Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Goeie akteurs moet hulself prysgee
Deon Lotz en Waldemar Schultz klee die verhoog en oefen ’n paar lyne vir ’n optrede van die komedie Net ’n Chilliburger en Chips. Foto: Charné Kemp

Die meesterlike aanvoeling tussen die bekroonde akteurs Deon Lotz en Waldemar Schultz in die komedie Net ’n Chilliburger en chips asseblief! het Donderdagaand die gehoor by die Gariep Kunstefees in Kimberley behoorlik laat skater.

Die twee speel die rolle van Adriaan Burger en Bruwer Dippenaar, die vennote van Skyfies en Burgers, ’n lekker burger joint in Parow wat op die rand van bankrotskap staan.

Schultz en Lotz het ’n uur voor hul optrede oor hul werk gesels.

Volgens Schultz moet ’n verhoogakteur oorspeel sodat “die ou in die 400ste ry jou spel net so geniet soos die vrou in die eerste ry.

“Jou spel moet waarheid uitbeeld.

Deon Lotz maak ’n burger in die komedie Net ’n Chilliburger en Chips. Foto: Verskaf

“Komedie is nie maklik nie. Die ritme en tydsberekening moet in die kol wees. Dit behels goeie spanwerk, want die akteurs se woorde moet op die gepaste tyd teen mekaar bons.

“Jy moet dit net nie meer as die gehoor geniet nie . . .”

Veral as ’n uitspattige gebaar veroorsaak dat ’n pan voor die gehoor se voete beland, en die akteur nonchalant by die verhoogtrappe afklim en die pan gaan haal.

“Dramatiese emosionele stukke is uitmergelend. Jy moet alles gee in die twee of drie ure van voorbereiding en spel. Dit is ’n dag se energie.”

Die tegnieke van teater, radio, TV en rolprente verskil hemelsbreed.

“Op die rolprentstel kyk ’n kamera diep in jou oë terwyl emosie oor jou gesig speel. ’n Mens moet nogal aanpas wanneer jy van oordrewe spel in ’n teaterstuk moet oorskakel na subtiele spel voor die kamera.”

Lotz sê intense stukke, soos Die nag van legio, verg baie van die akteur.

“Wanneer as jy ’n curtain call kry, en die gehoor staan op, sê hulle dit is ’n job well done. Dit is waardering en erkenning. Dit is veral bevredigend as teatergangers hulle in die beelde inleef; as my spel iets aan iemand se wese kan verander. Jy moet die persona van die karakter oorneem.

“Ná ’n opvoering van Shepherds and Butchers het ’n rolprentganger aan my geskryf dat hy sy pa, wat ook ’n hoof van ’n tronk was, beter verstaan. Die man kon uiteindelik met sy pa vrede maak. Dit gee ’n mens hoendervleis.”

Volgens Lotz is ’n akteur net so goed soos sy laaste rol.

“Toneelspel is selfverryking en nie selfverheerliking nie.”

Schultz sê daar is wel mense in die bedryf “wie se ego met ’n hoofletter “E” gespel word.

“Ek sê vir dramastudente dat jy nooit ’n goeie akteur sal wees as jy nie jouself prysgee nie. Kyk hoe lelik het Charlize Theron haarself in Monster gemaak. Nie elke aktrise sal dit doen nie.

“Tog moet jy ’n gesonde ego hê om in die bedryf te oorleef. Daar is baie teleurstelling, verwerping en deure wat in jou gesig toeslaan as jy nie oudisies slaag nie. Dit kan tot drie keer per week gebeur.

“Jy moet sterk staan, en steeds in jouself glo. Jy moet veelsydig probeer wees en stukke skryf, vervaardig of regisseer.

“Die jonger (gesinlose) toetreders is baie waaghalsig en maak hul eie rolprente en korporatiewe produksies. Hulle skep hul eie werk.”

Gelukkig word etlike buitelandse produksies danksy die swak rand in Suid-Afrika gemaak, wat heelwat werk vir rolprentspanne skep.

Meer oor:  Deon Lotz  |  Komedie  |  Verhoogstuk  |  Teater  |  Akteurs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.