Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Feeste
Grahamstad trek skoon baadjie vir kunstefees aan
Die St. Michael-katedraal in die middel van die dorp.

Die 44ste Grahamstad Nasionale Kunstefees begin Donderdag en die inwoners van Grahamstad is volstoom besig om die dorp gereed te kry.

“Ons is bemoedig deur sakeondernemings, toegewyde regeringsamptenare en energieke inwoners wat proaktief betrokke geraak het om van Grahamstad ’n dorp te maak waarop almal trots kan wees,” se Tony Lankester, uitvoerende bestuurder van die kunstefees.

“Voorfees-aktiwiteite is reeds aan die gang en besoekers sal deur ’n skoon en gasvrye dorp begroet word.”

Strate is skoongemaak en slaggate in die paaie is herstel as deel van ’n skoonmaakveldtog deur ’n plaaslike skool.

’n Veiling wat op die dorp gehou is om geld in te samel vir die Makana Revive-inisiatief wat deur inwoners gelei word om die dorp te rehabiliteer, het R500 000 opgelewer wat gehelp het om ’n gedeelte van die koste van die herstel- en skoonmaakwerk te dek.

Vrywilligers en werkers maak die sinkgate reg in die dorp.

Richard Gaybba, woordvoerder van Makana Revive en voorsitter van die Grahamstad Sakeforum, sê die instroming van skenkings en die oopmaak van die kanale tussen sakeondernemings en die regering het ook bygedra tot inwoners se bereidwilligheid om groter projekte aan te pak soos vir padwerke en om uitgediende water- en rioolinfrastruktuur te vervang.

Spanne is ook hard aan die werk om eilande en straathoeke mooi te maak. Padaanwysings word geverf en stukkende straatligte herstel.

Leerlinge is besig met skoonmaak- en tuinwerk in en om hul skole. St. Andrew’s College het gehelp om plaveisel op sypaadjies langs Worcester- en Somerset-straat te lê.

Die Grahamstad Sakeforum werk met informele parkeerwagte saam om ’n veilige omgewing vir almal te skep.

“Dis nie net ’n nuwe baadjie vir fees nie. Die dorp het verskeie uitdagings, maar die inwoners en sakeondernemings het besluit om dit te takel. Daar is ’n goeie energie op ons dorp,” sê Lankester.

Besoekers word versoek om by die waterbeperking van 60 liter per persoon per dag te hou.

Die Grahamstad Nasionale Kunstefees vind vanjaar van 28 Junie tot 8 Julie plaas.

Meer oor:  Nasionale Kunstefees  |  Grahamstad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.