Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Gemengde vertonings op vanjaar se Vrystaat Kunstefees

Gemengde vertonings, oftewel “blended performances”, is die aanbiedingsformaat wat die Vrystaat Kunstefees gaan toepas noudat die inperkingsregulasies weens die Covid-19-pandemie tot vlak 1 verlaag is.

Dit beteken party vertonings word voor ’n beperkte gehoor in ’n teater opgevoer en opgeneem vir stroming, terwyl ander slegs aanlyn te sien sal wees.

Vir die kunstefees, wat van 12 Oktober tot 13 November plaasvind, het die skeppers van DieSonkykers dit ’n stappie verder geneem en ’n opvoerruimte in ’n bos aan die rand van Bloemfontein gevind.

Buiten dat meer mense die drama sal kan bywoon én ’n gesonde afstand sal kan handhaaf, word dit daarna ook aanlyn beskikbaar gestel.

Dis ook nie al nie. In dié bos met sy wilgerbome is daar ook die Inibos-koffiekroeg, waar worsrolletjies verkoop word en gratis wyn ná die vertonings te kry sal wees.

Dit is boonop die ideale omgewing vir die plekspesifieke Sonkykers oor ’n groepie mense wat in ’n afgesonderde kommune na aan die natuur leef, sê Hillétje Möller Bashew. Sy en Marijda Kamper het saam Die Sonkykers geskryf en vertolk ook twee van die rolle.

Die verhaal handel oor Lukas Dannhauser, ’n wetenskaplike en stigterslid van die Sewester-sonbeweging wat glo in die fyn balans tussen die wil van die mens en die gees van die aarde.

“Die boodskap wat ons uitdra, is dat met genoeg kondisionering enigiets normaal kan voorkom, of anders gestel, die krag van rasionalisasie. Dink aan sekte- en kultusleiers wat ’n hele gemeenskap met hul redenasies aan die neus lei,” sê Bashew.

Die drama begin op ’n klimaks waarna die verhaal stukkie vir stukkie ontvou om die “sielkunde van die wêreld” bloot te lê.

Gerben Kamper vertolk die rol van Dannhauser en Bashew en Marijda is sy dogters, Lila en Olié. Om uit te vind wie die res van Dannhauser se volgelinge uitbeeld, moet mense die opvoering bywoon, sê Bashew. “Dis ’n verrassing.”

Vyf lewende opvoerings word van 30 Oktober tot 1 November aangebied.

Ander kunstefees-aanbiedings wat in ’n teater opgevoer en gestroom kan word, is die situasie-komedie Die Besoek, die kinderstuk Hans Haas se hulpmiddels en ’n eksperimentele dansopvoering, deus::ex::machina.

Laasgenoemde is geskep deur Louise Coetzer en word in diskrete ruimtes in Kaapstad opgevoer. Die lokale word met die koop van ’n kaartjie bekend gemaak.

Dat die Vrystaat Kunstefees se werke in ander dele van die land aangebied kan word, is een van die voordele van vanjaar se noodgedwonge aanlyn formaat, sê Ricardo Peach, uitvoerende hoof van die Vrystaat Kunstefees.

Die Besoek is Bartho Smit se vertaling van Der Besuch der alten Dame deur Friedrich Dürrenmatt. Die groot rolverdeling bestaan uit Stephanie Brink, Jana Coetzer, Schoeme Grobler, CW Laten, Lorenzo Dampies en ander. Walter Strydom is die regisseur.

Dit sal in Die Kinderhuis in Bloemfontein aangebied word.

Hoogtepunte onder die sowat 300 aanbiedings op die Vrystaat Kunstefees is Die voordele van eierwit met Marion Holm en Margit-Meyer Rödenbeck, Ilne Fourie in haar jongste solo-opvoering, die-skunnige-skinnery-van-Smitstraat-se-skinderaars-darem!, die verstommende video-installasie Om deur die komponis Franco Prinsloo en Sonya Rademeyer, die pryswenner-solostuk Rooilug met Jefferson J. Dirks-Korkee, DeurNIS wat net een gehoorlid toelaat, Die Sonkykers, asook verskeie dansproduksies.

Die dans van my heenkoms, een van die besonder kreatiewe aanbiedings, is gegrond op argiefmateriaal van die dansmeester Alfred Hinkel, wat 44 jaar gelede ’n inheemse dansproduksie op Ravel se Bolero geskep het. Dié werk word nou oorvertel en is in O’Kiep verfilm.

Die Vrystaat Kunstefees noem vanjaar se fees Snelstroom, wat bestaan uit Hoofstroom en Vrystroom.

Die produksies in Hoofstroom is deur ’n paneel gekeur, terwyl Vrystroom die Vrynge-produksies huisves, waar kunstenaars aan die begin van hul loopbaan of enigeen met ’n uitsonderlike produk of produksie opvoertyd en -ruimte gebied word.

• Volledige programinligting verskyn op die webwerf vrystaatkunstefees.co.za.

Meer oor:  Snelstroom  |  Vrystaat  |  Kunstefees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.