Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Geliefde opelugfees (tydelik) gekanselleer

Die trustees van die Maynardville-teatertrust, wat die gewilde Maynardville-opelugfees in Kaapstad aanbied, is genoop om die fees se 2020-seisoen weens ’n geldtekort te kanselleer.

Die Kaapstadse Filharmoniese Orkes in 2018 by die Maynardville-opelugfees in Wynberg, Kaapstad.Foto: Bronwyn Lloyd

Volgens Brian Heydenrych, trustee en stigter van LiquidMATCH Productions, wat die fees vervaardig, was dit nie ’n maklike besluit om te neem nie, veral omdat hy en sy span alles in die stryd gewerp het om die onvermydelike te systap.

“Dit (die kansellasie) is maar net ’n gevolg van die ekonomiese wurggreep waarin ons verstrengel is,” sê Heydenrych.

“As feesgangers en ondernemings se geldsake nie geknyp het nie, kon ons dit waag om ons uitgawes deur middel van kaartjieverkope te delg, maar dit is ’n risiko wat ons nie wou loop nie. Ons kan veral nie ons kunstenaars in gedrang stel en hulle ‘onveilig’ laat voel nie.”

Heydenrych sê die skrif was eintlik jare reeds aan die muur. Die fees is in 2018 vir die eerste keer in sy huidige formaat aangebied nadat dit die jaarlikse Shakespeare-in-the-Park-fees vervang het.

Die Shakespeare-fees, wat sedert 1956 ’n instelling in die Maynardville-park in Wynberg geword het, is deur die Kunstekaap vervaardig. Die vervaardiging van die fees is volgens Heydenrych aan LiquidMATCH Productions oorhandig toe die Kunstekaap genoop is om hul fondse liewer in hul eie teatersentrum aan te wend.

Ons soek nou maniere om die fees volhoubaar te maak sodat dit oor 60 jaar nog bestaan.
Brian Hydenrych

Die fees se naam is toe na die Maynardville-opelugfees verander en is benewens ’n Shakespeare-werk met musiek-, ballet- en komedievertonings uitgebrei. Die Kunstekaap het egter steeds tegniese en finansiële ondersteuning gebied, maar dít en feesgangers se leë beursies laat volgens Heydenrych nie meer die boeke klop nie.

“Ons soek nou maniere om die fees volhoubaar te maak sodat dit oor 60 jaar nog bestaan,” sê hy. “Wat ons nou nodig het is ’n langtermynvennoot wat ons visie oor die kunste deel. Ek wil die volgende jaar aktief gebruik om só ’n vennoot te soek.”

Hy sê die program wat vir 2020 beplan is – wat onder meer vertonings deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, die Kaapstadse Stadsballet, en ’n vertoning van Shakespeare se Hamlet sou insluit – sal op die fees se 2021-program aangebied word, mits hulle die nodige befondsing kry. Skarebefondsing is ’n moontlike finansiële bron, sê hy.

“Ek gaan elke moontlike bron oorweeg. Ek is heeltemal bewus dat Kapenaars onder finansiële druk is, maar skarebefondsing is steeds vir ons ’n opsie.

“ ’n Langtermynvennoot sal wel die eerste prys wees. As enigiemand in staat is om dié vennoot te wees en daarby glo die kunste is belangrik, moet hulle my asseblief kontak.”

Meer oor:  Feeste  |  Musiek  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.