Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Feeshoofde maak só planne vir feesvier
Ricardo Peach

’n Inry-toneelteater, ’n jaar lange literatuurfees, ’n klassiekemusiekfees en selfs die Vrystaat Kunstefees se kunsmark wat aanlyn bedryf word, was aanvanklik nie eens ’n gedagte nie, maar ná ’n reeks gesprekke het dit nuwe werklikhede geword wat reeds in wording is.

Die Vrystaat Kunstefees het sy teenwoordigheid in die inperkingstyd behou deur aanlyn gesprekke te voer oor die voortbestaan van die kunste, wat volgens Ricardo Peach mettertyd so gewild geword het dat hulle van platform moes verander. Dié direkteur van die Vrystaat Kunstefees sê uit die gesprekke tussen ’n paneel kundiges en belangstellendes enige plek ter wêreld het idees opgelewer wat soos rimpelings op water al hoe wyer uitgekring het. “Wat aanvanklik vergesog geklink het, het danksy bydraes deur kenners en laterale denkers tasbare gedaantes begin aanneem.”

Die “April-aanlyn”-reeks word nou voortgesit met “Mei-menings” wat op 6 Mei begin met ’n paneel bestaande uit die hoofde van Suid-Afrika se sewe grootste kunstefeeste. Hulle is Alexa Strachan (Aardklop), Saartjie Botha (US Woordfees), Hugo Theart (Klein Karoo Nasionale Kunstefees), Andy Lubbe (Innibos), Jana Hattingh (Suidoosterfees), Peach (Vrystaat Kunstefees) en Rucera Seethal (Nasionale Kunstefees, Mkhanda). Insette uit die buiteland sal gelewer word deur Inge Ceustermans (Feesakademie, België) en Susanna Seidl-Fox (direkteur van kultuur en kunste, Salzburg Global Seminar in Oostenryk). Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi), is die fasiliteerder.

’n Hoogtepunt in die aanlyn gesprekke sal die deelname van Roy Ascott wees, ’n Brit wie se vroeë visie oor die rigting wat die kunste moet inslaan nou ons redding kan wees. Hy sal op 27 Mei van 14:00 tot 15:30 aan die gesprek oor telematiese kuns deelneem. Meer inligting oor Ascott verskyn in die kassie hierby.

Saartjie Botha

Peach sê van die genoemde projekte hier bo sal verder bespreek en ook getoets word, maar die literatuurfees en Vrystaat Klank en Klassique is reeds ’n gegewe.

Volgens hom sal van die aanbiedings vir die literatuurfees vooraf opgeneem en ander regstreeks gestroom word. Besoekers sal byvoorbeeld die geleentheid kry om persoonlik met skrywers te gesels. Die plan is om elke week literatuurfees-aanbiedings aanlyn beskikbaar te stel wat op enige apparaat, van jou selfoon tot jou TV-skerm, gevolg kan word.

Vrystaat Klank en Klassique se debuut op 1 Mei is deur die Covid-19-virussiekte in die kiem gesmoor, maar gaan in September sy buiging op ’n aanlyn platform maak. Die oorspronklike konsertprogram word behou mits die musici beskikbaar is en die Covid-19-regulasies samespel deur groepe spelers toelaat.

Die kunstenaars wat hopelik steeds sal kan optree, sluit in ’n kwintet met die Odeion-strykkwartet en die tjellis Susan Mouton, die sopraan Magdalene Minnaar, die klavierduo Nina Schumann en Luis Magalhães, ’n uitvoering deur die FSSO en ’n galakonsert deur dosente en topstudente van die Odeion Skool vir Musiek. Meer inligting sal later bekend gemaak word.

Selfs die kunsmark se stalletjie-eienaars gaan ’n plek op die Vrystaat se kuberfees kry. Eienaars kan hul produkte op ’n webwerf en sosiale media adverteer, terwyl ’n virtuele kunsmark ontwikkel word waar die vlytiges oor hul produkte kan gesels. ’n Stelsel vir verkope word ook beplan.

Van die Vrystaat Kunstefees se produksies sal ook vanjaar in die kuberruim aangebied word. ’n Besonder opwindende ontwikkeling is die inry-toneelteater wat saam met Aardklop beplan word. Volgens Peach sal musikante en akteurs in lewende lywe op ’n verhoog optree. Besoekers sal hul motors op ’n groot oop ruimte voor die verhoog parkeer waar hulle op hul eie skerms na die teaterstukke en musiekaanbiedings kan kyk. Groot skerms sal waarskynlik ook opgerig word. Indien toegelaat, sal kos bestel kan word. “Die idee is om ’n gesellige groepsgevoel en die ervaring van lewende teater te skep, al is dit dan vanuit ’n motor,” sê Peach.

Mei-menings

6 Mei – Feesfokus met Suid-Afrika se feeshoofde;

13 Mei – Teater vir jong gehore;

20 Mei – Bespreking oor poësie;

27 Mei – Telematiese kuns; en

29 Mei – Die vervaardiging van dansproduksies.

Alle besprekings geskied van 14:00 tot 15:30 op Zoom. Dit is oop vir enigeen om ’n mening te lug, voorstelle te maak of net te luister. Stuur vooraf ’n e-pos na isabel.lock@gmail.com om ’n Zoom-uitnodiging te kry.

Kassie

Prof. Roy Ascott is die eerste ontvanger van die Prix Ars Electronica Golden Nica-prys vir visioenêre pioniers in mediakuns. Sy werk is op al die belangrikste biënnales en feeste ter wêreld vertoon en is opgeneem in onder meer Londen se Tate-kunsgalery. Hy tree van Europa tot Japan, asook by Unesco, as raadgewer op vir universiteite, kunsterade, mediasentrums en feeste. In 2012 is hy as hoof van Technoetic Arts aan die DeTao Masters Academy in China aangestel, waar hy die ontwikkeling van onderrig en navorsing in kuns, wetenskap, tegnologie en bewustheid bevorder. Sedert 2017 is hy die hoofdeskundige van die Visual Arts Innovation Institute aan die Central Academy of Fine Arts in Beijing, China.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.