Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Fiëstas gehou met glans en glorie, maar sonder gehoor
Die Fiëstas word reggeskuif vir die opname van die uitsending eerskomende Sondag.Foto: Nardus Engelbrecht

Die 11de kykNET Fiëstas vind plaas met glans, glorie en hope inspirasie. Die prysaand, ’n hoogtepunt vir Afrikaanse kunstenaars en kunstefeeste, is die afgelope naweek opgeneem en word Sondag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

Dié prysaand gaan voort hoewel nét die Toyota US Woordfees verlede jaar as volwaardige kunstefees kon plaasvind – die ander feeste is die een ná die ander gekanselleer weens Covid-19-beperkings op byeenkomste, wat die kunstebedryf geplettervat het. Die feesbesture het egter gou met innoverende maniere vorendag gekom om steeds die kunste na waarderende gehore te bring en steeds ’n mate van ’n inkomste vir kunstenaars te verseker. Die Suidoosterfees is byvoorbeeld suksesvol as inryteater aangebied en die Vrystaat Kunstefees as ’n hibriede model van aanlyn vertonings en beperkte optredes. Dié innovasie en volharding van kunstenaars word beloon in die talle benoemings waaroor reeds berig is.

Ten spyte van die uitdagings het kreatiwiteit geseëvier om die uitvoerende kunste en gehore bymekaar te bring in dié spesiale Fiësta-glansgeleentheid. Al word dit nie vanjaar voor ’n gehoor aangebied nie, het die regisseur Hennie van Greunen ’n anderste aand vir kykers opgetower.

“Ek kon veel groter droom as net die Kunstekaap se verhoog – daar is nege verskillende stelle. Ek kon die vertoning met ’n verhaallyn uitbou. Die aanbieders stel hulself en wat hulle doen, bekend en dit verleen ’n trots aan ons werk as kunstenaars. Die toonaard van die aand is hoop, inspirasie en besinning. Ons bedryf sál hieruit opstaan, ons sal weer voluit kan skep, optree, sing en dans,” het Van Greunen in ’n telefoniese gesprek met Netwerk24 gesê. Vir hom was die “In Memoriam”-afdeling veral moeilik om saam te stel. “Dit was reeds ’n lang lys toe ons begin het met die produksie, dit het nóg langer geword, dit het my hart gebreek.”

Margit Meyer-Rödebeck en Hennie van Greunen op die stel van die Fiëstas-toekenningsaand. Foto: Nardus Engelbrecht

Drie mense word vir hul lewensbydrae vereer. Hulle is die akteur, rolprentmaker en radioman Nic de Jager, die sanger en akteur Terry Fortune en die fotograaf Bob Martin.

Groot name in die vermaakbedryf is vanjaar deel van die produksie: Joshua na die Reën, Antoinette Kellermann, De Klerk Oelofse, Corlea Botha, Elandré, Jemma Kahn, Anna Davel, Richard September en Charlton George, asook opkomende sterre soos die danser DfeatSA, die sanger Kyle Seconna, die aktrise en sangeres Devonecia Swartz en die jong stemme van Phoebe Maxaji, Mia Dippenaar en Wanda Jacobs. Die musikale regisseur is Melissa van der Spuy en Pedro Kruger is die medevervaardiger en mederegisseur.

Benewens prys in 12 kategorieë wat toneel, musiek, kuns en dans insluit, is daar ook vanjaar vir die eerste keer drie Sinjatuur-pryse. Dié pryse gaan aan kunstenaars wat tot nou toe uitsonderlik presteer in hul loopbane. Soos met die Blou Fiësta, die prys vir ’n uitsonderlike prestasie op die feesteprogram, word die wenners van die Sinjatuur-pryse eers die aand van die uitsending bekend gemaak.

• Skakel Sondag om 20:00 in vir die 11de kykNET Fiëstas op kykNET (DStv-kanaal 144).

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.