Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Feeskuns tot lank ná vieringe te sien
Een van Tyrone Sheather se hemelwesens wat in reaksie op mensebewegings lig en klank uitstraal. Giidanyba kan van 18 Julie op die grasperk voor Oliewenhuis in Bloemfontein besoek word.

Op die groot groen grasperk voor die imposante Oliewenhuis-kunsmuseum in Bloemfontein sal sewe vreemde wesens in die Vrystaat Kunstefeestyd waghou. Bedags sal hulle soos soutpilare staan en nie ’n ooglid roer nie.

Maar saans, wanneer nuuskieriges die figure besoek, kry hulle lewe en stroom lig en klank uit hul binneste.

Dié Giidanyba, oftewel hemelwesens, is ’n skepping deur die Australiese eerstenasie-kunstenaar Tyrone Sheather.

Hy het die geesagtige vorms van glasvesel en staal gemaak en lede van die Gumbaynggirr-volk in die Noordweste van Australië gekry om die figure onder sy leiding met oker “in te kleur”.

Wanneer besoekers voor die naggeeste beweeg, verander hulle in glansende wesens en gee só leiding aan hul volk.

Ben Botma: Terugblik

Ben Botma het as hoof van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se kunsdepartement menige student tot sy maksimum potensiaal help ontwikkel. Terselfdertyd het hy sy talent bly uitleef wat ook eens op ’n tyd op studentevlak was, soos in Terugblik gesien kan word.

Botma het vir dié uitstalling werke van verskillende media uit sy lang loopbaan gekeur, van sy studentejare tot nou.

Botma sê kuns, argitektuur, musiek en poësie is manifestasies van die mens se drome, vrese, spiritualiteit en gedagtes. In die uitstalling vind hy ’n onderliggende onderbewuste verband tussen dié kulturele manifestasies.

Terugblik sal in Oliewenhuis se hoofsaal besoek kan word.

Marieke Kruger: Carceral Spaces: Anticipating the sublime

Dié kunstenaar, ’n dosent aan die Jack Meyer-kunssentrum in die Paarl, stal grootskaalse portrettekeninge van haarself en “ander” uit. Dié “ander” is gevangenes wie se verhouding met die ruimtes om hulle ter sprake is. Dit, sê sy, skep ’n middel waardeur die sielkundige en spirituele uitwerking van die sublieme in tekeninge verken word.

Kruger doen tans navorsing vir ’n voorgestelde PhD oor die sublieme en die transformerende uitwerking daarvan op die self en ander deur kragtige grootskaalse tekeninge.

Kruger stal in Oliewenhuis se Reservoir uit.

Janna Kruger: The Elements of Incarnation I-IV

Kruger se versterkte betonbeelde, ook in die feestyd in die Reservoir te sien, werp lig op die hersenskimme wat sy lewe beïnvloed deurdat dit hy dit in tasbare bakens van herinneringe en oorlegpleging gekonsolideer het.

Kruger het in 2016 die beeldhoukategorie in die PPC Imaginarium-kompetisie gewen.

Miné Kleynhans: Propitas

Die wyse waarop dié meestersgraadstudent aan die UV met kontemporêre bemarking flankeer en idees oor verbruikersprodukte opstuur, kan in die Oliewenhuis se anneks besigtig word.

Sy weerspieël ook die mens se begeerte vir koestering, sekerheid, betekenisvolheid en bekoorlikheid.

  • Al die uitstallings is deel van die Vrystaat Kunstefees, maar duur veel langer – dit kan tot 20 Augustus besigtig word.

Besoekers wat belang stel in ’n verduideliking van die werke deur die kunstenaars self, kan die Giidanyba op 16 Julie om 17:00 besoek en die res van die uitstallings op 18 Julie vanaf 18:00. Dit is gratis.

Meer oor:  Vrystaat Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.