. Ek voel nogal sleg om soms oomblikke vir myself te steel om die fees ook te geniet.”

* Die fees duur tot Sondag.

Meer oor:  Makhanda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.